Saterdag 05 Desember 2015

LANK LEWE DIE TAMBOERYNMAN

A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on





LANK LEWE DIE TAMBOERYNMAN
 
Totius het dit in die vorige eeu gedoen met die Psalms
TT Cloete kon hom dit nadoen vir ‘n nuwe generasie met die Liedboek van die kerk. Nou doen Koos van der Merwe dit met Leonard Cohen en Bob Dylan se legendariese woorde en musiek: hy “omdig” en “hersing” hul psalm-treffers in poëtiese Afrikaans en outentieke musiekklanke. 

Twee jaar gelede vra ek in Kerkbode; Leonard van der Merwe of Koos Cohen?  Met sy nuutste projek, Tamboerynman, is dit beslis nie Koos Dylan of Bob van der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van der Merwe wat op ‘n meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk in aanGRYPende Afrikaans. 

Natuurlik ken jy Dylan se “Mr Tambourine Man,” maar nie met soveel vreugde soos wat dit hier  “Tamboerynman” word nie. In die tweede vers is die woorde: “Ek wens vir jou betowering.”  Dít kry hierdie projek reg – dit betower en oorrompel jou om óf opnuut óf vir die eerste maal Bob Dylan te waardeer as digter en profeet.

Die bekendste treffers van die Dylan-oeuvre neem jou terug na die Sestigerjare van opstand en protes. Dit dóén iets aan ‘n mens om vanuit “Blowin’ in the wind” in Afrikaans die dringende vraag te hoor: “Hoeveel keer moet kanonkoeëls nog vlieg, voor iemand dit vir ewig verban?”

Koos se stem is ryk, diep en soms teer. Matthys Maree oortref homself met die verwerkings. Hierdie kombinasie skep opnuut ‘n meesterwerk.

Die titelsnit en “The times they are a-changin’” is verwerk deur kitaar-ghoeroe Juan Oosthuizen. Dié destydse “volkslied van verset en verandering” tref hard en diep 52 jaar na Dylan dit in 1963 vrygestel het. 

Die sewentigs en tagtigs word ook goed verteenwoordig op die cd. Veral van belang vir gelowiges is die lied “Ek glo in U” wat in 1979 verskyn het op Dylan se “Slow Train Coming,” kort na sy bekering. “Ek glo in U deur die trane en deur die blydskap,” bely hy sy geloof. 

Die enigste negentiger lied is “Make you feel my love,” die lied waarmee Elvis Blue aanvanklik die Idols beoordelaars uitgeboul het. Met die luister na “Dat jy my liefde voel” besef mens dat Dylan-liefdesliedere in ‘n klas van hul eie is. Koos se interpretasies en die kommersiële sukses van die Cohen-projek, inspireer hopelik die industrie om meer diepgaande, kwaliteit skeppinge te omarm en te bemark. 

Waar ek met die Cohen-produksie gekla het oor die afwesigheid van die lied-tekste, is geen koste ontsien met Tamboerynman nie. Die kunsvolle bladuitleg en lirieke asook die talle kunstenaars wat 15 strykers insluit, getuig hiervan. Die verantwoordelikheid om aan Dylan reg te laat geskied in Afrikaans, is ooglopend met erns en eerbied aangepak.

Vir die haters en kritici wat “die hemele behoed ons” gegil het toe die projek aangekondig is: as Robert Allen Zimmerman, (24 Mei, 1941 - ) Afrikaans kon verstaan, sou hy trots gewees het. Lank lewe die Tamboerynman!

Francois Mulder is predikant in Blanco NG Kerk, George

A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


A photo posted by Francois Mulder (@francois_mulder) on


Antwoord op Riaan Grobler se resensie van Koos van der Merwe se "Tamboerynman"

59 minute van onafgewaterde kuns deur Koos van der Merwe

Dis met ‘n gevoel van ontnugtering  wat ek dikwels raaklees hoe maklik resensente kreatiewe werk kan verguis op grond van hul subjektiewe voorkeure en vooroordele.

Riaan Grobler se resensie van Koos van der Merwe se lofgedig aan Bob Dylan getiteld Tamboerynman”, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Nes Anton Goosen, het hy kategories besluit “Leonard Cohen en Bob Dylan in Afrikaans” is ontoelaatbaar en heiligskennis. Ek vermoed Grobler het sy vooroordele reeds omarm voordat hy reggeskuif het om te luister en daarna te skryf oor hierdie projek. Ek glo hy sou die presiese artikel kon skryf sonder om die cd te luister en die teks te lees.

As selfaangestelde expert het hy klaar besluit: ”Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige.”

Ek verskil 100% met Grobler se bogenoemde stelling! Koos van der Merwe het die “onmoontlike” vermag deur die Dylan-psige in Afrikaans te ontsluit. Ek beleef sy Cohen- en Dylan-projekte as uiters geslaagde pogings om hierdie ikone te laat grondvat in Afrikaans. Sy respek vir Cohen en Dylan is deurgaans duidelik. Die vertalings is veel eerder poëtiese omdigtings, geen woord-vir-woord dwinglandy nie.

Natuurlik is daar te veel resepmatige Afrikaanse musiek. As Dylan-aanhanger - wat AL SY CD’s besit - is ek óók moeg vir vertaalde populêre Duitse melodieë wat skaamteloos gekaap word en nuwe middelmatige skeppings word ter wille van die almagtige Mammon. Juis daarom salueer ek elke ware Afrikaanse digter en komponis uit die verlede en hede. Om Koos van der Merwe egter te brandmerk as deel van die kitskos-musiek-mark, is ‘n totale mistasting! Sy 2009 solo cd ”Ter wille van die opdaag” is deur Koos Kombuis geloof! Kyk verder na sy katalogus oorspronklike, satiriese, bytende Afrikaanse skeppinge as deel van die sanggroep Prophet op cd’s soos “Ban Hom uit die Sinagoge”, “Paradysplagiaat”, “Heilige Koeie”, “Plastiek-kansels” en “Broos onder die blou son.”

Die kommersiële sukses van die Cohen- en Dylan-projekte, inspireer hopelik die industrie om nog meer diepgaande, kwaliteit skeppinge te omarm en te bemark.

Oor “Leonard Cohen in Afrikaans” het ek in ‘n 2013 Kerkbode artikel geskryf: “Dis Leonard Cohen wat kom kuier voor jou kaggel en sing in jou hartstaal: Afri-Kaans!

Met die aankondiging van die Dylan-projek, het ek gewonder of Van der Merwe se stem dieselfde impak sou hê as met die Cohen-projek.  Elke Dylan-aanhanger weet tog dat niemand hom kan namaak nie. Gelukkig is “Tamboerynman” nie Koos Dylan of Bob van der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van der Merwe wat op 'n meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk in aangrypende Afrikaans. Dis ‘n briljante produksie wat Bob Dylan opreg en diepsinnig eer.

In my resensie van hierdie cd in die Kerkbode van 5 Junie 2015, vergelyk ek Van der Merwe as volg met Totius en TT Cloete:

“Totius het dit in die vorige eeu gedoen met die Psalms. TT Cloete kon hom dit nadoen met sy psalmberyming vir 'n nuwe generasie in die Liedboek van die kerk. Nou doen Koos van der Merwe dit met Leonard Cohen en Bob Dylan se legendariese woorde en musiek: hy "omdig" en "herdig" hulle psalm-treffers in poëtiese Afrikaans en outentieke musiekklanke.”

Waar ek met die Cohen-produksie gekla het oor die afwesigheid van die lied-tekste, is geen koste ontsien met Tamboerynman nie. Die kunsvolle bladuitleg en lirieke asook die talle kunstenaars wat 15 strykers insluit, getuig hiervan. Die verantwoordelikheid om aan Dylan reg te laat geskied in Afrikaans, is ooglopend met erns en eerbied aangepak. Vir die haters en kritici wat “die hemele behoed ons” gil: as Robert Allen Zimmerman,
(24 Mei, 1941 - ) Afrikaans kon verstaan, sou hy trots gewees het op hierdie produk.

Bob Dylan is een van die grootste kunstenaars ooit. Dankie Koos van der Merwe vir 59 minute van onafgewaterde kuns wat Dylan aan ‘n nuwe gehoor bekendstel. Dit sal jammer wees as die vooropgestelde vooroordele van sommige keer dat hierdie fenomenale “liefdeswerk” nog meer harte oorrompel.

Lank lewe die Tamboerynman!

