27 April 2017, Kerkbode
Michelangelo
Michelangelo (6 Maart 1475 – 18
Februarie 1564) is gebore agt jaar vóór Martin Luther en leef
uiteindelik nog agttien jaar na dié hervormer se dood in 1546. Soos Luther, is
sy invloed sigbaar tot vandag, al is dit in ‘n totaal ander sfeer. Een van sy
kunswerke het my nog altyd gefassineer: die beroemde fresko “die skepping van
Adam” wat pryk op die plafon van die Sistynse Kapel in Rome. Wanneer mens
infokus op God en Adam se hande, sien jy dat hul wysvingers net-net nie raak
nie. In my gedagtes was dit nog altyd ‘n versinnebeelding van die mens se soeke
na God. ‘n Smagting na sy skeppende aanraking te midde van die afstand en
skeiding wat sonde bring.
In Jesus Christus het die Vader
opnuut die mens kom aanraak en die skeiding kom deurbreek. Die oomblik wanneer
daardie twee vingers mekaar raak, is daar vergifnis en nuwe lewe.
Kreatiwiteit is vir my die
oomblik van aanraking deur die Skepper-Vader. Hy as die kreatiefste wese in die
heelal, is die bron van alle kreatiwiteit. Soms vir ‘n oomblik wil dit voorkom
asof die vinger van God óók die van sommige kunstenaars
aanraak om as profete op te tree deur verskillende kunsvorme.
Gevolge van hervorming vir kuns
Een van die verstaanbare maar tog hartseer gevolge
van die hervorming vyf honderd jaar gelede, was ‘n breuk tussen die protestante
en die “Katolieke kunste.” Die beeldhouwerk en muurskilderye in die Roomse
katedrale het die hervormers net té veel herinner aan alles wat
hulle verwerp het onder leiding van Luther, Zwingli en Calvyn. Die
“beeldenstorm” van 1566 in die lae lande is ‘n ekstreme voorbeeld van die
vernietiging van Roomse kunswerke en beeldhouwerk. Die gevolge hiervan is deur
die eeue gesien in ‘n wantroue van kunstenaars in die algemeen. Protestantse
kunswerke het drasties afgeneem en kunstenaars het religieuse temas al hoe meer
begin vermy. Dis interessant om enkele protestantse kunswerke uit die
hervorming te sien wat Jesus uitbeeld, maar natuurlik sonder die Roomse
“stralekrans”. Met die bogenoemde “kuns-breuk” het die kerk geweldig baie
verloor: die kind is met die badwater uitgegooi.
Kerse, kruise en kunswerke in
kerke is egter nie die uitsluitlike eiendom van die Rooms Katolieke kerk nie.
Gelukkig het dit deur die eeue verander met ‘n nuwe omarming van kuns as
uitdrukkings van kunstenaars se liefde vir God en tot opbou van die gemeente.
Daarom in NG kerkgeboue regoor ons land is daar bewyse van kunstenaars wat hul
geloof uitleef deur kunsvorme te beoefen wat deur gemeentes verwelkom
word.
Fotografie, dans, digkuns,
kontemporêre musiek en skilderkuns kan funksioneer soos die gelykenisse van
Jesus wat Woord-Waarhede verlig en verstaanbaar maak.
“A Christian should use these arts to the glory of
God, not just as tracts, mind you, but as things of beauty to the praise of
God. An art work can be a doxology in itself.”
Só skryf die bekende Amerikaanse
teoloog, Francis A Schaeffer (1912 – 1984), in sy boek Art & the Bible.
Grassade in die wind
Stef Kruger: Die liedjieskrywer en
kunstenaar Stef Kruger saam met Francois Mulder. Stef hou sy Psalmskildery vas
Tydens Blancogemeente in George se Psalm-kwartaal in 2013 is verskeie kunstenaars vanuit verskillende dissiplines aangewend om die Psalms van die Ou Testament kleur en klank te gee. Louis Brittz het van sy Psalm-toonsettings kom sing terwyl Stef Kruger sy lied Grassade in die wind gesing het tydens ’n erediens as ’n moderne Psalm-weergawe van Psalm 103: 15-16.
