Woensdag 03 Junie 2015

HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MENS TE ONTMOET



* ongeredigeerde weergawe van 'n 2014 Kerkbode artikel

HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MENS TE ONTMOET




Op pad na ‘n boekbekendstelling het FRANCOIS MULDER se pad gekruis met dié van ‘n vriendelike vreemdeling – en hom laat dink oor Christenskap en verhoudinge. Hy vertel sy storie.


Dit is Sondag na kerk en ons gesin van vyf is in ons “made-in-China”-motor op pad Mall toe. Tiener-ouer-skermutselings wissel tennis-vinnig tussen lag en berispe.                                                                       
Dit is tyd vir ‘n speletjie soos toe ons in 2010 vir tien kilometer in Frankryk se platteland ‘n karre tel kompetisie gehou het tussen Peugeot, Citroën, Volkswagen en die uiteindelike wenner met 59: Renault.

Die blou kombi voor ons met die CZ nommerplaat laat my skielik wonder: Waarvandaan is CZ? En toe die speletjie – wie kan eerste regraai? Knysna? Nee, dis CX. Oudtshoorn? Nee, dis CG. Wat’s Kaapstad nou weer? CA! En Mosselbaai? CBS! Nou wat’s CZ dan? Nie een van ons weet nie. Zastron? Nee, Vrystaat. Nou’s dit ek en my beter helfte wat flinkdink ping-pong speel: Kroonstad is ... OM! En Bethlehem ... OA. Bloemfontein ... OB. Maar dis ou Suid-Afrika nommerplate daai – net die Kaap en KZN het nog stad en dorp nommerplate. Is dit nie dalk Zeerust nie?

Ek laai die familie by die Mall af, die CZ-episode vergete totdat ek in die parkeerterrein in die hoek van my oog die blou kombi sien. Impulsief stop ek sommer in die middel van die pad en beduie vir die bestuurder dat ek wil gesels. Hy sluit die kombi en nuuskierig-voorbarig vra ek:

“Our family was wondering what CZ stands for on your number plate.”

“Oh, it’s Beaufort-West.”

“Really! Have you heard of the Afrikaans singer Gert Vlok Nel and the song that made him famous - Die beautiful woorde van Beaufort-Wes?”

“No, it’s on the N2.”

“Can I take a picture of you and the combi to show my family?”

“Yes of course!” Ek gryp my kamera en zoom in vanaf my bestuurder sitplek deur die voorste passier venster en “piep-piep ... kliek.”

Skielik voel-voel ek vir my selfoon, maar dis weg. Tipies verstrooide professor, of my nuwe vriend het dit sopas deur die oop venster ongemerk gesteel. Ek voel skaam oor my laaste gedagte, maar “my selfoon” roep dit in my kop, byna soos Gollum oor sy “precious” ring se verlies in Lord of the Rings.

“I’ll phone it for you, what’s the number?” Sal hy my selfoon bel as dit intussen in sy broeksak wegkruip? “082…” Ek klim uit die kar, maak van die deure oop en voel oral. Skielik hoor ek my ringtone, Bruce Cockburn se vrolike “dankbaar die aarde leef nog” lied Wondering where the Lions are. Waar? Onder die voorste passasier sitplek.

“Thank you so much! What’s your name?”

“Taelo, my surname is Taelo.”

“And your name? Do you have WhatsApp?”

“No, my phone is too old.”

“I’ll MMS the picture for you – I’ll save your number – it’s on my missed call list. And your name?

“Lehloka.”

“How do you spell that?”

“L E H L O K A.”

“Like this?”

“Perfect! And your name?”

“Francois Mulder.”

“My former boss’ name was Francois.”

“It’s great to meet you Lehloka! I’m a pastor at a Church here in George.”

“Oh, I embrace Islam.”

“I can see,” en ek beduie na sy kop.

Ons waai vir mekaar met leë beloftes van mekaar opsoek in George en/of Beaufort-Wes.

En ek’s alweer oppad ... effens ryker, want ek’t ‘n glimlaggende CZ-mens ontmoet. Ene wat beslis langs die N1 of N2 sou gestop het om my te help met ‘n pap band.

Ja, in geloof verskil ons hemelsbreed en sal waarskynlik nooit daaroor saamstem nie. Maar in menswees deel ons so baie – beide geskep deur dieselfde SkepperGod.

Mooi loop mnr Taelo, dit was goed...

En by die boekbekendstelling van dr Marius Potgieter se “Die Huis van die Here in die 21ste eeu” ‘n halfuur later verklaar hy: “Die Kerk is nie ‘n organisasie nie maar ‘n gemeenskap wat bestaan ter wille van verhoudinge: #1 met die Here, #2 met die Wêreld en dan eers #3 met Mekaar.

Later dink ek weer oor Lehloka se stelling: “I embrace Islam.” “Embrace” ek die Christendom? Nee, ek omhels Jesus Christus. Of eerder, Hy omhels my!

Dis Jefferson Bethke wat die Youtube-wêreld oorrompel het met sy video: “Why I hate religion, but love Jesus.”

Bill Hybels se “Aansteeklike Christenskap” kursus tref ook ‘n onderskeid tussen “Godsdiens” en “Christenskap.” Godsdiens is al die dinge wat jy moet “DOEN” om God tevrede te stel. Christenskap is “GEDOEN” want Jesus Christus het alles klaar gedoen wat nodig is vir jou om in ‘n verhouding met God te staan. Christenskap is ‘n verhouding.

Mag my lewe wys dat ek nie die Christendom omhels as godsdiens nie, maar deur Jesus Christus omhels word en in ‘n lewende verhouding met Hom staan.


Ps. Hierdie artikel het ek eers getitel as “HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MOSLEM TE ONTMOET”, maar vanoggend toe tref dit my: ek het nie gister ‘n Moslem ontmoet nie, ek’t ‘n Godgeskape MENS ontmoet!

TERAPIE BY DIE GROOT SIELKUNDIGE



* Hierdie is die langer, ongeredigeerde weergawe van my 16 Oktober 2014 Kerkbode artikel "Bono, U2 en terapie by die Groot Sielkundige."

TERAPIE BY DIE GROOT SIELKUNDIGE




Die Ierse rockgroep U2 doen dit toe wéér: Hulle verstom die musiekwêreld deur hulle 13de album verniet aan 500 miljoen mense weg te gee! Met die hulp van Apple se iTunes word dit die grootste verspreiding van ’n album in die geskiedenis.

Die digter William Blake se bundel “Songs of Innocence and of Experience” voorsien die album-titel van die Ierse rockgroep U2 se 13e album "Songs of Innocence." Later in 2015 volg ‘n beloofde "Songs of Experience.”


Bono en kie neem ons op 'n musikale reis terug na die vroeë sewentigs van hul vormingsjare in Dublin. Dis ‘n brose, siels-ontblotende reis vóór hul rykdom (150 miljoen plus albumverkope) en roem (22 Grammy toekennings). Ons is 'n vlieg teen die muur terwyl Paul Hewson (Bono) sy hart teenoor almal wat wil luister en die Groot Sielkundige, Jesus Christus uitstort.

Bono ‘n Christen? Hoor sy geloofsbelydenis in ‘n 2005 onderhoud met Michka Assayas: “The point of the death of Christ is that Christ took on the sins of the world, so that what we put out did not come back to us, and that our sinful nature does not reap the obvious death…I'm holding out that Jesus took my sins onto the Cross, because I know who I am, and I hope I don't have to depend on my own religiosity.”

Songs of Innocence

Met kenmerkende eggo-kitare, polsende baskitaar, marsjerende dromme en passievolle stemme beleef ons liedere van onskuld met die opwinding van jeugdige ontdekkings, maar ook klaagliedere van verlore onskuld. In die eerste lied, "The Miracle" beleef ons die opwinding van die jong U2 se kennismaking met die musiek van die Ramones.


"Every Breaking Wave" word 'n huweliks-terapie sessie in 'n era van te maklik tou opgooi. "Are we so helpless against the tide?" vra Bono aan sy eggenoot van 32 jaar, Alison Hewson. En dan sy liefdesverklaring: "You know where my heart is, the same place that yours has been…”


Ons reis saam met Bono, The Edge, Adam Clayton en Larry Mullen jr vir die eerste maal na die opwindende "California" waar drome maklik begrawe word in die spieël van self-twyfel. Maar wat die jong dromers laat vasbyt is die wete "There is no end to LOVE!"

