Woensdag 11 Augustus 2010

'n Hele leeftyd ge-winzip in net een maand



Na so 'n laaaaaaang stilte, moet ek seker heel eerste 'n maan-foto opsit: hierdie boonste ene is geneem op 25 Junie 2010 om 21:32 oppad na Annecy in Frankryk.

Ons gesin se 39 dae langverlof was FANTASTIES! En nee, ons het nie uitgerus nie - ons het vakansie gehou, wat soms harde werk is ;-)! Ek het 'n scrapbook-dagboek gehou van die vakansie. Hierdie Nederlandse spotprent is op bladsy 1:



Om weer grond te vat na 'n tyd in die wolke: dis nie maklik nie. So het ons gelyk by vertrek en toe 39 dae later met ons aankoms op George se lughawe:



Ek was heeltyd bewus daarvan dat ons dit 'n "1x-in-'n-leeftyd" vakansie noem. Want dit was letterlik maande se gespaar en beplan, en betaal vir ons oudste as volwassene, wat maak dat dit beslis nie 'n elke-paar-jaar-ding vir ons sal wees nie (behalwe natuurlik as ons die Lotto wen, wat nooit sal gebeur nie omdat ons uit beginsel dit nooit sal speel nie - mosie van wantroue in die voorsienigheid van God!).

Ons is nou byna 'n hele maand reeds terug, en dit was holderstebolder wegval in die roetine van werk en leef en vroeg opstaan en vasbyt.

Nou eers begin ons almal "tot verhaal kom." So 'n oorsee-ganery is darem 'n wonderlike visie-verbreeder! Mens besef skielik daar's mense op aarde waarvan jy niks weet nie, wat 'n roetine en humor en gewoontes en oortuigings met mekaar deel wat toetaal vreemd is vir ons. En hoe belangrik taal en kultuur is om iemand werklik te ken en te verstaan. Eish maar dis moeilik as jy
verdwaal is en almal praat net Frans.

My een sin opsomming van ons hele vakansie is as volg:

" 'n Hele leeftyd ge-winzip in net een maand! "


Winzip is "the world's most popular Zip utility for file compression, encryption, sharing, and data backup." Wat die programmetjie doen, is fantasties: dit neem data en verklein dit (inligting kompressie) en verpak dit kleiner, vir makliker versending via epos of vir storing.

Ons het soveel beleef, veral omdat die vreemdheid en andersheid jou sintuie stimuleer om alles haarfyn waar te neem. Wat mens byvoorbeeld in Suid-Afrika nie eens sal opmerk nie, sal buitelanders uitwys as uniek of vreemd.

In die volgende paar weke is ek lus om as deel van my UN-Winzip-proses so bietjie te peins oor van die avonture wat ons gehad het. Dis meer vir myself as iemand anders, maar jy's welkom as jy wil mee-terugreis.

"Please fasten your seatbelts: this is Kulula flight MN904 to Johannesburg ..."


1 opmerking:

  1. Wow boetie! Great! Ek was sommer heel verstom 'n tyd gelede toe 'n paar ouens uit SA vir 'n paar dae hier in Nederland en Engeland was en toe sommer dadelik weet hoe die konteks hier werk - vinnig vinnig op die besoek 'n paar kerk-ouens mee blad geskud - en toe sommer 'n paar dae later presies geweet watter tendense hier aan die gebeur is.
    Sien uit na al jou foto's en ervaringe!

    AntwoordVee uit