Psalm 103:15-16 Grassade in die wind
Die mens, sy lewensduur is soos
dié Ons is maar grassade my kind
van gras, soos dié van 'n veldblom in die wind verwaai my kind
wat oopgaan: as die woestynwind ons is maar grassade my kind
daaroor
waai, is dit weg en sy in die wind
plek vir altyd leeg. verwaai.
Psalm 119:176 Dan verdwaal my siel
Ek het verdwaal soos ’n skaap Somtyds as die son sak
wat weggeraak het, somtyds as ek bang raak
U moet my soek, is dit net die plek vir my.
vir my, Kleure spat in skerwe
u dienaar, as die dag buite sterwe
want ek het nie maak die lewe sin vir my.
u gebooie vergeet nie. Dan verdwaal my siel…
Tydens die res van die prediking het Stef, omring deur die kinders van die gemeente, ’n impressionistiese kunswerk getiteld “Psalm” geskep, tot groot applous van die gemeente toe hy die finale produk omhoog gehou het. Na die erediens het hy geskerts: “Ek het al baie applous ontvang vir my musiek, maar nog nooit vir ’n skildery nie.”
Dié kwartaal is afgesluit met die
Mosselbaaise skilder, Maria Oosthuizen, wat haar getuienis kom gee het met van
haar skilderye uitgestal in die liturgiese area. Haar besoek het geboorte gegee
aan ’n besondere tradisie wat gevestig is in die gemeente naamlik om
skilderkuns te gebruik vir die voorblad van die jaarlikse kerkkalender.
Vir die
daaropvolgende jaar het Maria toestemming verleen dat ’n besondere kunswerk van
haar getiteld “Supernatural favour forgiveness” gebruik mag word vir die
2014-kalender. Dié pragtige, helderkleurige skildery van ’n dansende en
uitbundige dogtertjie versinnebeeld vreugde in die teenwoordigheid van die
Vader, Seun en Gees. Haar kunswerk vorm deel van ’n reeks getiteld “Beauty for
ashes.”
Vir Maria, wat geen formele
kunsopleiding het nie, is haar kuns ’n voltydse beroep, maar veral ’n roeping.
Sy het kreatiwiteit as’t ware met moedersmelk ingekry met ’n ma wat ook ’n
kunstenaar was. Haar inspirasie is God “omdat Hy die skepper is van alles wat
mooi is”. Sy vertel: “Hy het my geroep vir sy doel. Vanuit my gehoorsaamheid
aan sy roeping en my liefde vir kuns, verf ek met my totale wese om Hom te
aanbid. Daarom bid ek dat elke skildery mense sal aanraak soos wat ek aangeraak
is tydens die verf daarvan.”
Supernatural: Die kunstenaar, Maria, se
kunswerk wat op Blancogemeente
se 2014-kalender gepryk het.
Gee jouself
Gee: Verona Cronjé se kunswerk wat
in Blancogemeente se voorportaal pryk.
In 2015 het Verona Cronjé, ʼn lidmaat van Blancogemeente, se besondere kunswerk op die voorblad van die gemeente se kalender gepryk. Uiters gepas omdat die jaartema “Gee!” was. Die temalied vir die jaar was Louis Brittz se toonsetting van Romeine 12 getiteld “Gee jouself”. Verona, ’n fisioterapeut van beroep wat skilder vir ’n stokperdjie, het jare gelede dié kunswerk geskilder vir ʼn gemeentefees en daarna aan die gemeente geskenk.
Vandag hang dit in die
ingangsportaal van die kerkgebou. Dié titellose skildery is 2 by 1,5 meter
groot en wys twee hande wat ’n stuk brood breek.
Vir sommige gemeentelede is dit
die hande van Jesus wat die brood breek by die instelling van die nagmaal.