Francois Mulder
0826764275



Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige
Dylan laat hom nie sommer vertaal nie
Deur Riaan Grobler Vrydag 17 Julie 2015 04:00

Op 21 Januarie 1968 het Jimi Hendrix begin om sy weergawe van Bob Dylan se “All Along the Watchtower” in Londen op te neem. Dit was ’n lang proses wat tot Augustus van daardie jaar geduur het, hoofsaaklik omdat Hendrix keer op keer ontevrede was met verskeie aspekte van die opname.
Die resultaat sou uiteindelik ’n ikoniese cover wees, meer suksesvol as Dylan se eie weergawe op die trefferlyste.
Dylan self was vol lof vir Hendrix. “Dit het my oorweldig,” het hy gesê. “Hy het goed in die lied raakgesien en ontwikkel wat ander mense nie kon raaksien nie.”
Hendrix het reggekry wat min ander kunstenaars kon: om Dylan se grootsheid te oortref. En wat ’n grootse kunstenaar is Dylan nie!
Ek was dus skepties toe ek Tamboerynman, Koos van der Merwe se album met Afrikaanse vertalings van Dylan se liedjies, kry.
Om Dylan se werk te vertaal en op te neem, is ’n enorme uitdaging.
Eerstens is Dylan se komplekse, ontoeganklike lirieke so te sê onvertaalbaar. Dylan se binnerym alleen het ’n dinamika van sy eie. Sy lirieke is dubbelsinnig. Die perfeksionistiese Dylan het elke woord met rede gekies. Trouens, vir Dylan is sy lirieke die belangrikste van alles.
Tweedens moet ’n mens musikaal reg laat geskied aan iemand soos Dylan. Hendrix kon dit regkry. Daar was ander kunstenaars ook wat ikoniese weergawes van Dylan se werk kon lewer. Dink maar aan Guns N’ Roses se unieke “Knockin’ on Heaven’s Door” en Eddie Vedder van Pearl Jam se meesterlike weergawe van “Masters of War”.
Laastens moet ’n mens ook wonder oor die sinvolheid van so ’n projek. Is dit nodig om Dylan in Afrikaans te hoor? Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die gehoor op wie dié projek gemik is, nié van Dylan weet nie en ook nie sy lirieke in Engels sal verstaan nie.
Wat ook al Van der Merwe se beweegrede, dit is met die eerste luister duidelik dat Tamboerynman nie gemaak is om grense te verskuif nie. Die Dylan-klank (aanvanklik die rou akoestiese kitaar en bekfluitjie, later die growwe rock-klanke) maak plek vir ligte, generiese pop. ’n Gevestigde en gewilde klank. ’n Resep wat werk.
Daarom sal Tamboerynman waarskynlik tot ’n bepaalde gehoor spreek. Maar van ’n Hendrix of Vedder is daar nie veel sprake nie, al het Van der Merwe virtuose soos die kitaarspeler Mauritz Lotz tot sy beskikking gehad.
’n Ander uitdaging was sekerlik die liedkeuses. Met die korpus werk wat Dylan oor dekades heen gelewer het, is dit haas onmoontlik om te kies!
Van der Merwe het egter goed gekies en die liedjies op Tamboerynman is taamlik verteenwoordigend van Dylan se vele fases en metamorfoses: die protesliedjies (“Verlore in die wind”), die surrealistiese droomliedjies (“Tamboerynman”, “Orals om die wagtoring”) en selfs Dylan se kortstondige geloofsfase (“Ek glo in U”).
Die grootste vraag is egter of die vertalings geslaagd is. Want hier gaan dit nie net oor taalkundige aspekte nie, maar ook (en veral) die emosionele.
Vir geharde Dylan-aanhangers is sy woorde heilig. Soos gebede kan hulle sy digkuns woord vir woord resiteer.
En hoewel die “makliker” Dylan-liedjies redelik akkuraat vertaal is (soos “Dat jy my liefde voel” en “Hy was ’n vriend van my”), is dit by die meer komplekse werke waar dinge lelik begin skeefloop. “Orals om die wagtoring” en “Skuiling teen die storm” is voorbeelde hiervan. En dit is nie noodwendig weens taalkundige onbeholpenheid nie, dis omdat jy dié soort lied net eenvoudig nie kán vertaal nie. Dis deel van ’n Dylan-woordeskat en -psige waarvoor daar nie woorde in Afrikaans is nie. En dít is waar Tamboerynman die verste tekort skiet.
Een van die lekkerste stories oor Dylan is toe hy in die 1960’s sy bekfluitjie en akoestiese kitaar geruil het vir elektriese instrumente. “Judas!” het ’n konsertganger in Londen hom toegesnou. “You’re a liar,” het Dylan in die mikrofoon teruggekoggel, omgedraai en aan die band gesê: “Play it f*cking loud!”
Tamboerynman is egter nie ’n album wat verdien om kliphard gespeel te word nie omdat Van der Merwe uiteindelik nie daarin slaag om enigiets uitsonderliks met Dylan se liedere te doen nie.