Saterdag 05 Desember 2015

LANK LEWE DIE TAMBOERYNMAN

A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on





LANK LEWE DIE TAMBOERYNMAN
 
Totius het dit in die vorige eeu gedoen met die Psalms. 
TT Cloete kon hom dit nadoen vir ‘n nuwe generasie met die Liedboek van die kerk. Nou doen Koos van der Merwe dit met Leonard Cohen en Bob Dylan se legendariese woorde en musiek: hy “omdig” en “hersing” hul psalm-treffers in poëtiese Afrikaans en outentieke musiekklanke. 

Twee jaar gelede vra ek in Kerkbode; Leonard van der Merwe of Koos Cohen?  Met sy nuutste projek, Tamboerynman, is dit beslis nie Koos Dylan of Bob van der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van der Merwe wat op ‘n meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk in aanGRYPende Afrikaans. 

Natuurlik ken jy Dylan se “Mr Tambourine Man,” maar nie met soveel vreugde soos wat dit hier  “Tamboerynman” word nie. In die tweede vers is die woorde: “Ek wens vir jou betowering.”  Dít kry hierdie projek reg – dit betower en oorrompel jou om óf opnuut óf vir die eerste maal Bob Dylan te waardeer as digter en profeet.

Die bekendste treffers van die Dylan-oeuvre neem jou terug na die Sestigerjare van opstand en protes. Dit dóén iets aan ‘n mens om vanuit “Blowin’ in the wind” in Afrikaans die dringende vraag te hoor: “Hoeveel keer moet kanonkoeëls nog vlieg, voor iemand dit vir ewig verban?”

Koos se stem is ryk, diep en soms teer. Matthys Maree oortref homself met die verwerkings. Hierdie kombinasie skep opnuut ‘n meesterwerk.

Die titelsnit en “The times they are a-changin’” is verwerk deur kitaar-ghoeroe Juan Oosthuizen. Dié destydse “volkslied van verset en verandering” tref hard en diep 52 jaar na Dylan dit in 1963 vrygestel het. 

Die sewentigs en tagtigs word ook goed verteenwoordig op die cd. Veral van belang vir gelowiges is die lied “Ek glo in U” wat in 1979 verskyn het op Dylan se “Slow Train Coming,” kort na sy bekering. “Ek glo in U deur die trane en deur die blydskap,” bely hy sy geloof. 

Die enigste negentiger lied is “Make you feel my love,” die lied waarmee Elvis Blue aanvanklik die Idols beoordelaars uitgeboul het. Met die luister na “Dat jy my liefde voel” besef mens dat Dylan-liefdesliedere in ‘n klas van hul eie is. Koos se interpretasies en die kommersiële sukses van die Cohen-projek, inspireer hopelik die industrie om meer diepgaande, kwaliteit skeppinge te omarm en te bemark. 

Waar ek met die Cohen-produksie gekla het oor die afwesigheid van die lied-tekste, is geen koste ontsien met Tamboerynman nie. Die kunsvolle bladuitleg en lirieke asook die talle kunstenaars wat 15 strykers insluit, getuig hiervan. Die verantwoordelikheid om aan Dylan reg te laat geskied in Afrikaans, is ooglopend met erns en eerbied aangepak.

Vir die haters en kritici wat “die hemele behoed ons” gegil het toe die projek aangekondig is: as Robert Allen Zimmerman, (24 Mei, 1941 - ) Afrikaans kon verstaan, sou hy trots gewees het. Lank lewe die Tamboerynman!

Francois Mulder is predikant in Blanco NG Kerk, George

A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


Antwoord op Riaan Grobler se resensie van Koos van der Merwe se "Tamboerynman"

59 minute van onafgewaterde kuns deur Koos van der Merwe

Dis met ‘n gevoel van ontnugtering  wat ek dikwels raaklees hoe maklik resensente kreatiewe werk kan verguis op grond van hul subjektiewe voorkeure en vooroordele.

