Maandag 11 Augustus 2014

REPLIEK OP ABEL PIENAAR SE "DOODSBERIG"



REPLIEK OP ABEL PIENAAR SE "DOODSBERIG"
14 Julie 2013
Dis Sondag oggend en ek wag vir my weeklikse Rapport-smous, Daniël Arendse. Ons deal is ek koop die koerant vir R20. En nou en dan ietsie ekstra te ete. En altyd ‘n gratis grappie of twee. Maar Daniël is skoonveld vanoggend en die kerkklok het al die eerste maal geroep oor Blanco. Daar’s geen haas by my nie, want dis my af-Sondag: geen verpligtinge tot Maandag! Dan’s dit voorlopig die tweede beste: m.news24.com/Rapport/ op my BlackBerry (klein skermpie) of www.rapport.co.za met die laptop (groter skerm).

Ek scan vinnig op my selfoon die hoofberigte. Drie trek my aandag: Kurt in ‘dood se akker’, Joost is kosgroep se held (ek wonder watter franchise?) en onder die OPINIE hofie is dit Kop & Hart: Is vandag dalk dié dag? Ek vind 1-2-3 uit dis Nando’s & Joost wat saam kraai en is daarna beïndruk met Jacques Steenkamp se skryfstyl in sy berig oor Kurt. Dan kliek ek my weg oop na Abel Pienaar se gereelde rubriek/blog op my selfoon. Ek moet bieg dat ek vroeër die week via twitter op ‘n ander wyse aangetrek is tot sy artikel, maar beplan het om dit in die koerant self te lees. Rapport het tweetend begin met:

Abel: n Blou voëltjie kom sit elke sonsopkoms op jou vensterbank en sing: “Is vandag dalk die dag wat jy gaan sterf?” bit.ly/12FUxgw
In reaksie het ‘n twitteraar getweet:
@RapportSA voeltjies is nie so morbied nie! Kry n pappagaai en n lewe! Bly weg van swart kraaie af! Morbiede siel!!!!
Die tweet-gesprek het so afgesluit:
@nanettedogs Lees Abel se blog en jy sal sien dis glad nie morbied nie. Inteendeel.

Ek hou van Abel Pienaar! Hy’t met die mannemoed van sy oortuiging die Kerk as sy werkgewer verlaat omdat sy standpunte verander het. Eerder as om net in woorde maar nie met sy hart die boodskap te preek en steeds te pay nie, het hy nuut begin. Dit vat guts!
Maar ek hou ook van sy haarstyl. Dalk is dit omdat my Dominee-Oupa via sy gene my ook ‘n kaalkop-lewe geskenk het.
Verder is ek baie beïndruk met sy welbelese skryfstyl: ‘n sinvolle aanhaling hier en ‘n diepsinnige vraag daar.

Na my eerste lees van die artikel tweet ek:
Baie goeie uiteensetting v doodsbeskouings wêreldwyd deur Abel Pienaar. Vir my bly Jesus se vraag in Johannes 11:25-26! @RapportSA @waldimar

In die artikel [beskikbaar by http://www.rapport.co.za/Opinie/Blogs/Kop-Hart-Is-vandag-dalk-die-dag-20130711 ] luister ons na aanhalings en wyshede van Lemony Snicket, Gabriel García Márquez, Epicurus, Joseph Campbell, Kahlil Gibran, Walt Whitman, Elisabeth Kübler-Ross, Dr. Piet Muller, Kahlil Gibran en Bertolt Brecht. Die voëlvlug oor huidige en antieke doodsbeskouings vat ons terug na die antieke Egiptenare en Vikings. Ons raak aan die idees van Zoroastrianisme, die Christelike Katolisisme, Zen Boeddhisme, die Christendom, Islam en die Judaïsme. Ons angstigheid vir die dood word meesterlik uitgewys in die huidige kommer oor Nelson Mandela.

Maar moenie dink Abel bly objektief nie – niemand kan nie, ek inkluis! Natuurlik “preek” hy op sy interessante en gemaklike manier “sy” verstaan. En boonop met ‘n verfrissende “dis my opinie” gesindheid. Maar onderliggend is daar wel ‘n meerderwaardige “maak tog net julle oë oop uit jul antieke pre-moderne wêreld en kom by!” Die miljoene der miljoene wat anders as Abel glo, word hul opinie gegun, maar byna jammer gekry. Want alles in hul gedagtes oor God en dood en hiernamaals is verstaanbare konstrukte van angstige mense. DUS: dis verstaanbaar dat julle so dink, maar dis tragies dat julle nie besef jul vrese en gedagtes “kul julle hier en kul julle daar” om nie die ondraaglike onsekerheid te omarm nie.

