Donderdag 02 Maart 2017

HOEKOM IS EK / BLY EK 'N DOMINEE?



2009-10-03 gepubliseer in BY (Beeld & Burger)
 


’n Paar jaar gelede sien ek per ongeluk Casper de Vries op kykNET met sy histeriese dog pynlike lied “Dom, Dom, Dominee”.

Ek bewonder die slim woordspel en alliterasie, asook die aansteeklike wysie, totdat die dolksteek my tref: Ék is ’n dominee!

Hopelik nie dom nie. Beslis nie ’n VVV (vreemde voorskrywende voorwerp) nie. Dalk hopelik eerder ’n vriend, vertroueling, vertrooster en verteller van God se verhaal.

Terwyl ek hier skryf op ’n heerlike gesinsvakansie aan die Weskus, sing Stef Bos uit sy kinderjare in die liedjie “Pepermunt”: “As die preek jou gaan verveel, as jy nie meer kan luister nie, peperment!”

Dan sing hy later in sy lied “Ik heb je lief” hy “voel die kanker van sinisme” – ’n kanker wat die meeste Afrikaners en Afrikaanses sedert 2 Februarie 1990 stadig maar seker geïnfekteer het.

Die dominees het vir ons gelieg! Hulle het die politici bewapen met handgranaat-teksverse wat vernietig en verdeel het!

Geen wonder ons dominee-spesie is sedertdien voëlvry verklaar nie – met die jagseisoen sommer die hele jaar en nie net Sondae ná kerk nie.

Rian van Heerden het die afgelope Saterdag in sy rubriek in By gespot met ’n opskrif van sewe letters: D.O.M.I.N.E.E.

En Sondag se Rapport-voorblad het weer ’n “agterblad”-storie oor ’n D.O.M.I.N.E.E. En toe die vrou by Darling se boekwinkeltjie my vra: “From where are you, and what do you do?”, huiwer ek ’n oomblik.

Hoekom bly ek ’n dominee? Hoekom is ek bereid om dag ná dag te voel hoe die donshael uit my koerant se rubriek- en brief-lope tref? Want ek kan nie anders nie! Dit is my roeping, my destiny, my lotsbestemming (volgens ’n ou verklarende woordeboek), maar veral ook my passie!

Ek het in Desember 1983 as tienjarige ’n roeping ervaar. Dit was ’n seevakansie, en die trompetspelende ds. Komati van Jeffreysbaai was God se “trompetter” in my lewe.

En nou, 26 jaar later, brand daardie roepingsvlam helderder as ooit.

In plaas daarvan om deesdae soos Elia (1 Konings 19: 3-16) onder die besembos te “arme ek, die mense en die media hou nie van my en my soort nie”, het die engel soos met Elia ook vir my kom sê: “Slaap, eet, kom nou daaroor – daar’s werk! Gaan na jou buurt, leef, vertel en wees die hande van Christus! Bou huise, luister na seën-stories, vier fees, lag saam, huil saam! Voed die Valley-kids sodat die gom selfs vir hulle begin sleg ruik.”

Daar is dominees wat soms kla oor “stank vir dank” en dan later in die “gewone lewe” elke dag hul seëninge tel, bevry van die vergrootglaslewe in die pastorie-van-glas. Maar honderde dominees sal oor nog ’n “dominee-skandaal”-opskrif twee dinge saam wou sê:

1. Ons is nie almal so nie (à la Jeanne Goosen); en
2. “There am I, but for the grace of God!”

Ek ken soveel kollegas vol van passie, liefde, integriteit en normale menswees. Maar natuurlik is daar, soos in die politiek en elders, huursoldate of, in ’n bekende professor se woorde, Coke-adverteerders wat in die geheim Pepsi drink.

Hulle wat dominee-wees as ’n beroep eerder as ’n roeping sien. Wat betaal word om te glo en die skyn voor te hou, wat ’n salaris ontvang vir die opoffering van “voorgee”. Deur God se goedheid alleen kan ek prewel: “Ek glo, wees my ongeloof genadig, Here!”