Riaan Grobler se resensie van Koos van der Merwe se lofgedig aan Bob Dylan getiteld “Tamboerynman”, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Nes Anton Goosen, het hy kategories besluit “Leonard Cohen en Bob Dylan in Afrikaans” is ontoelaatbaar en heiligskennis. Ek vermoed Grobler het sy vooroordele reeds omarm voordat hy reggeskuif het om te luister en daarna te skryf oor hierdie projek. Ek glo hy sou die presiese artikel kon skryf sonder om die cd te luister en die teks te lees.

As selfaangestelde expert het hy klaar besluit: ”Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige.”

Ek verskil 100% met Grobler se bogenoemde stelling! Koos van der Merwe het die “onmoontlike” vermag deur die Dylan-psige in Afrikaans te ontsluit. Ek beleef sy Cohen- en Dylan-projekte as uiters geslaagde pogings om hierdie ikone te laat grondvat in Afrikaans. Sy respek vir Cohen en Dylan is deurgaans duidelik. Die vertalings is veel eerder poëtiese omdigtings, geen woord-vir-woord dwinglandy nie.

Natuurlik is daar te veel resepmatige Afrikaanse musiek. As Dylan-aanhanger - wat AL SY CD’s besit - is ek óók moeg vir vertaalde populêre Duitse melodieë wat skaamteloos gekaap word en nuwe middelmatige skeppings word ter wille van die almagtige Mammon. Juis daarom salueer ek elke ware Afrikaanse digter en komponis uit die verlede en hede. Om Koos van der Merwe egter te brandmerk as deel van die kitskos-musiek-mark, is ‘n totale mistasting! Sy 2009 solo cd ”Ter wille van die opdaag” is deur Koos Kombuis geloof! Kyk verder na sy katalogus oorspronklike, satiriese, bytende Afrikaanse skeppinge as deel van die sanggroep Prophet op cd’s soos “Ban Hom uit die Sinagoge”, “Paradysplagiaat”, “Heilige Koeie”, “Plastiek-kansels” en “Broos onder die blou son.”

Die kommersiële sukses van die Cohen- en Dylan-projekte, inspireer hopelik die industrie om nog meer diepgaande, kwaliteit skeppinge te omarm en te bemark.

Oor “Leonard Cohen in Afrikaans” het ek in ‘n 2013 Kerkbode artikel geskryf: “Dis Leonard Cohen wat kom kuier voor jou kaggel en sing in jou hartstaal: Afri-Kaans!”

Met die aankondiging van die Dylan-projek, het ek gewonder of Van der Merwe se stem dieselfde impak sou hê as met die Cohen-projek.  Elke Dylan-aanhanger weet tog dat niemand hom kan namaak nie. Gelukkig is “Tamboerynman” nie Koos Dylan of Bob van der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van der Merwe wat op 'n meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk in aangrypende Afrikaans. Dis ‘n briljante produksie wat Bob Dylan opreg en diepsinnig eer.

In my resensie van hierdie cd in die Kerkbode van 5 Junie 2015, vergelyk ek Van der Merwe as volg met Totius en TT Cloete:

“Totius het dit in die vorige eeu gedoen met die Psalms. TT Cloete kon hom dit nadoen met sy psalmberyming vir 'n nuwe generasie in die Liedboek van die kerk. Nou doen Koos van der Merwe dit met Leonard Cohen en Bob Dylan se legendariese woorde en musiek: hy "omdig" en "herdig" hulle psalm-treffers in poëtiese Afrikaans en outentieke musiekklanke.”

Waar ek met die Cohen-produksie gekla het oor die afwesigheid van die lied-tekste, is geen koste ontsien met Tamboerynman nie. Die kunsvolle bladuitleg en lirieke asook die talle kunstenaars wat 15 strykers insluit, getuig hiervan. Die verantwoordelikheid om aan Dylan reg te laat geskied in Afrikaans, is ooglopend met erns en eerbied aangepak. Vir die haters en kritici wat “die hemele behoed ons” gil: as Robert Allen Zimmerman,
(24 Mei, 1941 - ) Afrikaans kon verstaan, sou hy trots gewees het op hierdie produk.

Bob Dylan is een van die grootste kunstenaars ooit. Dankie Koos van der Merwe vir 59 minute van onafgewaterde kuns wat Dylan aan ‘n nuwe gehoor bekendstel. Dit sal jammer wees as die vooropgestelde vooroordele van sommige keer dat hierdie fenomenale “liefdeswerk” nog meer harte oorrompel.

Lank lewe die Tamboerynman!

Francois Mulder
0826764275



Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige
Dylan laat hom nie sommer vertaal nie
Deur Riaan Grobler Vrydag 17 Julie 2015 04:00

Op 21 Januarie 1968 het Jimi Hendrix begin om sy weergawe van Bob Dylan se “All Along the Watchtower” in Londen op te neem. Dit was ’n lang proses wat tot Augustus van daardie jaar geduur het, hoofsaaklik omdat Hendrix keer op keer ontevrede was met verskeie aspekte van die opname.
Die resultaat sou uiteindelik ’n ikoniese cover wees, meer suksesvol as Dylan se eie weergawe op die trefferlyste.
Dylan self was vol lof vir Hendrix. “Dit het my oorweldig,” het hy gesê. “Hy het goed in die lied raakgesien en ontwikkel wat ander mense nie kon raaksien nie.”
Hendrix het reggekry wat min ander kunstenaars kon: om Dylan se grootsheid te oortref. En wat ’n grootse kunstenaar is Dylan nie!
Ek was dus skepties toe ek Tamboerynman, Koos van der Merwe se album met Afrikaanse vertalings van Dylan se liedjies, kry.
Om Dylan se werk te vertaal en op te neem, is ’n enorme uitdaging.
Eerstens is Dylan se komplekse, ontoeganklike lirieke so te sê onvertaalbaar. Dylan se binnerym alleen het ’n dinamika van sy eie. Sy lirieke is dubbelsinnig. Die perfeksionistiese Dylan het elke woord met rede gekies. Trouens, vir Dylan is sy lirieke die belangrikste van alles.
Tweedens moet ’n mens musikaal reg laat geskied aan iemand soos Dylan. Hendrix kon dit regkry. Daar was ander kunstenaars ook wat ikoniese weergawes van Dylan se werk kon lewer. Dink maar aan Guns N’ Roses se unieke “Knockin’ on Heaven’s Door” en Eddie Vedder van Pearl Jam se meesterlike weergawe van “Masters of War”.
Laastens moet ’n mens ook wonder oor die sinvolheid van so ’n projek. Is dit nodig om Dylan in Afrikaans te hoor? Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die gehoor op wie dié projek gemik is, nié van Dylan weet nie en ook nie sy lirieke in Engels sal verstaan nie.
Wat ook al Van der Merwe se beweegrede, dit is met die eerste luister duidelik dat Tamboerynman nie gemaak is om grense te verskuif nie. Die Dylan-klank (aanvanklik die rou akoestiese kitaar en bekfluitjie, later die growwe rock-klanke) maak plek vir ligte, generiese pop. ’n Gevestigde en gewilde klank. ’n Resep wat werk.
Daarom sal Tamboerynman waarskynlik tot ’n bepaalde gehoor spreek. Maar van ’n Hendrix of Vedder is daar nie veel sprake nie, al het Van der Merwe virtuose soos die kitaarspeler Mauritz Lotz tot sy beskikking gehad.
’n Ander uitdaging was sekerlik die liedkeuses. Met die korpus werk wat Dylan oor dekades heen gelewer het, is dit haas onmoontlik om te kies!
Van der Merwe het egter goed gekies en die liedjies op Tamboerynman is taamlik verteenwoordigend van Dylan se vele fases en metamorfoses: die protesliedjies (“Verlore in die wind”), die surrealistiese droomliedjies (“Tamboerynman”, “Orals om die wagtoring”) en selfs Dylan se kortstondige geloofsfase (“Ek glo in U”).
Die grootste vraag is egter of die vertalings geslaagd is. Want hier gaan dit nie net oor taalkundige aspekte nie, maar ook (en veral) die emosionele.
Vir geharde Dylan-aanhangers is sy woorde heilig. Soos gebede kan hulle sy digkuns woord vir woord resiteer.
En hoewel die “makliker” Dylan-liedjies redelik akkuraat vertaal is (soos “Dat jy my liefde voel” en “Hy was ’n vriend van my”), is dit by die meer komplekse werke waar dinge lelik begin skeefloop. “Orals om die wagtoring” en “Skuiling teen die storm” is voorbeelde hiervan. En dit is nie noodwendig weens taalkundige onbeholpenheid nie, dis omdat jy dié soort lied net eenvoudig nie kán vertaal nie. Dis deel van ’n Dylan-woordeskat en -psige waarvoor daar nie woorde in Afrikaans is nie. En dít is waar Tamboerynman die verste tekort skiet.
Een van die lekkerste stories oor Dylan is toe hy in die 1960’s sy bekfluitjie en akoestiese kitaar geruil het vir elektriese instrumente. “Judas!” het ’n konsertganger in Londen hom toegesnou. “You’re a liar,” het Dylan in die mikrofoon teruggekoggel, omgedraai en aan die band gesê: “Play it f*cking loud!”
Tamboerynman is egter nie ’n album wat verdien om kliphard gespeel te word nie omdat Van der Merwe uiteindelik nie daarin slaag om enigiets uitsonderliks met Dylan se liedere te doen nie.