"Song for Someone" is 'n Psalm met biegwoorde wat diep tref: "I'm a long way from your Hill of Calvary and I'm a long way from where I was and where I need to be.”

In "IRIS (hold me close)” beleef ons die 14 jarige Bono se pyn nadat sy ma by sy Oupa se begrafnis sterf: "The ache in my heart is so much a part of who I am, I've got your life in me" sing hy in 'n besondere huldeblyk aan haar.


"Raised by Wolves" vertel die verskriklike verhaal van wat 'n paar blokke van Bono se huis op 17 Mei 1974 gebeur het: 33 mense sterf toe drie karbomme afgaan in Dublin.

Vanaf die bomtoneel stap ons saam in “Cedarwoord Road,” die “warzone” waar Bono groot geword het. Dié straat het hom geleer: "A heart that is broken is a heart that is open."

Die ontstellende “Sleep Like a Baby Tonight” is alles behalwe ‘n wiegeliedjie! Dis die verhaal van ‘n pedofiel-priester wat net vrede ervaar in sy drome: “In your dreams, everything is alright, tomorrow dawns like a suicide.” Die uitnodiging tot ‘n nuwe lewe kom alleenlik vir hul wat die leuens van die nag verruil vir die daglig van waarheid: “Where there’s no daylight, there’s no healing.”

Die elf liedere op hierdie album maak ons deel van U2 se lewensreis deur saam terug te kyk om met groter dankbaarheid en vasberadenheid vórentoe te leef. Bono sluit sy opstel in die album-notas só af:

“We can spend our whole lives searching for cohesion, and in not finding it, turn the world into the shape of our disappointment. Or not. There is no end to grief… that’s how I know there is no end to love.”

KONTEKSTUELE PREDIKING MET BEHULP VAN ROCKMUSIEK



In 1994 voltooi ek my BD-studies aan die Universiteit van Pretoria. My finalejaar skripsie is in die Missiologie departement by Prof Piet Meiring met die tema: Rockmusiek en christelike getuienis. 'n Jaar of wat later publiseer Christo Lombaard 'n boek getiteld: "...in die wêreld..." Vyf bydraes tot kontekstuele prediking met preeksketse. Hier is die hoofstuk wat ek geskryf het vir dié boek:                


KONTEKSTUELE PREDIKING MET BEHULP VAN ROCKMUSIEK


                                                                                                                            Francois Mulder

1.  Inleiding

Op 4 Maart 1966 maak John Lennon van The Beatles sy berugte stelling: “We’re more popular than Jesus Christ now.  I don’t know which will go first - Rock and Roll or Christianity” (Sullivan 1987:313).  Drie en dertig jaar later, aan die einde van die twintigste eeu, is beide Rock-musiek1 en die Christendom steeds beduidende rolspelers in die wêreld2.  Uitsprake soos dié van Lennon het die afgelope paar dekades bygedra tot ‘n gevoel dat Rock-musiek en die Christendom feitlik direk teenoor mekaar staan.  So byvoorbeeld beweer Lang (1990:1) dat daar algemeen aanvaar word dat die meeste Rock-musiek anargie, rebellie en nie-konformerende wêreldbeelde propageer.  In aansluiting by Lennon het Miles (in Turner 1988:168) die volgende te sê oor Rock-musiek: “To me, rock ‘n’ roll is the music of rebellion and sexual liberation ... it’s music which cuts through hypocrisy and guilt, music which attacks patriarchy and authoritarianism, and as such constitutes a direct attack on what I think of as traditional Christian values”.

By die aanhoor van hierdie stelling sal die titel van hierdie hoofstuk seker vreemd klink op die ore van menige gelowige. Soos oor Nasaret gevra is, sal met reg gevra kan word of daar enigiets goeds kan kom uit die wêreld van moderne- of Rockmusiek. Soos wat daar wél iets goeds uit Nasaret gekom het, is daar ook hoop vir die wêreld van musiek. In die woorde van die Kanadese Rocksanger Bruce Cockburn: 

“Seen a lot of things in the world outside/ Some bad but some good stuff too/felt the touch of love in the works of God/and now and then in what people do/never had a lot of faith in human beings/but sometimes we manage to shine/like a light on a hill beaming out to space/from somewhere hard to find...” (Great big love,1991)3.   

Soos Michelangelo se muurskildery waar God en Adam se vingers net-net nie raak nie, is die moderne mens steeds smagtend na die oomblik wanneer daardie twee vingers mekaar raak.  In sommige Rockmusiek kan die mens se soeke na die neonboog se punt waarvan Koos du Plessis sing4, steeds gehoor word.  Alle kultuuruitinge het die moontlikheid om hierdie ware menslike emosie uit te beeld en die gehoor sodoende aan te raak deurdat identifikasie plaasvind. Oor die kunsvorm van films skryf Ken Gire: “Movies take the common crystal of human experience, cut it, polish it, and hold it up to the light of a 35 mm projector...For all the negatives that can be said about the movies, what can be said that is positive of almost all movies is that they reflect, at a very fundamental level, the longings of the soul: the longing that good triumph over evil, that the truth wins out...that in the end there is a happy ending, which is none other than a dim reflection, I think, of our longing for heaven” (1996:119-20).  Soms vir ‘n oomblik wil dit klink asof die vinger van God wel dié van sommige kunstenaars aanraak om as profete op te tree deur verskillende kunsvorme as mediums in ‘n wêreld van 
                                                                 “...swerwers sonder rigting;
                                                                     van soekers wat nooit vind...
                                                                    ...kinders van die wind” (Koos du Plessis:1981,3).
In daardie wonderlike oomblikke wanneer ons die boodskap van God hoor op ‘n verrassend nuwe manier, kom die profetiese woorde van Dietrich Bonnhoeffer (tereggestel in Duitsland net voor die einde van die tweede wêreldoorlog) op ons af vanuit sy Letters and papers from prison: “It is not for us to foretell the day, but the day will come when people will be called to utter the word of God in such a way that the world is changed and renewed. There will be a new language, perhaps, quite unreligious, but liberating and saving, like the language of Jesus, so that people are horrified at it and yet conquered by its power” (1981:102).

2.         Bybelse fundering vir kontekstuele prediking



Lank reeds word aan predikante gesê om te preek met die Bybel in die een hand en die koerant in die ander.  Die waarheid van die Woord en die leefwêreld van die hoorder moet bymekaar uitkom. In die konteks van hierdie boek sou ons kon sê dat gepreek moet word met die Bybel in die een hand en met die digbundel, video-kasset, beeld, skildery, koerant of musiek cd in die ander.  Jasper bevestig hierdie toepassing as hy sê: “The Christian message has always been expressed against a particular cultural background” (1984:1). Die kultuur van ons dag vra besondere eise van die prediker. Waar sal mense nog vrywillig kom stilsit om vir ‘n uur te kom luister na ‘n onverstaanbare toespraak deur ‘n man in ‘n donker pak? Dr. Howard Hendriks skryf in dié verband: “Whatever you do, don’t bore people with the Word of God” (1988:7). Die wêreld waarin ons leef dwing die prediker om aanpassings te maak sodat die boodskap verstaanbaar by die hoorders uitkom. Beuchner skryf byvoorbeeld die volgende aan die moderne prediker: “Let the preacher stretch our imagination and strain our credulity and make our jaws drop because the sad joke of it is that if he does not, then of all people he is almost the only one left who does not” (1977:97).