John Lennon het reeds in 1970 in sy lied God verklaar: “God is a Concept by which we measure our pain.” Abel verwoord dieselfde konsep as hy die geloof in 'n lewe na die dood beskryf as 'n mensgeskepte konstruk.

Natuurlik is ek dit 100% eens met Abel dat ons as sterflike mensekinders bewustelik die dood in die oë moet kyk. Daarom is die “so vêr as moontlik wegskuif” van die werklikheid van die dood in ons samelewing na AVBOB en SAFFAS wat alles namens ons hanteer sodat ons die finaliteit van die dood (ook met ons medikasie) kan vermy, baie ongesond.  Toe Jesus die “tekens van die tye” verduidelik het, was dit alles gebeure wat jou as mens konfronteer met jou eie dood. In Matteus 16:3 hoor ons Sy woorde: “Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.” Ook in Lukas 13: 1 – 5 gesels Jesus en die dissipels oor die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag in die tempel. Jesus noem dan die agtien mense wat dood is toe die toring van Siloam ineengestort het. En Jesus se konklusie oor die dissipels se spekulasie en hierdie gebeurtenis as ‘n “teken van die tyd”? Die Boodskap vertaling klink so: “Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit te laat om julle saak met God reg te maak.”

Abel is reg - bewustelik en/of onderbewustelik benodig ons 'n ont-angeling van die dood. Sy oplossing: “Die oomblik wat jy vrede maak met jou eie sterflikheid, verloor die dood sy angel.” Aanvaarding dus.
Ek dink daar’s baie goeie voorskrifte wat gerus uitgeskryf en gebruik kan word, wat die simptome van ons angstigheid oor die dood kan aanspreek.
Ek sou beslis lag-terapie met die hulp van Monty Python en kie voorskryf:

Always Look on the Bright Side of Life (from Monty Python)
For life is quite absurd
And death's the final word
You must always face the curtain with a bow.
Forget about your sin - give the audience a grin
Enjoy it - it's your last chance anyhow.

So always look on the bright side of death
Just before you draw your terminal breath

Life's a laugh and death's a joke, it's true.
You'll see it's all a show
Keep 'em laughing as you go
Just remember that the last laugh is on you.

And always look on the bright side of life...

‘n Verdere voorskrif sal huil-terapie wees: kyk saam met geliefdes of alleen na die briljante Shadowlands met Anthony Hopkins wat CS Lewis vertolk. Lewis se worsteling met die dood van sy vrou Joy is rou en eerlik. Hopkins se vertolking is meesterlik en het hom ‘n Oscar-benoeming besorg (ongelukkig het hy daardie dekade eerder as Hannibal van Silence of the Lambs die goue standbeeldjie gekry.)

Maar ek glo daar’s net een ware ont-angeling van die dood: Jesus Christus! 

Geloof in Sy werklike oorwinning oor die dood het die eerste Christene as oog- en vat-getuies (onthou vir Tomas?) geïnspireer om Jesus as Kurios (Here) te verkondig. En om later hul eie lewens vreesloos prys te gee vir hierdie Jesus en die waarheid van Sy Goeie Nuus.

Abel haal Jim Elliot se fantastiese waar woorde aan: “When the time comes to die, make sure that all you have to do is die!”

Maar hoe maak mens seker dat alles “uitgesort” is voor jy sterf? Polisse en Testament? Ek dink Elliot het gepraat van vrede met God deur Jesus Christus. Hoekom dink ek so? Omdat Jim Elliot as een van vyf Christen Sendelinge vermoor is in Ecuador op 8 Januarie 1956 tydens hul uitreik na die Waodani volk met die boodskap van Jesus Christus. Jim was 28 jaar oud.

Uit sy bewaarde dagboek is daar ook hierdie inskrywing: “Father, make of me a crisis man. Bring those I contact to decision. Let me not be a milepost on a single road; make me a fork, that men must turn one way or another on facing Christ in me. He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose.”