 

Woensdag 03 Junie 2015

HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MENS TE ONTMOET



* ongeredigeerde weergawe van 'n 2014 Kerkbode artikel

HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MENS TE ONTMOET




Op pad na ‘n boekbekendstelling het FRANCOIS MULDER se pad gekruis met dié van ‘n vriendelike vreemdeling – en hom laat dink oor Christenskap en verhoudinge. Hy vertel sy storie.


Dit is Sondag na kerk en ons gesin van vyf is in ons “made-in-China”-motor op pad Mall toe. Tiener-ouer-skermutselings wissel tennis-vinnig tussen lag en berispe.                                                                       
Dit is tyd vir ‘n speletjie soos toe ons in 2010 vir tien kilometer in Frankryk se platteland ‘n karre tel kompetisie gehou het tussen Peugeot, Citroën, Volkswagen en die uiteindelike wenner met 59: Renault.

Die blou kombi voor ons met die CZ nommerplaat laat my skielik wonder: Waarvandaan is CZ? En toe die speletjie – wie kan eerste regraai? Knysna? Nee, dis CX. Oudtshoorn? Nee, dis CG. Wat’s Kaapstad nou weer? CA! En Mosselbaai? CBS! Nou wat’s CZ dan? Nie een van ons weet nie. Zastron? Nee, Vrystaat. Nou’s dit ek en my beter helfte wat flinkdink ping-pong speel: Kroonstad is ... OM! En Bethlehem ... OA. Bloemfontein ... OB. Maar dis ou Suid-Afrika nommerplate daai – net die Kaap en KZN het nog stad en dorp nommerplate. Is dit nie dalk Zeerust nie?

Ek laai die familie by die Mall af, die CZ-episode vergete totdat ek in die parkeerterrein in die hoek van my oog die blou kombi sien. Impulsief stop ek sommer in die middel van die pad en beduie vir die bestuurder dat ek wil gesels. Hy sluit die kombi en nuuskierig-voorbarig vra ek:

“Our family was wondering what CZ stands for on your number plate.”

“Oh, it’s Beaufort-West.”

“Really! Have you heard of the Afrikaans singer Gert Vlok Nel and the song that made him famous - Die beautiful woorde van Beaufort-Wes?”

“No, it’s on the N2.”

“Can I take a picture of you and the combi to show my family?”