Ek glo genuine daar is ’n Skepper-God wat ’n vleeskleed (’n vorige kollega se term) aangetrek het en alles heilig kom maak het. Want die God-Mens Jesus het geëet, gedrink, gelag, gedans, gepreek en gehuil. Hy het onvoorwaardelik liefgehad. Elke faset van menswees het Hy in Sy DNS ervaar.

Oor hierdie God-Mens glo ek onwrikbaar dat Hy as die enigste volmaakte en werklik onskuldige vermoor is in my en jou plek. Ook glo ek die onmoontlike: dat Hy die dood vir my ont-angel het.

Ja, in ’n gesekulariseerde land van godsdiensvryheid gun ek elkeen sy of haar mening oor God en Jesus. Tog weet ek ook dat my geloof staan in die tradisie en oorlewering van intellektuele reuse soos Paulus, Athanasius, Martin Luther, Johannes Calvyn, C.S. Lewis en G.K. Chesterton.

Ook in ons eie land is mense soos dr. Louw Alberts, prof. Jan van der Watt en vele ander.

Ja, dominees is feilbare mense van vlees en bloed. Ja, ons bloei en huil en droom ook. As ek maar net in die voetspore van ’n doodgewone dominee soos my oupa Frikkie Kelber (1910-1990) kan loop.

Om as kind van my tyd die pad te loop met verskeie foute en flaters reeds op my kerfstok, maar voluit verbind aan Paulus se oproep aan ’n jong dominee in 1 Timoteus 6: 11b: “Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

Ja, Rian, ek wil ’n “goeie, eerlike, nie-swygend-voor-onreg- en herder-van-hoop-dominee” wees. Maar bowenal wil ek ’n méns wees in die voetspore van Jesus.

Ek het die volgende lied geskryf:   

Priesters, predikante en pastore 

priesters, predikante en pastore 
bo-op kansels en in lessenaarkantore 
in ’n shack en onder koue wilgerbome   

Koor:          geroep, gestuur, geseën – om die liefde van God te reën   

priesters, predikante en pastore 
vlees en bloed met menswees tussen die ore 
gelyk met jou in die Golgota-spore   

Koor:          geroep, gestuur, geseën – om die liefde van God te reën   

priesters, predikante en pastore 
klim af van jou troon en kom lewe
soos Jesus in alles jou strewe! 

Vrydag 24 Februarie 2017

‘LA LA LAND’ OORROMPEL EN BETOWER



FILM-EVANGELIE

In ‘n wêreld waar kersliggies en kersmusiek in Berlyn, romantiese strandwandelinge in die suide van Frankryk en jeugdige musiekfeeste in die liefdesstad Parys met moordlustige jaagtogte en duiwelse geweerskote wreed verwring word tot tragedies, SMAG ek na Goeie Nuus. In filmtaal verlang ek na ‘n fliek met ‘n gelukkige einde.
Jesus se film-evangelie wys egter dat jy eers deur Goeie Vrydag se “16V-beperkte” dodemars-riller moet sit voordat jy kom by die Goeie Nuus van Paassondag se “Geen ouderdomsbeperkte” Halleluja-koor drama. Vrydag is dit The Passion of the Christ saam met Mel Gibson en Sondag The Sound of Music met Julie Andrews. Albei is nodig. 


Die lewe ís gereeld ‘n skop-skiet-aksie-belaaide en ongenaakbare vuishou-film. Daarom dat ek soms ontvlug met springmielies in my hand opsoek na ‘n grootskerm belewenis van romanse, musiek en drome wat waar word. As jy ook soms sulke ontvlugting en ontspanning benodig, is jou dokters-voorskrif as volg: gaan kyk La La Land saam met jou geliefde en laat jouself toe om oorrompel en betower te word deur dié goedvoel-film van die jaar. Maar moenie nét maanskyn en rose verwag nie – dié Musiekprent is geskryf en gekomponeer met ‘n goeie dosis harde realiteit.
“La-la land” verwys natuurlik na die bekende konsep van iemand wat in ‘n droomwêreld leef, êrens op sy eie “planeet.” In die VSA word die term óók gebruik as ‘n bynaam vir Los Angeles (LA) in Californië, die tuiste van Hollywood, die Amerikaanse droom en aspirant droomsoekers. En watter droom vir enige filmmaker is soeter as Oscar glorie?