Kontekstuele prediking moet egter altyd as basis die Woord van God hê. Wat leer ons uit die preke of briewe van iemand soos Paulus oor hierdie saak? Eerstens verklaar Paulus in Filippense 4:8 dat ons as gelowiges ons gedagtes moet rig op alles wat waar, edel, reg, mooi en prysenswaardig is.  Vir sommige mense is geen van dié sake te vinde in Rockmusiek nie.  Andere sou wou beweer dat dié sake net te vinde is in die Woord.  Interessant genoeg vind Paulus op ‘n paar plekke in sy briewe hierdie sake vanuit buite-Bybelse bronne.  So byvoorbeeld is daar in Judas verse 14 en 15 ‘n aanhaling uit die buite-bybelse boek Henog.  In 1 Kor.15:33 haal Paulus die  Griekse digter Menander se woorde aan: “Slegte geselskap bederf goeie sedes”.  Paulus sou sekerlik dieselfde saak uit Spreuke kon aanhaal, maar dit blyk vir hom belangrik te wees om ‘n bekende kunstenaar se woorde aan te haal.  Paulus is nie bang om iets wat waar is aan te haal uit die mond van ‘n nie-christen nie.  In Titus 1:10-13 haal Paulus die woorde van Epimenides van Kreta aan.  Hy verwys na hom as die Kretensers se eie profeet wat in die 6de eeu v.C. ‘geprofeteer’ het dat die Kretensers “...altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate” is.  Weereens sou Paulus vanuit die Ou Testament ‘n geskikte aanhaling kon vind om die sondigheid van die Kretensers te verwoord, maar uit hul eie geskiedenis vind hy die waar woorde van ‘n ‘profeet’.



Sou dit kon wees dat daar ook profete en digters in die wêreld van Rockmusiek is waarna geluister moet word en wie se woorde en musiek deur ‘n 20ste eeuse Paulus aangehaal sou kon word om ‘n spesifieke boodskap effektief oor te dra?  As ons kyk na die voorbeelde hierbo dan moet die antwoord “ja” wees.  In dié verband verklaar Gaebelein tereg: “Everything true belongs to God. There is truth in the arts as there is truth in science, history or mathematics” (1986:31). In soverre sekere gedeeltes van Rock musiek lirieke ooreenstem met Bybelse waarhede soos skepping, sonde, verlossing, wederkoms en oordeel kan dit uiters effektief gebruik word in die tradisie van Paulus om dié waarhede te belig uit die mond van kontemporêre ‘profete’. Die uitdaging van prediking in hierdie postmoderne wêreld word goed opgesom deur Mouw: “Our concern to communicate the gospel in culturally sensitive ways must be guided by two commitments: the first is to communicative effectiveness, and the second to communicate biblical truth” (1991:31). Beide hierdie sake moet ernstig opgeneem word deur die prediker.

‘n Goeie voorbeeld van ‘n Bybelse waarheid in die ‘wolfsklere’ van ‘n Rocklied vind ons in ‘n lied van die bekende Ierse Rockgroep U2.  Die afsluiting van hul wêreldwye “POPMART” toer in Johannesburg (21-03-98) begin met dié woorde: “lookin' for to save my soul / lookin' in the places where no flowers grow / lookin' for to fill that GOD shaped hole” (Pop,1997)4.  Hul verwysing na die “God shaped hole” is natuurlik ‘n teruggryp na die bekende woorde van Augustinus.  Dit korreleer ook met ‘n gedeelte soos Psalm 42:2-3 waarin die digter “dors” en “smag” na God. Hierdie dors is die gevolg van ‘n besef dat ons menswees inderdaad leeg is sonder die inwoning van God se Gees.  In sy toespraak in die Areopagus in Atene is een van Paulus se argumente aangaande die mens die volgende: “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind” - Handelinge 17:27.  In dieselfde toespraak verwys Paulus na “sommige van julle digters” as hy die Griekse digter Aratus (315-240 v.C.) aanhaal.  Hierdie kragtige toespraak van Paulus IN die wêreld van die Grieke loop uit op die bekering van ‘n paar ontvanklike hoorders - Handelinge 17:34.



Sommige mense sou steeds ‘n probleem hê om te luister na die waar woorde en musiek van nie-Christen Rockkunstenaars.  In dié verband is Matteus 23 se eerste perikoop baie behulpsaam.  Hier verklaar Jesus die volgende aangaande die skrifgeleerdes en Fariseërs: “Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê (in soverre dit ooreenstem met die waarheid van God), maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie.”  Die beginsel is dat die waarheid van God ook deur ‘onrein’ en ‘huigelaar’ - lippe kan vloei.  Die opdrag van Paulus is om die waarheid te oordink.  God se waarheid kan ons egter enige tyd, enige plek en deur enige persoon of medium konfronteer indien ons ore het om te hoor.  Soms sal sy waarheid kom uit die mond van ‘n heilige profeet soos Natan aan Dawid.  Vandag nog kom God se waarheid na ons uit die mond van ‘n moordenaar en egbreker wat om vergifnis pleit in Psalm 51.   Soms weer gebruik God ‘n donkie om sy boodskap oor te dra. In Genesis 20 lees ons van die heiden Koning Abimelek wat God se boodskap aan Abraham oordra as hy Abraham se oneerlikheid ten opsigte van sy vrou tipeer as “onbehoorlik”. 

Teen die einde van die twintigste eeu is God se stem nie stil nie.  Vir dié wat nog luister is daar soveel verrassings.  Selfs uit die mond, pen en vingers van Rockkunstenaars kan woorde en musiek kom wat Bybelse waarhede bevestig, toelig en laat grondvat in die hier en nou van ons daaglikse bestaan.  Soos Paulus mag die prediker van die laat twintigste eeu nie die woorde en musiek van die profete miskyk nie. “The words of the prophets are written on the subway walls and tenement halls...”5 herinner  Simon & Garfunkel reeds sedert 1966. Is Paulus se voorbeeld vir ons genoegsame motivering om met die soektog te begin na dié musiek en kultuuruitinge wat ‘roep’ om deel te wees van relevante en verstaanbare prediking? Sommige predikers sal steeds daarop aandring dat die Bybel homself verklaar, en sodoende hul taak tot kontekstualisering ontduik. Die verantwoordelikheid wat God op die prediker plaas dwing egter die moeiliker pad van ontdekking in die kultuur van die hoorders. John Fischer verstaan dit so: “I used to think it was only necessary to speak the truth and let it go at that. If people misinterpreted it, that was not my problem. But I think differently now. The role of the prophet is to stand before truth and cause it to shine in relation to current situations. Part of that illumination process is to reinterpret what has been misinterpreted. The old Testament prophets and Jesus all did this” (1988:36).

3.         Rockmusiek in diens van prediking



Heyns praat van die “...eietydse idioom waarin die kerk sy boodskap moet giet” (1978:371). Rockmusiek is so ‘n eietydse idioom wat as ‘n eie ‘taal’ deur miljoene mense ‘gelees’ en ‘verstaan’ word. Heyns herinner verder: “Om die grootste moontlike begrip by die hoorder te skep - al is dit ten diepste natuurlik die werk van die Gees - sal die godsdienstige waarhede in begrippe en woorde uitgedruk moet word wat ontleen is aan die diep menslike lewensrealiteite van ons tyd” (1978:371). In elke kerk in Suid-Afrika sal daar persone wees wat Rockmusiek beskou as deel van hulle menswees. Vanuit die sendingwetenskap herinner Schrag die prediker as volg: “Music is an important key to understanding a culture, not an expendable entity that can be excised and replaced without damaging the rest of society, or its church” (1989:315). ‘n Noukeurige ondersoek na die musieksmake van die gehoor van die prediker, sal hom of haar sterk met insig aangaande die waardes, opinies, wêreldbeeld en menswees van die hoorder. Op grond van hierdie ondersoek sal die prediker instaat wees om die boodskap makliker, meer akkuraat en sensitief te kommunikeer. Effektiewe kommunikasie van die evangelie aan ‘n gehoor met uiteenlopende ouderdomme, musieksmake en verwagtinge kan uiters moeilik wees. Weereens vanuit die sendingwetenskap stel Kraft die kommunikasie-probleem as volg: “For if persons speak no common language and have no culturally defined common agreements concerning the noises and gestures they use, their ability to communicative interaction will be virtually nil. An unabridged barrier to communicative interaction exists between...Such is often the case when Christians attempt to witness to non-Christians by using such ‘Christian jargon’ as ‘church’, ‘be saved’, ‘sin’, ‘accept Christ’, etc.” (1980:151). Kommunikasie - mure bestaan dikwels tussen verskillende generasies wat nie mekaar se musiek en leefwêrelde verstaan nie. Bewus van hierdie feite, wend predikers hulle dikwels tot die ‘haelgeweer-taktiek’, waar almal bereik wil word, maar uiteindelik niemand ‘getref’ word nie in die afwesigheid van ‘n skerpskutter. Juis daarom is alternatiewe of addisionele dienste of geleenthede vir Hoërskool-, Laerskool- en Voorskoolse kinders so noodsaaklik. Tydens sulke dienste kan die prediker preek met behulp van die musiek van elke bepaalde groep. Wanneer Schrag vanuit die sendingwetenskap uitroep: “Please spare them Western music” (1989:311), is dit sy waarskuwing aan sendelinge teen kulturele imperialisme. Hierdie waarskuwing geld ook in ‘n land soos Suid-Afrika waar mense selfs van dieselfde kultuur en kerkverband  radikaal verskil in terme van voorkeure ten opsigte van musiek en liturgie. Daarom moet die prediker die hoorder se menswees, unieke kultuur en musiek ken. So ‘n benadering in die prediking behandel die hoorder met respek en sien die gehoor nie net as blote objekte nie.



