Donderdag 01 Desember 2016

GEORGE HOU KONFERENSIE




Besondere Bybelkonferensie 

bemoedig en begeester

Francois Mulder, leraar van Blanco NG Kerk, skets oorsigtelik die onlangse konferensie oor Skrifgesag in George. 

1 Desember 2016

1. INLEIDEND

Sewentig van ons sit in ‘n historiese gebou, ingewy in 1843, herbou in 1906. Hierdie pragtige kerkgebou is die tuiste van Moedergemeente George in die Suid-Kaap, gestig in 1813. Drew de Kock, gemeente bestuurder, se woorde tref: "Ons wil hê mense moenie nét die pragtige gebou raaksien nie, maar ook die pragtige Here van die gebou en die gemeente."

Ons is byeen as volgelinge van ‘n Man wat 2000 jaar gelede geleef het, en so glo ons, stééds leef en heers. Sy woorde en Woord is ons onderwerp vir die volgende twee dae.
                                                                                       
Die program in my hand vra die dringendste van vrae:

“Die Bybel in gedrang?” 
                                           
                                                        
Moedergemeente het die inisiatief geneem na verlede jaar se kontroversiële sinodesitting in Pretoria. Maande se beplanning gee geboorte aan hierdie konferensie as ‘n herfokus op die Bybel as die Woord van God in mensetaal. Almal is bewus van die olifant in die kerkgebou – die spanning in die kerk oor selfdegeslag verhoudings. Die doel van ons saamwees is egter ‘n doelbewuste weg-KYK vanaf die olifant en nuut-KYK na die bron van ons geloof: die VaderSeunGees wat geopenbaar word in sy Woord.

Vier sprekers van regoor Suid-Afrika is ons gidse op hierdie opwindende reis deur ‘n antieke versameling boeke saamgebind tussen twee swart buiteblaaie. Tydens die reis staan ons stil by die ontstaan, kanonisering, uitleg, verstaan en gesag van die Bybel.

Alhoewel elkeen van hierdie vier teoloë ‘n formidabele CV het, beleef ek hulle tydens die konferensie as nederige, lewenslange studente van die Woord. Hul unieke agtergrond, roeping en invalshoek het tot gevolg dat iets unieks op die tafel gesit word. Hulle leef met oop oë en ore om God raak te sien en raak te hoor, veral in sy Woord. 

Fanie Cronje (NG Gemeente Riviera-Jakaranda) is passievol oor Bybelse argeologie en alles Ou Testament. Roedolf Botha (Dialoog & E-kerk) is ‘n apologeet van formaat wat in dialoog bly met ‘n skeptiese wêreld. Stephan Joubert (E-kerk) is ‘n besondere woordkunstenaar wat al vir dekades ‘n sagte en kreatiewe “gentleman-profeet” vir die NG Kerk is. Chris van Wyk (NG Gemeente Somerstrand) is ‘n man van die Woord en Bybelskool-guru, steeds verlief op die Outeur van die Woord en Lewe.


 GEORGE BYBELKONFERENSIE SPREKERS & ORGANISEERDERS                       
Van links na regs: Drew de Kock (Gemeentebestuurder, Moedergemeente George), 
Francois Mulder (Leraar, Blancogemeente, George), André Pieterse (Leraar, Moedergemeente George), Fanie Cronjé (Leraar, NG Gemeente Riviera-Jakaranda), Chris van Wyk (Leraar, NG Gemeente Somerstrand), Roedolf Botha (Dialoog & E-kerk), Stephan Joubert (E-kerk), Steve van der Walt (Leraar, Moedergemeente George) en Jaco Van Niekerk (Lidmaat, Moedergemeente George.) Voor: Ferdi Boll (besig met sy praktiese Teologie jaar in Blancogemeente, George. Hy word DV 27 November gelegitimeer)


2. BYBELKUNDE 101

Dis nie ‘n maklike taak om geleerdes, gelegitimeerdes en “gewone“ gelowiges in dieselfde vertrek te kry vir ‘n konferensie oor die Bybel nie. Hoe oortuig mens gemeentelede dat doktore sal probeer om in eenvoudige Afrikaans te praat? Hoe besweer mens moeë, rondhardlopende leraars se vrese dat dit ‘n moeisame en vervelige Bybelkunde 101 lesing gaan wees? Maar na twee besondere dae is almal dit eens: ons is uitgeboul deur die eenvoud, kompleksiteit, rykdom en misterie van die Woord.
Ouderling Janna van der Colff, afgetrede polisieman, som terugskouend baie van die konferensiegangers se gevoel op as hy sê: “Dit was ‘n kragtige ervaring. In twee dae is die Woord vir my oopgebreek.” Grappenderwys erken hy egter ook: “Na twee dae se sit is my boude in gips.”