“Yes of course!” Ek gryp my kamera en zoom in vanaf my bestuurder sitplek deur die voorste passier venster en “piep-piep ... kliek.”

Skielik voel-voel ek vir my selfoon, maar dis weg. Tipies verstrooide professor, of my nuwe vriend het dit sopas deur die oop venster ongemerk gesteel. Ek voel skaam oor my laaste gedagte, maar “my selfoon” roep dit in my kop, byna soos Gollum oor sy “precious” ring se verlies in Lord of the Rings.

“I’ll phone it for you, what’s the number?” Sal hy my selfoon bel as dit intussen in sy broeksak wegkruip? “082…” Ek klim uit die kar, maak van die deure oop en voel oral. Skielik hoor ek my ringtone, Bruce Cockburn se vrolike “dankbaar die aarde leef nog” lied Wondering where the Lions are. Waar? Onder die voorste passasier sitplek.

“Thank you so much! What’s your name?”

“Taelo, my surname is Taelo.”

“And your name? Do you have WhatsApp?”

“No, my phone is too old.”

“I’ll MMS the picture for you – I’ll save your number – it’s on my missed call list. And your name?

“Lehloka.”

“How do you spell that?”

“L E H L O K A.”

“Like this?”

“Perfect! And your name?”

“Francois Mulder.”

“My former boss’ name was Francois.”

“It’s great to meet you Lehloka! I’m a pastor at a Church here in George.”

“Oh, I embrace Islam.”

“I can see,” en ek beduie na sy kop.

Ons waai vir mekaar met leë beloftes van mekaar opsoek in George en/of Beaufort-Wes.

En ek’s alweer oppad ... effens ryker, want ek’t ‘n glimlaggende CZ-mens ontmoet. Ene wat beslis langs die N1 of N2 sou gestop het om my te help met ‘n pap band.

Ja, in geloof verskil ons hemelsbreed en sal waarskynlik nooit daaroor saamstem nie. Maar in menswees deel ons so baie – beide geskep deur dieselfde SkepperGod.

Mooi loop mnr Taelo, dit was goed...

En by die boekbekendstelling van dr Marius Potgieter se “Die Huis van die Here in die 21ste eeu” ‘n halfuur later verklaar hy: “Die Kerk is nie ‘n organisasie nie maar ‘n gemeenskap wat bestaan ter wille van verhoudinge: #1 met die Here, #2 met die Wêreld en dan eers #3 met Mekaar.

Later dink ek weer oor Lehloka se stelling: “I embrace Islam.” “Embrace” ek die Christendom? Nee, ek omhels Jesus Christus. Of eerder, Hy omhels my!

Dis Jefferson Bethke wat die Youtube-wêreld oorrompel het met sy video: “Why I hate religion, but love Jesus.”

Bill Hybels se “Aansteeklike Christenskap” kursus tref ook ‘n onderskeid tussen “Godsdiens” en “Christenskap.” Godsdiens is al die dinge wat jy moet “DOEN” om God tevrede te stel. Christenskap is “GEDOEN” want Jesus Christus het alles klaar gedoen wat nodig is vir jou om in ‘n verhouding met God te staan. Christenskap is ‘n verhouding.

Mag my lewe wys dat ek nie die Christendom omhels as godsdiens nie, maar deur Jesus Christus omhels word en in ‘n lewende verhouding met Hom staan.


Ps. Hierdie artikel het ek eers getitel as “HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MOSLEM TE ONTMOET”, maar vanoggend toe tref dit my: ek het nie gister ‘n Moslem ontmoet nie, ek’t ‘n Godgeskape MENS ontmoet!

TERAPIE BY DIE GROOT SIELKUNDIGE



* Hierdie is die langer, ongeredigeerde weergawe van my 16 Oktober 2014 Kerkbode artikel "Bono, U2 en terapie by die Groot Sielkundige."

