Woensdag 03 Junie 2015

HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MENS TE ONTMOET



* ongeredigeerde weergawe van 'n 2014 Kerkbode artikel

HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MENS TE ONTMOET




Op pad na ‘n boekbekendstelling het FRANCOIS MULDER se pad gekruis met dié van ‘n vriendelike vreemdeling – en hom laat dink oor Christenskap en verhoudinge. Hy vertel sy storie.


Dit is Sondag na kerk en ons gesin van vyf is in ons “made-in-China”-motor op pad Mall toe. Tiener-ouer-skermutselings wissel tennis-vinnig tussen lag en berispe.                                                                       
Dit is tyd vir ‘n speletjie soos toe ons in 2010 vir tien kilometer in Frankryk se platteland ‘n karre tel kompetisie gehou het tussen Peugeot, Citroën, Volkswagen en die uiteindelike wenner met 59: Renault.

Die blou kombi voor ons met die CZ nommerplaat laat my skielik wonder: Waarvandaan is CZ? En toe die speletjie – wie kan eerste regraai? Knysna? Nee, dis CX. Oudtshoorn? Nee, dis CG. Wat’s Kaapstad nou weer? CA! En Mosselbaai? CBS! Nou wat’s CZ dan? Nie een van ons weet nie. Zastron? Nee, Vrystaat. Nou’s dit ek en my beter helfte wat flinkdink ping-pong speel: Kroonstad is ... OM! En Bethlehem ... OA. Bloemfontein ... OB. Maar dis ou Suid-Afrika nommerplate daai – net die Kaap en KZN het nog stad en dorp nommerplate. Is dit nie dalk Zeerust nie?

Ek laai die familie by die Mall af, die CZ-episode vergete totdat ek in die parkeerterrein in die hoek van my oog die blou kombi sien. Impulsief stop ek sommer in die middel van die pad en beduie vir die bestuurder dat ek wil gesels. Hy sluit die kombi en nuuskierig-voorbarig vra ek:

“Our family was wondering what CZ stands for on your number plate.”

“Oh, it’s Beaufort-West.”

“Really! Have you heard of the Afrikaans singer Gert Vlok Nel and the song that made him famous - Die beautiful woorde van Beaufort-Wes?”

“No, it’s on the N2.”

“Can I take a picture of you and the combi to show my family?”

“Yes of course!” Ek gryp my kamera en zoom in vanaf my bestuurder sitplek deur die voorste passier venster en “piep-piep ... kliek.”

Skielik voel-voel ek vir my selfoon, maar dis weg. Tipies verstrooide professor, of my nuwe vriend het dit sopas deur die oop venster ongemerk gesteel. Ek voel skaam oor my laaste gedagte, maar “my selfoon” roep dit in my kop, byna soos Gollum oor sy “precious” ring se verlies in Lord of the Rings.

“I’ll phone it for you, what’s the number?” Sal hy my selfoon bel as dit intussen in sy broeksak wegkruip? “082…” Ek klim uit die kar, maak van die deure oop en voel oral. Skielik hoor ek my ringtone, Bruce Cockburn se vrolike “dankbaar die aarde leef nog” lied Wondering where the Lions are. Waar? Onder die voorste passasier sitplek.

“Thank you so much! What’s your name?”

“Taelo, my surname is Taelo.”

“And your name? Do you have WhatsApp?”

“No, my phone is too old.”

“I’ll MMS the picture for you – I’ll save your number – it’s on my missed call list. And your name?

“Lehloka.”

“How do you spell that?”

“L E H L O K A.”

“Like this?”

“Perfect! And your name?”

“Francois Mulder.”

“My former boss’ name was Francois.”

“It’s great to meet you Lehloka! I’m a pastor at a Church here in George.”

“Oh, I embrace Islam.”

“I can see,” en ek beduie na sy kop.

Ons waai vir mekaar met leë beloftes van mekaar opsoek in George en/of Beaufort-Wes.

En ek’s alweer oppad ... effens ryker, want ek’t ‘n glimlaggende CZ-mens ontmoet. Ene wat beslis langs die N1 of N2 sou gestop het om my te help met ‘n pap band.

Ja, in geloof verskil ons hemelsbreed en sal waarskynlik nooit daaroor saamstem nie. Maar in menswees deel ons so baie – beide geskep deur dieselfde SkepperGod.

Mooi loop mnr Taelo, dit was goed...

En by die boekbekendstelling van dr Marius Potgieter se “Die Huis van die Here in die 21ste eeu” ‘n halfuur later verklaar hy: “Die Kerk is nie ‘n organisasie nie maar ‘n gemeenskap wat bestaan ter wille van verhoudinge: #1 met die Here, #2 met die Wêreld en dan eers #3 met Mekaar.

Later dink ek weer oor Lehloka se stelling: “I embrace Islam.” “Embrace” ek die Christendom? Nee, ek omhels Jesus Christus. Of eerder, Hy omhels my!

Dis Jefferson Bethke wat die Youtube-wêreld oorrompel het met sy video: “Why I hate religion, but love Jesus.”

Bill Hybels se “Aansteeklike Christenskap” kursus tref ook ‘n onderskeid tussen “Godsdiens” en “Christenskap.” Godsdiens is al die dinge wat jy moet “DOEN” om God tevrede te stel. Christenskap is “GEDOEN” want Jesus Christus het alles klaar gedoen wat nodig is vir jou om in ‘n verhouding met God te staan. Christenskap is ‘n verhouding.

Mag my lewe wys dat ek nie die Christendom omhels as godsdiens nie, maar deur Jesus Christus omhels word en in ‘n lewende verhouding met Hom staan.


Ps. Hierdie artikel het ek eers getitel as “HOE OM ‘N VRIENDELIKE CZ-MOSLEM TE ONTMOET”, maar vanoggend toe tref dit my: ek het nie gister ‘n Moslem ontmoet nie, ek’t ‘n Godgeskape MENS ontmoet!

1 opmerking:

  1. Thanks for sharing, nice post! Post really provice useful information!

    FadoExpress là một trong những top công ty chuyển phát nhanh quốc tế hàng đầu chuyên vận chuyển, chuyển phát nhanh siêu tốc đi khắp thế giới, nổi bật là dịch vụ gửi hàng đi mỹ, gửi hàng đi nhậtgửi hàng đi pháp và dịch vụ chuyển phát nhanh đi hàn quốc uy tín, giá rẻ

    AntwoordVee uit