‘n Saak kan altyd vanuit verskillende hoeke of kante benader word. So byvoorbeeld kan in terme van Rockmusiek net op die negatiewe elemente binne hierdie medium gekonsentreer word. In dié proses word kosbare diamante egter misgekyk. Bono van U2 merk op: “...rock ‘n’ roll has its feet down in the mud and its head up in the clouds” (Turner,1988:7). Soms moet ook die prediker opkyk om die positiewe geleenthede in ‘n genre soos Rockmusiek raak te sien. “I think art can be a light at the end of the tunnel, not just a mirror held up to society” (Turner,1986:167) spekuleer Dave Evans van U2. Heelwat skrywers verwys ook na die kunste as ‘n spieël op menslike belewenisse.

Rockmusiek is deel van populêre kultuur wat in een van die invloedrykste magte die afgelope vyftig jaar ontwikkel het. Reeds in 1986 praat Peters van Rockmusiek as ‘n “...powerful medium, affecting every segment of society” (1986:50) asook ‘n “...powerful persuader...which fuels a 4.3-billion-dollar-a-year industry...” (1986:50).



Vir die ware verstaan, waardering en gebruik van sommige Rockmusiek is ‘n nuwe bril nodig.   Hierdie bril moet ons help om Bybelse waarhede raak te sien en te hoor in hierdie genre. Met watter bril kyk jy na die lewe? Oor die Kanadese sanger Bruce Cockburn (uitgespreek Co-burn) skryf Mark Gornik die volgende: “The glasses through which he peers at the world are not tinted by pessimism but rather are shaded by a vision of the Kingdom, enabling him to view and narrate what is going on with vivid poetics of hope, wonder, and joy undergirded by a rhythm of justice for the oppressed.” (Gornik 1987:41).  Gornik konkludeer dat Cockburn se bril gekleur is met ‘n basiese Bybelse wêreldbeeld.  Die bril waarmee Steve Turner kyk na Rockmusiek is ewe verrassend.  In sy boek Hungry for Heaven: Rock ‘n’ Roll & the search for Redemption  praat hy so oor Rockmusiek:  “I’ve always seen something else in rock ‘n’ roll. I’ve seen an uncomfortableness with this world, a vision of something transcendent, towards which we should be aiming.” (Turner:1988,9).  Hy sien in Rockmusiek, soos die titel van sy boek ook aandui, die soeke na die ware God. Hierdie soektog bring baie kunstenaars op die syspoor van dwelmmisbruik en velerlei destruktiewe praktyke. Turner skryf egter hieroor soos volg: “The fact that narcotics and sexual exploration have often been settled upon as a means of gaining this transcendence shouldn’t cloud the nature of the impulse. Permissiveness and drugs are not essential to the spirit of rock ‘n’ roll as, in recent years, artists like Bruce Springsteen and U2 have illustrated. My belief anyway is that the orgasm and the heroin rush probably contain intimations of heavenly glory. They both temporarily put us into a state where nothing seems to matter, where the individual ego is swallowed up into something greater... I see the hunger for heaven, the conviction that we are made for a more transcendent world, as being essential to the spirit of rock ‘n’ roll. Not drugs. Not sex” (Turner:1988,9).

Die bril wat ek wil voorhou as ‘n sleutel om die genre van Rockmusiek oop te sluit vir die prediking, is ‘n vierledige Bybelse wêreldbeeld. Met hierdie manier van kyk na die hele werklikheid, kan alle verskynsels in hierdie lewe soos onder andere Rockmusiek, ingepas word by een van die vier kategorieë. Waarom dié moeite doen? Omdat kontekstuele prediking van ons vra om die konteks waarin die hoorder leef te interpreteer en dan te korrigeer op grond van die Bybel en by name ‘n Bybelse wêreldbeeld. Die vierledige Bybelse wêreldbeeld ontvou as volg:
God het hierdie wêreld goed geskep, maar ons as mense het teen God gekies en kies vandag nog saam met Adam en Eva teen God. Hierdie aksie van elke mens noem ons die val. God het egter ‘n perfekte plan gemaak. In Jesus Christus het Hy die wêreld met Homself versoen, omdat elkeen wat Christus aanneem, vergewe word en as nuwe mense en nou weer vriende van God mag leef. In hierdie lewe leef ons gevolglik uit dankbaarheid tot eer van God en sien uit na die dag wanneer Hy terugkeer en daar heerlikheid asook  veroordeling wag op die nasies van die wêreld. Kortweg gestel kan ons dus praat van “Skepping, val, verlossing en wederkoms”.

3.1       Rockmusiek wat konsentreer op God as Skepper en die skepping



God is die Skepper wat die mens die gawe van lewe en kreatiwiteit gee. Hierdie moontlikheid tot kreatiewe kultuuruitinge vorm deel uit van die kultuuropdrag aan die mens. Musiek as ‘n unieke kultuuruiting in alle kulture het die wonderlike vermoeë om te kalmeer, te inspireer, te leer en selfs te irriteer. In die beoefening van hul kreatiewe Godgegewe musiekgawe, eer musikante en musiekskrywers die Gewer van hierdie gawe. Sommige kunstenaars eer God wel onwetend, omdat hulle Hom nog nie as die Kunstenaar van die heelal ontdek het nie. Dink maar aan soveel klassieke musiek gekomponeer deur beroemde nie-Christen komponiste, wat ons tot lofprysing van God kan dwing ondanks die geloof of ongeloof van die komponis. Dit was my belewenis toe ek onlangs een van die bekendste Natuurpsalms, Psalm 104 aan my gemeente voorgehou het. Om te illustreer dat hierdie psalm steeds ‘leef’, het ek die teks gelees met as agtergrondmusiek die harpklanke van die nie-Christen komponis Andreas Vollenweider. Hierdie moderne mengsel van harp en natuurgeluide het gehelp om die teks van Psalm 104 tot sy reg te laat kom. Die reaksie was oorweldigend. By ‘n latere geleentheid is Psalm 107 met sy woestyn, siekte, duisternis, boeie, oopgebreekte koperdeure, hemelhoë golwe en radelose matrose ‘versterk’ deur die klankbaan van die film Dances with wolves. Watter Psalm of teksgedeelte verdien die bekoring van die instrumentale klankbaan van Titanic om haar eeu-oue woorde weer opnuut oop te breek vir ‘n generasie wat soos Petrus sink in die see van ongeloof? 

‘n Lied soos Karla wat Koos du Plessis vir sy dogter geskryf het is ‘n pragtige voorbeeld van musiek en liriek wat die wonder van ‘n nuwe lewe besing. Hy sing o.a. “Daar is ‘n meisie, soos ‘n fee...soos ‘n tinktinkie so fyn is sy, maar om haar pinkie draai sy my...(1981:53). Op 14 Desember 1975 skryf Bruce Cockburn ‘n lied getiteld Little seahorse met die volgende onderskrif : “To Jenny at eight weeks of foetal life.” Saam met kinderlike akoestiese kitaar- en fluitklanke sing hy “...I already love you and I don’t even know who you are” (1976)6. Die eertse snit op hierdie CD besing God as Skepper en “Lord of the starfields/Ancient of days/Universe maker...sower of life...Voice of the nova/Smile of the dew...” (1976). Heelwat ‘diamante’ wat God se skeppingswerk wetend of onwetend besing lê en wag vir die prediker wat die tyd neem om versigtig en doelgerig te ‘myn’ in die genre van Rockmusiek. So ‘n diamant is die Rockgroep Prophet se Skeppingspsalm getiteld Statistiek:
“Genade is U statistiek/modern is U asook antiek/mees onbeperkte Visionêr/gevrees is U, ook populêr/die wetenskap se grootste brein/U logika maak myne klein/en hier is my lojaliteit/U Skepper, ek geskapenheid/my agting hier voor U gesag/bewondering en groot ontsag/U norms is nooit relatief/gerus is U asook aktief/geskiedenis se hoofmoment/die sin van feit en sentiment/esteties het U my respek/pateties voor u intellek”7

3.2       Rockmusiek wat konsentreer op die gevallenheid van die mens

Heelwat moderne Rockmusiek handel oor die sonde van die mens deur die eeue. So-ook leef heelwat kunstenaars as die Adam’s en Eva’s van die moderne samelewing in ongehoorsaamheid aan God. Prophet beskuldig die mens van “Paradysplagiaat”8 deurdat die verhaal van die paradys elke dag weer en weer in mense se lewens afspeel (1995). Peter Gabriel sing oor die tragiese paradysgebeure in sy lied Blood of Eden9 (1992). Die rockgroep Eleison10 sing in 1994 die volgende: “Ons haat mekaar/ hierdie mensgeslag/van oorlog en veldslag en bom/ons haat mekaar/volke, man en vrou/dis Babel in sy Paradys” (1994). Die pyn en vloek van die sondeval is duidelik hoorbaar in Koos du Plessis se lied Spore op die maan: “...daar is geen nuwe oord om heen te gaan...rommelberge groei omheen/en daar’s swaelsuur in die reën...ontvlug is onbegonne/selfs droom is onbesonne/want die wêreld is oorwonne...elke hektaar is verkoop/elke opstal lê gesloop/en die wêreld wag verwese/in die waan dat ‘n wonder sal gebeur/om sy rusperleërs te keer/maar, kyk, daar lê reeds spore op die maan” (1981).  Sonder verlossing en nuwe lewe is die Afrikaner in die woorde van Koos Kombuis inderdaad so aan die woord: “Ek’s boer in beton/soos oom Paul op ou kerkplein/niemand weet van my pyn/want ek is goed vermom/ek’s ‘n boer in beton”11 (1990). Hoe ironies dat soveel kunstenaars, gebrand deur die vloek van die sondeval, self in hul musiek en liriek erken hulle is “...soekers wat nooit vind...” (Koos du Plessis:1981). Hierdie verwarde wêreld se toestand word meesterlik beskryf in Rockliedere soos Beds are burning (Midnight Oil:1993) en Land of confusion (Genesis:1986). Pink Floyd se wêreldberoemde CD The Wall(1985) is ‘n uitstekende uitbeelding in woord en klank van die mens se verwarring en angs as gevolg van sondemure wat saam ‘n tronk van pyn rondom ons vorm. Sommige lirieke van Rockmusiek propageer openlik ‘n lewenswyse ongehoorsaam aan die pad van God. Hierdie ‘openlike’ sondaars mag egter nooit veroorsaak dat ons die totale medium van Rockmusiek afskryf nie. Soos wat die evangelie en die mooi van die lewe soms via ander mediums soos TV, film en die gedrukte media kan fugireer, sonder dat ons die mediums kruisig, behoort ons musiek ook te sien as ‘n medium wat ten goede of ten slegte beoefen en gebruik kan word.



3.3       Rockmusiek  wat konsentreer op die verlossing in Jesus Christus
Die wêreld smag na ware vrede en verlossing.  Hierdie noodkreet word dikwels in die musiek van die Rockkunstenaars gehoor en verwoord. Wanneer Queen ‘n lied sing met die titel I want to break free, dan sien en hoor die prediker met ‘n Bybelse ‘bril’ aan ‘n kreet om verlos te word van die boeie van sonde.  Jackson Browne sing soos U2 en andere oor die honger na verlossing in sy lied Looking East: “...hunger in the midnight/hunger at the stroke of noon/hunger in the mansion/hunger in the rented room/hunger on the TV/hunger on the printed page/and there’s a God sized hunger underneath the laughing and the rage/in the absence of light...” (1996)12. In antwoord op die mensdom se soeke na verlossing sing Prophet oor die Houtkruis (1995) waaraan Jesus Christus vasgespyker is vir ‘n verlore wêreld. Die dromslae aan die einde van hierdie kragtige lied bring die hamerslae van Golgota ongelooflik naby. Hoeveel lewens is al aangeraak deur ‘n mimiek van die kruisgebeure saam met hierdie lied?

Sommige Rockliedere spoor die mens aan om verder te soek as die gewone en dikwels destruktiewe ontvlugtings waarin sovele hul redding soek. Louis Brittz sing ‘n lied na aanleiding van die lewe van die digter Eugene Marais getiteld Vir Eugene13, waarin hy die digter wat selfmoord gepleeg het aanpor om verder te soek as net die mier as skepsel, maar om by die Skepper uit te kom. God se perspektief op die geweld in Suid-Afrika word deur Eleison besing in hul lied Sy hart brand: “Sy hart brand vir die land om na Hom terug te keer/kan ‘n mens vrede ken sonder Hom in beheer/Sy hart brand vir die kerk om na Hom terug te keer/kan ‘n mens vrede ken sonder die Prins, van vrede wat regeer” (1994). Uiteindelik is die humanistiese soeke na vrede in onsself en in ons medemens ‘n doodloopstraat. Gelukkig is daar Rockkunstenaars wat in hul soeke na sin en betekenis die ware verlossing ontdek het in Jesus Christus. Dis hulle wat ons aanspoor om gewapen met die evangelie die armes te voed, die siekes en weduwees te versorg, die tronkvoëls te besoek en die profetiese stem vir reg en geregtigheid te laat hoor in ‘n wêreld van pyn, onreg en haat.  



3.4       Rockmusiek  wat konsentreer op ons toekomsverwagting en die wederkoms 

Na sy bekering in 1974 sing Bob Dylan oor ‘n dag van afrekening wat oppad is soos ‘n stadige trein in sy lied Slow train coming (1974). Eleison sing oor die dag wanneer die Regter van die hart sal terugkeer in hul lied Simbona: “...en die eeue word oud en die osoonlaag vol gate/harte word koud, bose ballade van dekades/die tyd is swanger met die ewigheid/Simbona (ons sien Hom)/die Regter van die hart...” (1994). Die bewuswees dat hierdie lewe sal eindig, kom sterk deur in wyle Koos du Plessis se lied Skadu’s teen die muur: “...in swart of wit getooi/in ‘n stoet of ‘n konvooi/wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur/en leef holderstebolder/want die kis wag op die solder...en die lewe is ‘n skadu teen die muur...” (1981). In sy lied As Hy weer kom14 sing Louis Brittz van ‘n dag  “...as die wolke kromtrek van gewig/en die Koning kom vir oulaas terug/om ‘n ring te bring/vir sy bruid te sing/dis as Hy weer kom...” (1994). Die musiek van soveel nie-Christene is die draers van die wens en gebed om ‘n beter wêreld. Die Christen dors ook na ‘n beter wêreld wat sal aanbreek vir kinders van God, as Hy weer kom... 

4.  ‘n Artikel oor die Rockgroep U2 vanuit ‘n Bybelse perspektief15

U2 KORT ONS VOORBIDDING, NIE AANBIDDING

Op hierdie derde Saterdag van Maart was dit die Ierse Rockgroep U2 wat 67 000 mense laat saampak het in die Johannesburgse stadion. Was ek die enigste predikant, enigste Christen tussen die massas gesigte? Heel moontlik die enigste predikant uit die platteland, want om my het die walms van nikotien, bier en selfs ‘n verdwaalde daggarokie gehang.