Jim Elliot het sy lewe verloor omdat hy onwrikbaar geglo het dat Jesus die dood kom ont-angel het. Jesus se woorde in Matteus 10:39 is: “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

More is die derde begrafnis / dankdiens in twee weke wat ek moet lei. Wat ‘n voorreg om saam met mense te huil en te lag by sulke kosbare afskeidsgeleenthede. Dis vir my ook baie belangrik dat naasbestaandes besef dit is hulle geleentheid vir afskeid. Daarom bepaal hulle die verloop en uniekheid daarvan. Al hoe meer sulke geleenthede word gevul met musiek, slideshows, gedigte en briewe. Genadiglik herskryf en herontwerp mense die begrafnisbriewe as huldeblyke en vierings van die gestorwenes se lewe.

Maar, die taak waarvoor ek nie wegskram nie, is om te troos deur en uit te daag op grond van Jesus se woorde nie.

Natuurlik is die dood in die woorde van Stef Bos “...te groot voor woorden / Dit gevoel is te groot / Te groot voor woorden / Dit gevoel is te groot / Wat ze voelt is te groot voor woorden.”

Tog probeer kunstenaars deur die eeue om met kwas, potlood en lier iets van die dood vas te vang (in ‘n futiele poging tot ont-angeling?)

Op Guy Fawkes nag in 1994 het ons Forrest Gump op die grootskerm geniet. Later die aand bel my pa my met die nuus dat my gunsteling Prof, Johan Heyns vermoor is. As finale jaar Tokkelok by Tukkies was hy my hero. Die volgende oggend laat val ek ‘n glasbottel aan skerwe in ons studente woonstel. Daardie selfde aand sing ek oor die telefoon ‘n pasgeskryfde lied aan my vriend Louis Brittz:



Lied vir die dood
Die bottel het geval, die skerwe lê verpletter
Die legkaart is banaal, die stukke lê verketter
’n duis’ligheid tref
my hart geklief
dié refrein maal in my               

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel

My woorde dit is al, odes eng geyk
Die trooswoord leeg en koud, die lewensvlag gestryk
’n duis’ligheid tref
my hart geklief
dié refrein skeur in my              

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel

’n sanger hoor ek skree: “dis hoop in smart wat kort!”
die prediker eggo mee, die lewe eind’loos kort
’n duis’ligheid tref
my hart geklief dié refrein maal in my          

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel
Ja jou wrede eenoog-angel
is deur Jesus wreed vermorsel
– 5 November 1994 (Pretoria)


Ek omarm vol verwagting Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:26    “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” En Johannes 11:25-26 in my tweet-respons op Abel se artikel? “Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

En op Jesus se vraag, is daar net drie antwoorde: “Ja”, “Nee” of “ek weet nie”. 

Bono (van U2) het onlangs in ‘n onderhoud só verwys na C.S. Lewis se beroemde “Liar, Lunatic or Lord” uitspraak oor Jesus: "When people say 'good teacher,' 'prophet,' 'really nice guy,' ... this is not how Jesus thought of himself," says Bono. "So, you're left with a challenge ... which is, either Jesus was who he said he was, or a complete and utter nut case...I believe that Jesus was, you know, the son of God." Maar dan in ‘n gefragmenteerde wêreld is dit tog belangrik vir Bono om by te voeg oor hulle wat “Nee” of “Ek weet nie” antwoord: Wees "really respectful to people who find that ridiculous."

SLOT:
Soos C.S. Lewis destyds, buig ek vanoggend uit vrye keuse en sonder enige bymotiewe of geldelike voordeel opnuut “kicking and screaming in protest” my knieë voor Jesus Christus, die – so glo ek onwrikbaar – opgestane Christus wat ‘n leë graf agtergelaat het sodat my graf of nissie ook eendag ontruim sal wees/word.

Francois Mulder is predikant in Blanco (George) se NG Kerk.
Bronne:

U2's Bono says Jesus Christ was 'punk rock,' Psalms are 'the Blues'

By Molly Chance       June 27, 2013 7:14 PM ET
http://blog.zap2it.com/pop2it/2013/06/u2s-bono-says-jesus-christ-was-punk-rock-psalms-are-the-blues.html

1 opmerking:

  1. Op my knieë voor d spider kruis het ek, die weghardloop-tiener my God gevind....die God wat die dood oorwin het...wat leef tot in alle bo-tydse ewigheid...Hy is my graf-oorwinnaar...my naam-skrywer in daardie groot Boek vd Lewe!!! Ek glo in Hom.. want Sy graf is leeg!!!!!

    AntwoordVee uit