3. HISTORIESE OORSIG OOR KANONVORMING

Die konferensie skop af met Fanie Cronjé wie se kennis van die antieke wêreld konferensiegangers aan sy lippe laat hang. ‘n Geskaterlag volg toe hy die Biblia Hebraica (Ou Testament in Hebreeus) vertoon en verklaar: “Sommige kollegas lees uit hom, ander gebruik hom as 'n deurstop." Later
verklaar hy: "Die rugby is pateties op Saterdae, lees eerder Bybel en doen Bybelstudie." Op ’n ernstiger noot weerklink sy belydenis: 

"As jy met die Bybel besig is, besef jy dat
die Bybel eintlik met jóú besig is." 


Uit die mond van al vier sprekers kom die belydenis in ooreenstemming met die NG Kerk se kerkorde artikel 1: die Bybel is die Woord van God. Ons beleef ‘n voëlvlug oor die ontstaansgeskiedenis van die Ou en Nuwe Testament en bespreek ook die uiteindelike vaslegging van die Kanon. Daarna maak ons ‘n interessante draai by Qumran, die argeologiese terrein wat dateer uit die tyd van die Tweede Tempel en wat bekend geword het sedert 1947 toe 'n aantal antieke manuskripte gevind is in die omgewing se grotte. Hierdie manuskripte staan bekend as die Dooie See-rolle.
 
As iemand wat die sinvolheid van die evangelie in alledaagse taal probeer verduidelik, verklaar Roedolf Botha die vinnige ontstaan van die Nuwe Testament (binne 70 jaar het ons al die dokumente van die Nuwe Testament) te midde van die eksplosiewe groei van die vroeë kerk vanuit die opstanding van Jesus Christus. Iets radikaals móés gebeur het om die eksponensiële groei en transformerende effek van die eerste Christene in die eerste drie eeue na Christus, te verklaar.

Hy parafraseer NT Wright as volg:   

As daar nie 'n historiese opstanding was nie, sou daar nie 'n Nuwe Testament gewees het nie.”                                                                         
Dáárom sê hy: "Ek is 'n 'includer' maar ek glo jy breek met die Christelike tradisie en vroeë kerk as jy die opstanding verwerp."

Oor die gesag van die Woord omarm hy die organiese inspirasie teorie – naamlik dat God die menslikheid van die Bybelskrywers gebruik het. Deurslaggewend vir die betroubaarheid van die Nuwe Testament is die feit dat dit geskryf is in die tyd van die ooggetuies. Die betroubaarheid van die mondelinge tradisie oor Jesus lê vir hom in die feit dat die volgelinge van 'n rabbi se 1e taak was om letterlik al sy woorde te memoriseer.” Ook sê hy: "Dis só cool dat die Here sy Woord in die Nuwe Testament laat skryf het in die straattaal van die tyd: Koine Grieks."

4. HUIDIGE KONTEKS EN BYBEL INTERPRETASIE

Hoe verstaan ons die Bybel in die 21ste eeu? Chris van Wyk bemoedig en bevestig elkeen wat worstel met die Bybel: "Dis 'n wonderlike voorreg om met die Woord te werk." Vir hom is die Woord ‘n huis om in te woon. Leraars daag hy uit: “Wys in die prediking hoe die teks deur jóú gegaan het. Onthou, God se lewende stem kom na ons in die Woord.”

Nehemia 8:9 is vir hom ‘n pragtige uiteensetting van die taak van uitleggers van die Woord:

“Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God,
        * voorgelees ( קָרָא ) en dit
        * uitgelê (פָּרַשׁ )
        * Hulle het die betekenis ( שֶׂכֶל ) weergegee
        * sodat die mense kon verstaan ( בִּין ) wat gelees word.”

In sy aanbieding pleit hy vir ‘n verantwoordelike literêr-historiese lees van die Bybel, maar herinner ons: “Jesus word in die Nuwe Testament by uitnemendheid as die hermeneut geteken, die een wat tot werklike verstaan begelei, wat harte en ook verstande oopmaak om te kan verstaan.”

Oor ons huidige konteks konfronteer Roedolf Botha volstruis-teoloë: "Jy kan nie 'n goeie dominee wees as jy nie fliek nie. My geestelike dissiplines is bid, Bybellees en fliek."                                                                            
Op meesterlike wyse bring hy Plato en The Matrix  bymekaar met ‘n konklusie: "Meeste mense is nie geïnteresseerd in die realiteit nie, maar verkies ‘n leuen. Ignorance is bliss." In antwoord op ‘n paar vraagteken-gesigte by sommige van sy fliek- en Ateïs-skrywer voorbeelde spot hy: “Ouens, julle moet meer uitkom!”  

5. GEPRAAT VAN KANON EN KANONNE

Stephan Joubert herinner ons dat die kanon – die 66 gesaghebbende boeke van die Bybel – nie as oorlogs-kanon gebruik mag word nie.  “Die Bybel is die waarheid, maar nie ‘n wapen nie.” As tweesnydende swaard sny die Woord diep in ons eie hart, ontwapen ons en verander ons in reddingswerkers in ‘n rampgevulde wêreld.