“Waarom is ons hier...hoe’t ons hier gekom...waar’s ons...hoe’t julle hier gekom” sou die hoofsanger van die groep, Bono (Paul Hewson) later die aand vra. Hoe beland ‘n dominee by die grootste Rockvertoning wat Suid-Afrika nog gesien het? Wel, dis ‘n lang storie waarin my jongste broer ‘n groot aandeel het.  In ons jong dae op skool was ek die getroue U2 ondersteuner. Veral in my matriekjaar in 1987, toe U2 die wêreldmusiekbedryf oorrompel het met hul album The Joshua tree, het hulle my ook as voornemende tokkelok ingetrek met diepsinnige lirieke en ‘n unieke en eiesoortige klank. In I still haven’t found what i’m looking for het hulle geloof bely soos volg: “I believe in the Kingdom come/ then all the colours will bleed into one... You broke the bonds and You loosed the chains/ carried the cross and all my shame/ You know I believe that/ but I still haven’t found what i’m looking for”.  Toe ek later moed opgegee het met hierdie Iere in hul eindelose soektog na God wat volgens my nie in die regte rigting verloop het nie, het my broer nie moed verloor nie. Hulle musiek was die klankbaan vir sy lewe.

Toe begin die kulturele isolasie van Suid-Afrika verbrokkel in die nuwe bedeling en tweede rangse en vergete musikante en rockgroepe oorstroom ‘n uitgehongerde musiekpubliek. Reeds toe het ons onsself beloof - daar’s net een konsert vir ons en dis U2. Gevolglik was die kaartjies reeds in Oktober verlede jaar gekoop en het ons saam die dae afgetel.



Half tien die aand het die ‘diens’ begin. Vir heelwat mense is hierdie tipe skouspel kerk, met hul helde die gode wat aanbid word. Dié ‘kerkgangers’ was egter in vir ‘n verrassing, indien hulle die boodskap of preek van die verhoog af ingeneem het. In ‘n onderhoud met Graeme Klopper voor hul konsert het Bono so geantwoord op die vraag of supermarkte die kerk vervang het in mense se lewens: “That’s quite interesting because I feel supermarkets should all have chapels built onto the side as people spend so much time there. Actually, banks were the new churches, but now they’ve been replaced in turn by casinos - luck and chance have replaced faith” (Sunday Times Magazine, 8-03-1998: 13). Die tema van hul konsert was natuurlik Popmart, ‘n verwysing na die kommersialisme van die moderne popkultuur waarin alles te koop aangebied word en popsterre soos hulle teen ‘n prys aanbid kan word. In ‘n lied wat hulle dié aand nie sou doen nie, Wake up dead man, word die geldmakers en veral sommige kerke in hierdie wêreld geblameer vir hierdie toestand.  Die lirieke bely, beskuldig en bid so: “Jesus never let me down you know/ Jesus used to show me the score/ then they put Jesus in show business/ now it's hard to get in the door/ Jesus, Jesus help me/ I'm alone in this world.” Die massiewe verhoog en reusagtige videoskerm met ‘n geel boog (oftewel ‘n halwe McDonalds M), tandestokkie met olyf en indrukwekkende suurlemoen wat ons as toeskouers oorskadu het, het alles gesê - hierdie is ‘n groot supermark waar alles te koop is soos in die Amerikaanse styl. Maar wat ‘n begin vir die skouspel toe Bono se eerste woorde weerklink: “Looking for to save my soul/ looking in the places where no flowers grow/ looking for to fill that GOD shaped hole”. Skielik het ek geweet hier kom ‘n ding vanaand. Laat dié wat ore het om te hoor, luister deur die ritme en klanke na die soeke van hierdie ‘helde’.

Hul huldeblyk aan die menseregte leier Martin Luther King jr., Pride (in the name of love),
het goed gepas op Suid-Afrika se nasionale Menseregtedag. In dié lied word verwys na verraad wat teen mense gepleeg word in die naam van sogenaamde liefde. Onder andere word verwys na Jesus Christus as “One man betrayed with a kiss”. 

Hul kontroversiële lied Sunday bloody Sunday is reeds in 1983 as ‘n kreet vir vrede in Ierland geskryf. Selfs op ‘n Sondag dwing haat mense om mekaar met geweld en haat te vernietig, maar juis op ‘n bloedige Sondag het Jesus die finale oorwinning behaal. Hierdie proteslied vir vrede is pragtig aangevul met ‘n nuwe lied getiteld Please waarin Christene in hierdie konflik geteisterde wêrelddeel gevra word om op te hou met eensydige gebede vir ‘n spesifieke kant en opgeroep word tot daadwerklik vredespogings. Harde woorde teenoor Brittanje val wanneer Bono sing “So you never knew that the heaven you keep you stole”,
maar in Sunday bloody Sunday verwerp hulle die opsie van geweld met die verklaring “I won’t heed the battle call...”. 



Die hoogtepunt van die vertoning was die simboliese dans van Bono met ‘n lid van die gehoor. Hierdie handeling het reeds ‘n ritueel geword by alle U2 konserte as simbool van die eenheid tussen die groep en die gehoor. Dit kommunikeer o.a. ook die belangrikheid van die gehoor vir U2 en hul begeerte om die afstand tussen hulle en die gehoor af te breek. In hierdie ‘uitreik’ na die gehoor het Bono die skare in vier  van die landstale gegroet en Johannesburg begroet as Egoli. Na die dans met die jonge dame uit die gehoor het Bono een van hul treffers uit die tagtigerjare, With or without you, vir haar gesing. Sy het ‘n rooi stert en rooi horinkies op haar kop gedra wat Bono tydens hierdie lied afgehaal het. Toe sy hom die horinkies aanbied om op sy kop te sit, het hy dit simbolies afgewys. Hierdie handeling het uitstekend gepas by die boodskap van die lied wat vertel van die konflik tussen man en vrou as gevolg van die donker of eie-ek in elke mens. Die horings was simbool van die oorsaak van hierdie konflik. Bono se afwysing van die horings was ook ‘n wonderlike uitnodiging aan die jong meisie om haar ‘donkerte’ te bêre.

U2 het hul kragtigste vuishou gebêre vir die laaste paar liedere van die vertoning. Hold me, thrill me, kiss me, kill me vertel die tragiese verhaal van jong mense wat aanbid word as supersterre in die wêreld, maar wat juis deur hierdie aanbidding om die lewe gebring word. Deur die hele lied is op die videoskerm die gesigte van o.a. Kurt Cobain van Nirvana (selfmoord), Michael Hutchence van INXS (selfmoord), Jimmy Hendrix (dwelms), Janis Joplin (dwelms) en Marilyn Monroe (selfmoord, hoewel onseker) vertoon. Die lirieke is ‘n skerp aanklag teen mense wat hul helde vereer en aanbid en uiteindelik daardeur ‘vermoor’: “they want you to be Jesus/they’ll go down on one knee/but they’ll want their money back/ if you’re alive at thirty-three”. Hierdie supersterre voel dikwels vasgevang in die ‘tronk’ van heldeverering waarin hul aanhangers hul toesluit. “You don’t know how you got here/ you just know you want out” sing hulle oor hierdie dilemma. Bono spot met mense wat so laag daal deurdat hulle moderne keiserverering beoefen, as hy sy agterstewe draai na die gehoor wanneer hy die woorde ‘kiss me’ sing. So laag daal mense dat hulle gewone sterflinge aanbid as gode. Die keuse word aan die gehoor oorgelaat. Gaan julle hierdie groep ook aanbid totdat julle ook hulle bloed sal eis?

Die aand is afgesluit met U2 se toonsetting van Psalm 40 wat gekomponeer is in 1983. Die lied kontrasteer met Staring at the sun se pleitende reël wat sê “God is good but will He listen?”  Saam met Dawid sluit hulle egter wel die aand af met hierdie lirieke: “I waited patiently on the Lord/ I cried for Him to hear my cry/ He set me up, my feet upon a rock/ and I will sing a new song/ how long must we sing this song?/ He lift me up out of the pits/ He made my footsteps firm/ many will see, many will see and hear/ ‘cause I will sing, sing a new song/ how long to sing this song.....”. Die koorgedeelte van hierdie lirieke vanuit die Bybel is vir etlike minute na die groep reeds die verhoog verlaat het, steeds deur die gehoor gesing.



