Vrydag 24 Desember 2010

KERKBODE ARTIKEL: Ons kort meer Thandi’s in Suid-Afrika!

Ons kort meer Thandi’s in Suid-Afrika!

Wanneer “streng dokter” jou afboek vir ‘n week en daar staan “Sino Brongitis Flu” gevolg deur “Streng bedrus” op die Mediese sertifikaat, dan weet jy: dié week is dit jy, die duvet, die laptop en die wêreldrekord vir die meeste pille-afsluk-op-een-slag!

Dan begin jy met ‘n “om-te-doen-tydens-die-onverwagte-baie-tyd-lysie”:

1. 100 maal stem vir Elvis Blue op MXit (dankie Gert Barnard jnr dat jy die oom stap vir

stap verduidelik het.) GEDOEN!

2. Kies slegs een uit die volgende vier moontlikhede (die dokter het ook iets gepraat van matigheid):

a) Lees Randy Pausch se “Last Lecture” en begin skryf aan my “Last Sermon” –

mens weet nooit!

b) Kyk die dvd-reeks “One month to live.”

c) Kyk “Bucket List” en “Dying Young” in een sitting.

d) Skryf daai artikel vir “Kerkbode” klaar wat al twee maande by jou spook – die een oor

die slegte ongeluk waarop ons afgekom het.

Alle grappies op ‘n stokkie – as jy dié artikel lees, dan weet jy dat opsie D gewen het. ‘n Paar ongelukke en ‘n paar sterfgevalle “spook” die afgelope tyd by my. Nie dat ek moet kla nie – soos dit liewe Gert Niehaus se lot is as die werklik-omgee begrafnisondernemer van George, is dit elke dominee s’n ook – elke nou en dan moet die dood van aangesig tot aangesig in die oë gekyk word.

Twee weke gelede het die Burger-lamppale dit uitgeroep: “Knysna geskok oor Predikant se dood.” Ek het twee maal saam met dominee Jacques du Toit (30) kursusse in Hartenbos bygewoon. So bietjie gesels, maar niks om oor huistoe te skryf nie. Ons was dus kollegas in buurdorpe ... ek in George en hy Knysna. Besig in ons elkeen se klein hoekie ... tot die skok-berig! En die skielike besef ... dit kon netsowel ek gewees het! Jong dominees sterf ook – Jacques op ‘n motorfiets, Stefan Louw via ‘n inbreker-koeël...

My gunsteling sanger is die Kanadees Bruce Cockburn, Kanada se besbewaarde geheim. Hy’s die troebadoer wat my al die meeste oor lewe en dood laat nadink het. En laat lag het:

“I could have been hit by a falling pane of glass; You could have had shark teeth write "finit"; We could have been nailed by some vigilante type; In a case of mistaken identity – obviously; Anything can happen; To put out the light; Is it any wonder; I don't want to say goodnight?” (Anything can happen 1980.)

Ek sien die gebeure nog helder in my gedagtes: Toe my drie kinders gelyk skree: “Stop pappa!”, toe weet ek hier’s moeilikheid. Ons rustige aandjie sou nie weer dieselfde wees nie.

10111 … “kom dadelik, ‘n voetganger is deur ‘n bakkie getref … stuur ambulanse ook!” Ons staan in die middel van die pad – die straat reg voor my oudste se Hoërskool.

Ek sien eerste sy kaal voete - die een skoen lê tien meter na regs, die ander tien meter na links van hom in die pad. Hy lê roerloos, gesig na die teerpad, een meter langs die sperstreep. Ek merk op sy hare is gevlegte rasta-lokke. Hy’s opslag dood flits dit deur my brein.

Die bestuurder van die bakkie praat oor ‘n selfoon – hy lyk geskok en verwese. “Laat weet my ma-hulle, ek het iemand raakgery … ek dink nie hy gaan dit maak nie.” Sy stem bewe, hy’s bleek en begin huil in sy een hand. “Moenie dat hulle nou-al kom nie, hy lê nog in die pad. Die ambulanse is nog nie hier nie.”

Om 18:57 het ek dit so verwoord op my facebook-status:

“Afgekom op 'n ongeluk regoor Hoërskool Outeniqua in die reën en die polisie gebel: 'n bakkie het 'n voetganger getref. Thandi van George hospitaal het haar naam (liefde) gestand gedoen en vir 15 minute probeer om die slagoffer by te bring, maar helaas onsuksesvol. Aaklige gevoel op my maag :-(

In die middel van die straat, in die reën, op haar knieë langs ‘n tref-en-trap slagoffer. Sy kon nie verby ry nie. Sy kon nie maar net ‘n “onskuldige omstander” bly nie. Sy moes help, sy was sy laaste hoop! En vir 15 minute gee sy haar alles om hom te red. Aanvanklik wonder ek – maar sien sy nie hy’s opslag dood nie? Maar dan tref dit my – as ek daar op my rug gelê het, of my kind, sou ek ook iemand wou hê wat nie moed opgee met my nie. Wat met geweld hartmassering en met vasbyt mond-tot-mond asemhaling gee. Toe sy stap na haar motor hardloop ek haar in en sit my arm om haar en sê: “Thank you so much for what you’ve just done for that man!” Sy antwoord: “I tried my best, but it wasn’t enough ... eish!” “What’s your name?” “Thandi. I work at George hospital.”

Op pad terug huis toe tref dit my – haar naam Thandi is afgelei van ‘n Xhosa woord wat liefde beteken. Thandi het sopas gewys hoe praktiese liefde lyk. Ons kort baie meer Thandi’s in Suid-Afrika! En in my gedagtes eggo die woorde van Lukas 10: “Gaan maak jy ook so.”

Francois Mulder