Roedolf Botha eggo hierdie sentiment as hy sê: "Die hart van die Christelike geloof is anti-imperialisties. Die kruis help ons om mag weg te gee. Dán doen die kerk goed." Daarom gaan dit vir Bybelgehoorsame gelowiges nooit oor ‘n aardse koninkryk van krag en mag nie. Hy herinner ons: "Al wat van die Romeinse Ryk oorgebly het is ons noem ons kinders Petrus en Paul en ons honde Brutus en Nero."

‘n Besondere bril wat Roedolph voorhou vir Bybelverstaan is om te besef:         
* God is die Hoofkarakter van die ganse Woord
                * Jesus is die Hoofkarakter van die Nuwe Testament
                * 70% van die Bybel is verhale
                * Jesus se hoofboodskap is die Koninkryk van God.

Stephan Joubert waarsku dat ons nie geroep is om selfaangestelde advokate vir God, Bybelverdedigers en Sondaar-aanklaers en -arresteerders te wees nie. Die Bybel vra nie om verskoning nie. Ons mag nie die Bybel mak maak deur dit voorspelbaar, veilig en vervelig te tem nie. Te veel Christene verander die Bybel van ‘n Lewensboek na ‘n Slaaptydboek wat net voor slaaptyd gelees word om te sus.


“Baie mense sê sola Scriptura, maar weet sola Niks van die Bybel omdat hulle doodgewoon nie die Bybel LEES nie. Jy mag nie die Bybel lees asof dit ‘n Groot Verseboek is nie.” Ten slotte gebruik hy die voorbeeld van ‘n Wilbur Smith boek wat mens van begin tot einde moet lees, anders sal alles vir ons deurmekaar wees. Net dalk is dít die rede waarom so baie Bybellesers effens deurmekaar voorkom.
Wat my altyd sal bybly van dié konferensie is Stephan Joubert se oproep:

“Kom ons val in eerbied neer voor die Outeur van die Woord.”

6. OPSOMMEND

Aan die einde van die konferensie is die sprekers gevra om hul aanbieding en vertrekpunt in een sin op te som:

Fanie Cronjé: “Ek pleit vir ‘n kultuur-sensitiewe lees van die Bybel – sensitief vir die kultuur waar dit vandaan kom, sensitief vir die kultuur van vandag.”

Chris van Wyk: Die Bybel se gesag lê in God self opgesluit. Ek wil die woord vir sinode beklemtoon – sin hodos = saam lees van die Bybel. Dis die sleutel vir ons eie oorlewing.”

Stephan Joubert: “God is nie ‘n problem om op te los nie. Hy’s die God van verhoudings om saam mee te leef.”

Roedolf Botha vertel die verhaal van Karl Barth, die beroemde Duitse teoloog, wat in 1962 op ‘n vraag die essensie van al sy werke opsom met die woorde: “Jesus loves me this I know, for the Bible tells me so."

Interessante inligting uit Fanie Cronjé se aanbieding:
* Die Ou Testament is geskryf in ‘n antieke taal genaamd Hebreeus, met  
   die uitsondering van die volgende gedeeltes wat geskryf is in
   Aramees: Genesis 31:47, Jeremia 10:11, Esra 4:8 - 6:18 & 7:12-26 en
   Daniël 2:4-7:28
* Die Ou Testament wat die eerste Christene en daarna tot en met die
   Reformasie van die 16e eeu gelees het was geskryf in ou-Grieks (die  
   Septuagint) en ou-Latyn (die Vulgaat).
* Die Ou Testament is vir die eerste maal as een boek gedruk in 1488.
Interessante inligting uit Stephan Joubert se aanbieding:
* Die Bybel is vir die eerste maal ingedeel in hoofstukke in 1227 AD.
* Teksverse is vir die eerste maal in die Ou Testament ingesit in
   1448 AD.
* Teksverse is vir die eerste maal in die Nuwe Testament ingesit in
   1555 AD.

Besondere aanhalings:

Stephan Joubert haal Gerhard F. Hasel aan:
"Often critical scholars seek to understand Bible writers on their own terms; if the Biblical picture is in conflict with the modern understanding of the world and man, then the Biblical view is reinterpreted in such a way so as to remove its conflict with that of the modern conception."

Chris van Wyk haal Frank Viola en Leonard Sweet aan:
“The more you marinate your mind and soak your soul in the Scriptures, the more the Word becomes your words—the more its words become part of the warp and woof of your life, including your unique phrasings and idioms.”
 

Verskeie kursusgangers het Stephan en
Roedolf se nuutste boek,
Hoe om die Bybel reg te lees, aangeskaf.
Heelwat van die temas van die
konferensie word breedvoerig in die
boek aangespreek. 
Dvd’s van die konferensie is beskikbaar:

Drew de Kock
Gemeentebestuurder
Moedergemeente George

Tel. no:   044 874 2036
Selfoon: 082 852 8632
Faks:        044: 874 2037
e-Pos:      ngmoeder@caw.org.za