Die konsert was verby, die stadion bestrooi met blikkies en gemors. Ja alles kom tot niks.  Is U2 ware Christene? Dis ‘n saak tussen hulle en God. Hul verwysing na die worsteling tussen Jakob en die engel in Bullet the blue sky, bevestig vir my hul voortdurende worsteling met vrae rondom God en geloof.  Hierdie stryd is om te onderskei tussen die leuens van die wêreld en die waarheid van God.  “Looking for baby Jesus under the trash” sing hulle met verwysing na die waarheid wat dikwels verberg word deur die gemors en leuens van hierdie wêreld.  Het U2  ‘n boodskap vir die kerk en die wêreld wat ook Bybelse beginsels inkorporeer? Ongetwyfeld ja! Maar wat kan ons as Christene gee aan hierdie helde van baie? Méér as die R170 vir die kaartjie? Méér as die geld vir hul gewilde cd’s? Méér as maar net luister na hul soeke en vrae? Ja! As Christene wat dié antwoord, Jesus Christus gevind het, is daar vir ons die uitdaging: ons helde kort ons voorbidding, nie aanbidding. U2 - ek en baie ander Christene bid vir julle en ook vir hulle wat nog afgode maak van julle ten spyte van julle boodskap. Voorbidding?  Ja!  Waardering vir ‘n Godgegewe talent?  Ja! Maar aanbidding?  Nét vir die lewende God wat ons voete soos dié van Dawid op ‘n stewige rots sit.

5.         ‘n Volledige kontekstuele preek met behulp van Rockmusiek

Tema:  BELYDENISAFLEGGING 1998
Skriflesing:      1 Petrus 3 : 1516
Nuwe Vertaling:         “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”
Die Boodskap:            ”As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en                waarna  julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan. Doen dit mooi,  met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg dat julle  altyd doen wat julle weet reg is.” 

Inleiding:         (die lied Woorde deur Koos du Plessis word gespeel met die lirieke gedruk in elke kerkganger se hand of op ‘n skerm of elekroniese bord vertoon)
Woorde


“Goeiemore, goeiemiddag, goeienaand!
Baie dankie vir ‘n wonderlike aand.
Veels geluk en bly te kenne, vat die hand.
Simpatie, want ek voel saam met jou vanaand.

Dis alles woorde -
net leë woorde -
op vals akkoorde;
en almal sing dit, almal sing, ja, almal sing dit saam

Alle sterkte en, onthou, daar’s krag na kruis.
Kom weer kuier en sê groete by die huis.
Ons hou almal duim vas. Kom veilig tuis.
Doen jou plig en eendag sal jy almal wys.

Dis alles woorde -
net leë woorde -
op vals akkoorde;
en almal sing dit, almal sing, ja, almal sing dit saam.
Vaarwel.

Net leë woorde,
op vals akkoorde -
vaarwel.” (1981).



Ons leef in ‘n tyd van baie woorde - baie praat en min doen.  Elke dag kom derduisende boodskappe op ons af vanaf die TV, radio, internet en ons kontak met mense. Meeste van die tyd is die woorde van mense hol en leë beloftes. Vanaand is daar ‘n groep jongmense wat elkeen persoonlik deur woorde voor hierdie gemeente hulle geloof in Jesus Christus gaan bely. In die ou dae het party mense gespot en gesê dis ‘boerematriek’ en dat hulle vanaand hulle dranklisensie kry. Vir party jongmense was dit seker al wat gebeur het daardie dag met hulle belydenis van geloof. Hulle sal vandag terugkyk en sê - dit was leë woorde wat ek gesê het as gevolg van groepsdruk.

Die wêreld soek vandag mense wat hulle beloftes nakom. Dink maar aan die leë beloftes van politici regoor die aardbol. In Amerika is daar ‘n gesegde wat sê: “Walk the talk”. In ons eie land was daar die advertensie wat uitdaag : “Put your money where your mouth is”. Te veel toesprake, te min dade wat die praat ondersteun. Te veel preke, te min predikers wat leef en doen wat hulle verkondig. Te veel pa’s en ma’s wat sê: “Moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê”. Paulus het gepraat én gedoen. Hy skryf immers “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg”. (1 Korintiërs 11:1)

Vanaand is daar mense regoor die wêreld wat hulle geloof in iets bely deur woorde en dade. Sommige bely ongeloof in alles behalwe hulleself soos John Lennon in 1970 met sy lied getiteld God17. Hy sing: “God is a concept by which we measure our pain/I don't believe in magic/I don't believe in Bible...I don't believe in Jesus...I don't believe in Buddha/I don't believe in Mantra...I don't believe in Elvis...I don't believe in Beatles/I just believe in me/Yoko and me and that's reality” (1979).



Daar’s ander persone wat die kerk die skuld gee vir hulle wankelende geloof in Jesus. U2 sing in hulle lied If God will send His angels18 so: “Jesus never let me down you know/Jesus used to show me the score/then they put Jesus in show business/now it’s hard to get in the door.” Hulle bely hulle geloof byna soos die beroemde leier van Indië, Ghandi dit gedoen het toe hy gesê het dat hy lief is vir Jesus, maar nie vir die Christene nie. Wat baie mense afsit om werklik hulle geloof in Jesus te bely en Christene te word, is Christene en kerke wat een ding sê en ‘n ander ding doen. Jesus praat van sulke mense as skynheiliges en witgepleisterde grafte wat nie werklik sy kinders is nie.

Toe Bob Dylan tot bekering gekom het in 1974 het hy sy geloof openlik bely voor duisende van sy aanhangers. Sy boodskap was: “You gonna have to serve somebody....it may be the devil, or it may be the Lord, but you still gonna have to serve somebody” (Slow train coming:1974). Wat hy eintlik sê is dat elke mens iemand dien met hulle dade - of vir God, of vir onsself of vir die duiwel. Die probleem is mense met leë woorde as ‘n geloofsbelydenis en dade wat nie ooreenstem met hierdie belydenis nie. Mens sien dit so baie dat dit byna die normale geword het.

Die uitsonderings op die reël van leë woorde in hierdie wêreld is wonderlik om te sien. Dink aan iemand soos Cliff Richard of Amy Grant wat as popsangers én Christene getrou hulle Christenskap uitleef. Dink aan sportmanne en -vroue wat nie net getuig in tydskrifte nie, maar ook waar hulle speel en leef. Dis presies wat Petrus elke Christen aanmoedig om te doen in ons teksvers. In vers 14b skryf hy dat ons nie vir mense moet bang wees of ons laat afskrik nie. Sommige Christene word geheime agente vir Jesus deurdat hulle so bang is vir wat mense dink, dat niemand weet hulle is Christene nie. Nie hulle woorde of dade is ‘n getuienis van die hoop wat in hulle lewe nie.

Petrus kom eis van elke mens wat sê dat hy of sy ‘n Christen is, om ‘n geloofsbelydenis te gee aan elkeen wat daarvoor vra. Mense sal net daarvoor vra as hulle die hoop van Jesus in ‘n wêreld sonder hoop sien in jou lewe.



Die nuustydskrif Time is tans besig met die uitsoek van die honderd invloedrykste mense die afgelope dekade. Artikels, onderhoude en besprekings van elke persoon word gepubliseer soos wat hulle lys van honderd name vorder. As jy een van hierdie honderd name was, wat sou Time oor jou geskryf het. Sou hulle soos oor John Lennon kon skryf dat jy net in jouself geglo het. Sou hulle soos oor U2 kon skryf dat jy die foute en sonde van die kerk en sommige Christene blameer het vir jou eie twyfelende geloof?  Sou hulle soos oor Bob Dylan kon sê dat jy entoesiasties jou geloof bely het, maar later al hoe stiller geword het omdat jy geloof as ‘n persoonlike saak beskou het? Of sou hulle kon sê dat jy getrou aan God se Woord die hoop in Jesus Christus gedeel het met almal wat daarvoor gevra het, soos ‘n Billy Graham?

Vanaand gee julle ‘n antwoord vir elkeen in hierdie kerkgebou wat meer wil weet oor die hoop in Jesus Christus. Julle lewe én woorde sal egter in die toekoms wys of julle soos Paulus sê in Romeine 1:16, nie skaam is vir die evangelie van Jesus Christus nie.

In die Lubeck Katedraal in Duitsland is die volgende inskripsie (eie vertaling):

“Julle noem my Meester, maar gehoorsaam my nie;
 die Lig, maar sien my nie;
 die Weg, maar volg my nie;
 die Alwyse, maar hoor my nie;
 Ryk, maar vra my nie;
 die Ewige, maar soek my nie;
 Vriend, maar vertrou my nie;
 Here, maar dien my nie;
 die Almagtige, maar eer my nie;
 die Regverdige, maar het nie ontsag vir my nie;
 As Ek julle veroordeel, blameer my nie.”
Amen.