TERAPIE BY DIE GROOT SIELKUNDIGE




Die Ierse rockgroep U2 doen dit toe wéér: Hulle verstom die musiekwêreld deur hulle 13de album verniet aan 500 miljoen mense weg te gee! Met die hulp van Apple se iTunes word dit die grootste verspreiding van ’n album in die geskiedenis.

Die digter William Blake se bundel “Songs of Innocence and of Experience” voorsien die album-titel van die Ierse rockgroep U2 se 13e album "Songs of Innocence." Later in 2015 volg ‘n beloofde "Songs of Experience.”


Bono en kie neem ons op 'n musikale reis terug na die vroeë sewentigs van hul vormingsjare in Dublin. Dis ‘n brose, siels-ontblotende reis vóór hul rykdom (150 miljoen plus albumverkope) en roem (22 Grammy toekennings). Ons is 'n vlieg teen die muur terwyl Paul Hewson (Bono) sy hart teenoor almal wat wil luister en die Groot Sielkundige, Jesus Christus uitstort.

Bono ‘n Christen? Hoor sy geloofsbelydenis in ‘n 2005 onderhoud met Michka Assayas: “The point of the death of Christ is that Christ took on the sins of the world, so that what we put out did not come back to us, and that our sinful nature does not reap the obvious death…I'm holding out that Jesus took my sins onto the Cross, because I know who I am, and I hope I don't have to depend on my own religiosity.”

Songs of Innocence

Met kenmerkende eggo-kitare, polsende baskitaar, marsjerende dromme en passievolle stemme beleef ons liedere van onskuld met die opwinding van jeugdige ontdekkings, maar ook klaagliedere van verlore onskuld. In die eerste lied, "The Miracle" beleef ons die opwinding van die jong U2 se kennismaking met die musiek van die Ramones.


"Every Breaking Wave" word 'n huweliks-terapie sessie in 'n era van te maklik tou opgooi. "Are we so helpless against the tide?" vra Bono aan sy eggenoot van 32 jaar, Alison Hewson. En dan sy liefdesverklaring: "You know where my heart is, the same place that yours has been…”


Ons reis saam met Bono, The Edge, Adam Clayton en Larry Mullen jr vir die eerste maal na die opwindende "California" waar drome maklik begrawe word in die spieël van self-twyfel. Maar wat die jong dromers laat vasbyt is die wete "There is no end to LOVE!"

"Song for Someone" is 'n Psalm met biegwoorde wat diep tref: "I'm a long way from your Hill of Calvary and I'm a long way from where I was and where I need to be.”

In "IRIS (hold me close)” beleef ons die 14 jarige Bono se pyn nadat sy ma by sy Oupa se begrafnis sterf: "The ache in my heart is so much a part of who I am, I've got your life in me" sing hy in 'n besondere huldeblyk aan haar.


"Raised by Wolves" vertel die verskriklike verhaal van wat 'n paar blokke van Bono se huis op 17 Mei 1974 gebeur het: 33 mense sterf toe drie karbomme afgaan in Dublin.

Vanaf die bomtoneel stap ons saam in “Cedarwoord Road,” die “warzone” waar Bono groot geword het. Dié straat het hom geleer: "A heart that is broken is a heart that is open."

Die ontstellende “Sleep Like a Baby Tonight” is alles behalwe ‘n wiegeliedjie! Dis die verhaal van ‘n pedofiel-priester wat net vrede ervaar in sy drome: “In your dreams, everything is alright, tomorrow dawns like a suicide.” Die uitnodiging tot ‘n nuwe lewe kom alleenlik vir hul wat die leuens van die nag verruil vir die daglig van waarheid: “Where there’s no daylight, there’s no healing.”

Die elf liedere op hierdie album maak ons deel van U2 se lewensreis deur saam terug te kyk om met groter dankbaarheid en vasberadenheid vórentoe te leef. Bono sluit sy opstel in die album-notas só af:

“We can spend our whole lives searching for cohesion, and in not finding it, turn the world into the shape of our disappointment. Or not. There is no end to grief… that’s how I know there is no end to love.”