OSCAR DROME VERVUL?


Met 14 Oscar nominasies - ‘n rekord wat die film voortaan hou saam met 1997 se Titanic en 1950 se All about Eve – weet jy dat elke aspek van hierdie film 5-ster is. Indien La La Land die topprys as beste film verower, sal dit die eerste maal wees wat ‘n oorspronklike Musiekprent dié prestasie behaal. In die 88 jaar sedert die eerste Oscar toekennings gehou is in 1928, het nog net 10 Musiekprente gewen, almal gebaseer op Broadway produksies of ander bronmateriaal. Elke melodie wat jy dus beleef in La La Land is kraakvars uit die pen van Justin Hurwitz.

Filmregisseur en skrywer Damien Chazelle is aan Suid-Afrikaanse filmgangers bekend vir sy fenomenale film Whiplash wat aan akteur J.K. Simmons sy eerste Oscar as beste manlike byspeler besorg het in 2015.

Op die ouderdom van 32 jaar ry hierdie Amerikaanse filmmaker na slegs sy derde vollengte film die kruin van Hollywood-sukses. Maar as iemand wat die binnewerkinge van die industrie reeds ken, skemer daar tog ‘n interessante pessimisme deur in La La Land.

BITTERSOET?

Sebastian, gespeel deur Ryan Gosling, is ‘n sukkelende Jazz-puris klavierspeler wat suiwer jazz wil bewaar deur ‘n Jazz-klub te begin. Mia, gespeel deur Emma Stone, is ‘n aspirant aktrise wat teleurstelling op teleurstelling beleef. Hierdie twee dromers se wêrelde ontmoet met musiek en dans en ‘n transformerende vennootskap en liefdesverhaal ontvou. Hulle word mekaar se inspireerders tot droom-navolging. Teleurstelling en kompromie loer egter om elke hoek en draai, gerééd om dromers uit hul la-la land af te bring aarde toe.

BLOOD, SWEAT & TEARS

Die evangelie van La La Land verkondig: drome word soms waar, maar daar’s altyd ‘n prys om te betaal. Is jy bereid om die prys te betaal vir “elke aardse droom van rykdom en roem?” Is jy seker jou drome is nie “net ‘n skadu teen die muur,” soos Koos du Plessis en die Prediker waarsku?

Ek wonder wat sou Sebastian en Mia se opinie wees oor die atleet Eric Liddle wat na sy Olimpiese Spele triomf, soos vertel in die Oscar-bekroonde Chariots of Fire, sy rug keer op beroemdheid en sendingwerk gaan doen in China?

La La Land het passie, uitbundigheid, realisme, fantasie en jazz. Dit vermeng die nostalgie van outydse Musiekprente op ‘n kreatiewe wyse met die uitdagings waarvoor die hedendaagse kunstenaar staan. Dis ‘n staande ovasie werd met diepdink oomblikke lank na die laaste note in die leë teater weerklink het. Dit los mens met talle vrae:

*       Is dit die moeite werd om jou drome ten alle koste na te jaag al is dit                       ten koste van verhoudinge?
*       Is beroemdheid sukses?
*       Wat is die gevolge van my keuses?
*       Het ek al van my eie drome laat vaar as gevolg van teleurstelling?

Bono van die Ierse rockgroep U2 het eenmaal gesê: “Rock ‘n’ Roll has its feet down in the mud and its head up in the clouds.” La La Land se kop sing in die wolke met voete dansend in die modderige realiteit.

My gradering 5/5*****      Francois Mulder is leraar in Blanco, George

VINNIGE FEITE:
        Regisseur & Skrywer:   Damien Chazelle
        Hoofrolle:   Ryan Gosling, Emma Stone                                             
        Musiek:                     Justin Hurwitz
        Tydsduur:                  128 minute
        Begroting:                 $30 miljoen
        Ouderdomsbeperking: 7–9PG