6.         Slot



In hulle antwoord op John Lennon se lied God, sing U2 in God part 2 anders as Lennon, dat hulle glo in liefde met ‘n hoofletter L. Dan onverwags uit die monde van hierdie mees suksesvolle Rockgroep van die afgelope twee dekades vloei die volgende woorde: “I don’t believe rock ‘n’ roll can really change the world/as it spins in revolution spirals and turns/I...I believe in Love” (1987). Die verlossing van die wêreld en die herlewing van die prediking sal nooit deur iets uit die mens geskied nie. Verlossing, vernuwing en herlewing is ‘n geskenk uit die hand van God. Prediking met behulp van allerlei eietydse kultuuruitinge soos Rockmusiek? Ja! Is dit die oplossing vir leë kerke? Nee! Is relevante en kontekstuele prediking noodsaaklik? Ongetwyfeld ja! Is dit die wondermiddel wat ons kerke weer sal laat oorstroom van mense? Nee! Herlewing begin in my hart wanneer ek voor God kniel en eers uitroep - wees my sondaar genadig - en dan - hier is ek, stuur my as burger van U koninkryk in hierdie wêreld in met U boodskap op my lippe in die taal van die hoorders. God praat en wil gehoor én verstaan word. Sal die klippe en die donkies dit verstaanbaar vir die laat 20ste vroeë 21ste eeu moet uitroep, of sal daar kunstenaars en predikers wees wat gewillige kanale sal wees vir die radikale en relevante boodskap van vergifnis, verlossing en nuwe lewe? Hierdie gewillige manne en vroue van God sal IN die wêreld leef as burgers van die Koninkryk. Daarom sal hulle saam met Myers tot die volgende konklusie kom: “It is not in the interest of spreading the gospel that God’s people be a sequestered group any longer. The great message of the gospel is intended to go to the ends of the earth. To accomplish that, the people of God must be found in all cultures, eating and drinking, enjoying music and art, and making tools with those who do not yet know the gospel” (1989,49).

7.         Bibliografie

7.1       Geraadpleegde boeke

Beuchner, F.  1977.  Telling the truth - the Gospel as tragedy, comedy & fairy tale.  New York: HarperCollins.

Bonnhoeffer, D.  1981.  Letters and papers from prison............................................................

Du Plessis, K.  1981.  Kinders van die wind...............................................


Ellsworth, D.P.  1979.  Christian music in contemporary witness: historical antecedents and contemporary practises.  Grand Rapids: Baker Book House.

Fischer, J.  1988.  Real Christians (don’t) dance.  Minneapolis: Bethany House Publishers.

Fischer, J.  1996.  What on earth are we doing - finding our place as Christians in the world.  Ann Arbor: Servant Publications.

Gaebelein, F.E.  1985.  The Christian, the arts and truth: regaining the vision of greatness.  Portland: Multnomah Press.

Gire, K.  1996.  Windows of the Soul - experiencing God in new ways.  Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Hendriks, H.G.  1988.  The 7 Laws of the Teacher.  Atlanta: Walk thru the Bible Ministries.

Heyns, J.A.  1978.  Dogmatiek.  Pretoria: N.G.Kerkboekhandel Transvaal.

Jasper, T.  1984.  Jesus and the Christian in a pop culture.  London: Robert Royce.

Kraft, C.H.  1979.  Christianity in Culture.  New York: Orbis Books.

Myers, K.A.  1989.  All God’s Children and Blue Suede Shoes.  Wheaton: Crossway.

Peters, D & Peters, S.  1986.  What about Christian Rock?  Minneapolis: Bethany House Publishers.


Turner, S.  1995.  Hungry for Heaven: Rock and Roll and the search for Redemption.  London: Virgin & Kingsway Publications Ltd.

7.2       Tydskrifartikels

Gornik, M.  1987.  Liberating rhythms, Sojourners, 16 (12), 41-43.

Klopper, G.  1998.  The pop Gospel, Sunday Times Magazine, 8 March, 11-13.

Lang, B.  1990.  Expect diversity and maturity from Gospel in the ‘90s, The CCM update, 4 (8), 1-2.

Mouw, R.  1991.  Preaching Christ or packaging Christ?, Christianity Today, 11 February: 29-32.

Schrag, B.E.  1989.  Becoming bi-musical: the importance and possibilities of missionary involvement in music, Missiology: An international review, XVII (3), 311-319.

Sullivan, M.  1987.  ‘More popular than Jesus’: The Beatles and the religious far right, Popular Music, 6 (3), 310-326.

7.3       Aanbevole boeke

Celek, T & Zander, D.  1996.  Inside the soul of a new generation.  Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Dunphy, E.  1988. Unforgettable Fire: The story of U2.  London: Penguin Books.


Fischer, J.  1988. True Believers (don’t) ask why.  Minneapolis: Bethany House Publishers.

Schaeffer, F.  1982.  Addicted to mediocrity: 20th Century Christians and the Arts.  Westchester: Crossway Books.

Short, R.L.  1965.  The Gospel according to Peanuts.  Richmond: John Knox Press.

Strobel, L.  1993. Inside the Mind of Unchurched Harry & Mary - How to reach friends and family who avoid God and the Church .  Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Strobel, L.  1994.  What Jesus Would Say - to Rush Limbaugh, Madonna, Bill Clinton, Michael Jordan, Bart Simpson, Donald Trump, Murphy Brown, Madalyn Murray O’Hair, Mother Teresa, David Letterman & You.  Grand Rapids: Zondervan Publishing House.



















     1 Rock-musiek word hier gebruik as ‘n generiese term vir alle moderne musiek.  Beginsels wat bespreek sal word in hierdie hoofstuk sal ook toegepas kan word op moderne klassieke musiek soos filmklankbane, en moderne popmusiek.
     2 Bykans ‘n derde van die wêreld word op die een of ander wyse met die Christendom in verband gebring, terwyl die moderne musiekbedryf saam met ander populêre kultuuruitinge een van die grootste bedrywe in die wêreld is.
     3 Cockburn, B. 1991. “Great big love”, Golden Mountain Music Corp. Nothing but a                burning light. Columbia.

     4 U2. 1997. “Mofo”, Polygram International Music Publishing. Pop. Island Records.
     5 Simon & Garfunkel. 1989. “The sound of silence”, Gallo Music. Sounds of silence.                        Gallo GRC.
     6 Cockburn, B. 1976. “Little Seahorse”&”Lord of the starfields”, Bugle Songs. In the               falling dark. True North Records
7Van der Merwe, K & Geyser, T. 1998. “Statistiek”, MAR Gospel Music Publishers.              Proploos. Maranatha Record Company.
     8 Die CD heet Paradysplagiaat (Maranatha Platemaatskappy 1995).
     9 Die CD heet Us (RealWorld 1992).
     10 Alle liedere deur Eleison is vanaf die Maranatha Platemaatskappy CD Eleison - 1994.
     11 Kombuis,K. 1990. “Boer in beton”, Elke boemelaar se droom.
     12 Browne, J. 1996. “Looking East”, Swallow Turn Music. Looking East. Elektra.
     13 Vanaf die CD ‘n Handvol vars genade (Brettian 1994).
     14 Vanaf die CD Outeur van die Lewe (Brettian 1995).
     15 Voorheen gepubliseer in ons klyntji: laat-herfs 1998, 9-15)
     16Vir ‘n uitstekende bespreking van dié teksgedeelte asook die verhouding tussen die Christen en die wêreld en kultuur, sien John Fischer se boek What on earth are we doing - finding our place as Christians in the World. Hy skryf o.a. dat vers 15 ‘n dialoog veronderstel waarin die Christen eers na die vraag moet luister. Om ‘n antwoord te kan gee “...we need to be carrying on a constant dialogue with our faith and culture” (1996).
     17 Lennon, J. 1970. “God”, Northern Songs Ltd. Plastic Ono Band. EMI Records Ltd.
     18 U2. 1997. “If God will send His angels”, PolyGram International Publishing. Pop.                  Island.