Verona self hoop dié skildery is
’n oproep aan gelowiges om tot aksie oor te gaan en hul geloof in Jesus Christus
uit te leef en uit te deel. Die kunswerk roep uit: “Géé jouself soos Jesus aan
God én mense!”
Oor haar kunstenaarskap vertel
sy: “My oortuiging is dat kuns die menslike hunkering na hoop ontsluit. Dat
dit, vir die gelowige, ver verby die luuksheid wat normaalweg met kuns
assosieer word reik na hoop … wat eintlik nie geskei kan word van skoonheid
nie. Die fokus om iets moois te wil produseer verskuif van selfsug of
selfbediening na om met ’n dringendheid die wêreld se fokus te skuif met elke
kwashaal weg van armoede, siekte, nood en moedeloosheid na hoop. Daarmee saam
ons Hoop en die Gewer daarvan. Dit word ’n refleksie van ons geloof.”
Laat die kindertjies kom!
En wat van die kinders van elke
gemeente wat oorborrel met aanvanklike selfvertroue en kreatiwiteit? As jy
hulle vra: “Wie van julle kan mooi inkleur?” is elke hand op! Êrens langs die
pad verloor hulle ongelukkig daardie spontaniteit en wete dat hulle kreatief
geskep is. Om hul kreatiwiteit aan te moedig het die Blanco-gemeente einde 2015
’n ope uitnodiging gerig aan die kinders van die gemeente om te help skep aan
2016 se kalender met die jaartema: “Huis”. Die uiteindelike kinderkuns-kalender
het daardie tema pragtig geïllustreer.
Kyk: Verona Cronjé oorhandig haar kunswerk aan Francois Mulder.
Einde 2016 het die leraarspan van Blanco vir Verona Cronjé gevra om ’n kunswerk te skep vir die 2017-kalender. Sy moes aansluit by die jaartema “Kyk!” asook die vier kwartaaltemas: Kyk na die Vader, Kyk na die Heilige Gees, Kyk na Jesus Christus en Kyk weer (na die Hervorming.)
Na aanleiding van 'n onlangse
besoek aan 'n oogkundige, het een van die leraars die voorstel gemaak van 'n
“phoropter” in die ontwerp. 'n Phoropter is 'n instrument wat oogkundiges
gebruik om tydens 'n oogtoets individuele lense op elke oog te toets. In haar
kunswerk kyk iemand deur so ’n phoropter.
Behalwe vir die gemeente se naam,
jaartema en die jaartal, het sy die woorde “Vader, Seun en Heilige Gees” op
kreatiewe wyse ingevoeg te midde van herfskleure en patrone. Met die eerste wys
van die skildery op die groot skerm tydens ’n erediens, het ’n tannie van agter
in die gemeente kliphard gevra: “Dominee, wat beteken dit?” Ek kon verduidelik
dat ons as gemeente in 2017 stip wil kyk na die Vader, Seun en Heilige Gees.
Maar soos met alle kunswerke is
elkeen se kyk en verstaan daarvan uniek. So vertel ’n voormalige koster van die
gemeente, die 97-jarige tannie Soes Stander, dat die skildery haar herinner dat
God orals kan sien. Iemand anders interpreteer dit weer as ’n herinnering dat
ons almal met verskillende brille kyk na die lewe.
Blancogemeente kalender: Die voorblad van die gemeente se 2017-kalender.
Die Here voorsien aan elke gemeente dit wat nodig is om hulle roeping uit te leef. Daarom glo ek dat Hy ook kunstenaars oprig in gemeentes om deur kwas, pen, kamera, instrument of stem mee te help in die opbou en groei daarvan.
Kom ons verwelkom en omarm opnuut
die kunstenaars in ons kerke as begaafdes wat met hul kunsvorme ons inspireer
en bedien met hul Godgegewe kreatiwiteit. En aan die kunstenaars: Kom verstom
ons met jul kreatiwiteit as heenwysers na die oorspronklike Groot
Kunstenaar.
Ds Francois Mulder is een
van drie leraars van Blanco NG gemeente in George, Suid-Kaap.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking