Maandag 11 Augustus 2014

Om vir die dood te sing … Kerkbode 15/08/2013



Om vir die dood te sing …

Geliasieer onder: Aktueel |

’n Lied vir die dood – vír jou, óór jou – jy maak my bang vanaand maar jou wrede eenoog-angel is uit ’n grotgraf kru ontangel

Deur Francois Mulder

Sy was “ 'n meisie soos ’n fee ” – soos wat Koos du Plessis dit destyds vir sy meisiekind, Karla, gesing het. Maar sy was ook anders, spesiaal-anders: ’n Down­sindroom-hemelkind. Saam met familie en vriende neem ons – vir haar aardse lewe – afskeid van die 17-jarige Donné Nitzschke. ’n Hemelkind is ’n besonderse, hemelse geskenk aan die ouers. Natuurlik met heelwat meer uitdagings as die gewone. Só ’n geskenk breek dan ook dikwels huwelike op. Maar die uiteindelike band van liefde tussen ouers en hulle hemelkind is sterker as die dood. In hemelkinders se oë sien ’n mens werklik die hemel. Hulle het onvoorwaardelik lief, sonder bymotiewe en agendas. Donné se gunstelingkleur was “Barney-pers”.

Roerende tonele speel by die graf af toe haar mamma Marinda, pa Antony, en sussies, Jenene en Charné, saam met die familie blomme – maar ook Barney-boekies en -speelgoed – op die kis kom plaas. Ons bemoedig mekaar met die belofte van ’n toekomstige weersiens en gaan leef die lewe verder. Hierdie klein meisietjie word vir baie van ons ’n band  met die ewigheid. Dan sing ons glimlaggend, maar met betraande oë vir die dood: “Jesus roep my vir ’n sonstraal, om elke dag te skyn.”





 Dankdiens
Ek bêre elke begrafnisbrief van die geleenthede waar ek moes voorgaan. My rol is dié van fasiliteerder vir familie en vriende met hulle afskeid van ’n geliefde. Soos die winter oor ons land inrol, só begin die winterseisoen se begrafnisse ook. Veral ons kosbare oupas en oumas loop deur soos daar in hulle bos gekap word. Môre is die derde begrafnis van 2013 se winter.


Wat ’n voorreg om saam met mense te huil en te lag by sulke kosbare en unieke afskeidsgeleenthede … Fasiliteerder is ek, ja, maar ook getuie van die hoop wat in my leef op grond van Jesus se woorde: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook … Glo jy dit?” (Joh 11:25-26.) Roudiens? ’n Begrafnis of ’n verassingsdiens? Vir gelowiges word dit in alle gevalle ’n dankdiens.


Die blou voëltjie
In ’n onlangse rubriek skryf Abel Pienaar oor ’n mitiese blou voëltjie wat met elke sonsopkoms op jou vensterbank kom sit en sing: “Is vandag dalk die dag wat jy gaan sterf?” In antwoord op die blou voëltjie se lied, is syne een van aanvaarding – sonder ’n geloof in die lewe na die dood. Daardie – volgens hom – naïewe geloof is bloot ’n mensgeskepte konstruk. 


En hoe klink Abel se “Doods-lied”? Min of meer só:

Kom ons word vriende, ek en jy 
Ons maak vrede en word bly 
Ons lag saam vir die verspotte grap 
Dat mense dink hul kan uit jou kloue ontsnap
So jammer vir julle wat eintlik hallusineer 
Om te dink ’n lewe na dood kan jul begeer 
Kom vat ’n dop saam met ons en Tomas 
want môre sterf ons en dis nommerpas
Julle kul julself hier en julle kul julself daar 
in plaas van die werklikheid omarm 
ontvlug jul steeds na jul “pie in the sky”

Ek hoor nie die vriendelike blou voëltjie se getjirp in hierdie lirieke nie – eerder ’n swaar, mistroostige dodemars. Daarom sing ek veel eerder Tomas se lied – in sy respons op die opgestane Jesus se uitnodiging dat hy maar namens ons almal aan die wonde in sy polse en deurboorde sy kan vat: “My Here en my God!” Na sy lied vir die dood, gee hy, hierdie Tomas, as sendeling-martelaar sy eie lewe vreesloos prys vir hierdie Jesus en vir die waarheid van sy dood-oorwinnende goeie nuus.

Avbob, Saffas en Doves
Dink ’n bietjie na oor hoe vorige geslagte met die dood saamgeleef het: Oupa en Ouma het gesterf en is vanuit die plaashuis “voorberei” en uiteindelik begrawe. Die dood was sigbaar en naby. So ook met die vroeë kerk.


As Paulus skryf dat ons saam met Christus gesterf het en nou opgewek is, het sy eerste lesers presies verstaan wat hy bedoel, want hulle het die dood daagliks gesien en beleef. Deesdae leef ons egter in ’n samelewing wat die dood so ver moontlik wegskuif. Avbob, Saffas of Doves sal alles vir ons netjies, professioneel en so verteerbaar moontlik hanteer. Só sê die begrafnisondernemer by die tweede winter-slagoffer se graf: “U kan die blomme op die kis kom plaas, maar daarna sal ons wag tot almal vertrek voordat ons die kis toegooi. Dit is nie mooi om dit te sien nie.” Sy opmerking verwoord ons vermyding van die dood se harde werklikheid. Jesus het sy gehoor egter aangepor om die dood vierkantig in die oë te kyk.

Die “tekens van die tye” waarvan Hy gepraat het, konfronteer elke mens met sy eie dood. Daarom gesels Jesus met sy dissipels oor die Galileërs wat deur Pilatus laat doodmaak is toe hulle besig was om offerdiere in die tempel te slag (Luk 13:1-5.) Hý opper die Siloamtoring-tragedie toe dié 18 slagoffers geëis het – met ’n dringende konklusie: “Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit te laat om julle saak met God reg te maak” (Die Boodskap).

Kunstenaars sing oor die dood
Kunstenaars probeer reeds eeue lank om met kwas, potlood en kitaar iets van die dood vas te vang (in ’n futiele poging tot die mak maak daarvan?)

Wanneer ’n 28-jarige sendeling op 8 Januarie 1956 in Ecuador vermoor word (tydens ’n uitreik na die Waodani-volk met die boodskap van Jesus Christus), weerklink die skokgolwe wêreldwyd. Predikers raak liries oor die parallelle met Jesus se woorde in Matteus 10:39: “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” Maar dit is die sanger, Scott Wesley Brown, wat hierdie 28-jarige martelaar, Jim Elliot, se beroemde woorde neem en dit as lied vir die dood sing: “He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose.”

Geweerskote in Waterkloof
Op Guy Fawkes-nag in 1994 kyk ons Forrest Gump op die grootskerm. In die fliek sê Forrest die volgende oor John Lennon: “Some years later that nice young man from England was on his way to see his little boy and was signing autographs – FOR NO PARTICULAR REASON AT ALL – somebody shot him.” Later dié aand bel my pa my met die nuus dat my gunstelingprofessor, Johan Heyns, vermoor is. Ek was finalejaar-tokkelok by Tukkies; hy was my held. Die volgende oggend laat val ek ’n glasbottel aan skerwe in ons studentewoonstel. Daardie selfde aand sing ek oor die telefoon ’n pasgeskryfde lied aan die dood vir my vriend Louis Brittz: 




Lied vir die dood
Die bottel het geval, die skerwe lê verpletter
Die legkaart is banaal, die stukke lê verketter
’n duis’ligheid tref
my hart geklief
dié refrein maal in my               

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel

My woorde dit is al, odes eng geyk
Die trooswoord leeg en koud, die lewensvlag gestryk
’n duis’ligheid tref
my hart geklief
dié refrein skeur in my              

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel

’n sanger hoor ek skree: “dis hoop in smart wat kort!”
die prediker eggo mee, die lewe eind’loos kort
’n duis’ligheid tref
my hart geklief dié refrein maal in my          

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel
Ja jou wrede eenoog-angel
is deur Jesus wreed vermorsel
– 5 November 1994 (Pretoria)


Mosselbaai: ICU



Ek staan voor oom Jack Theron se bed in die hospitaal se intensiewesorgeenheid, oftewel “ICU”. Na 87 jaar vra sy hart vir vier aar-omleidings. Tannie Tokkie by die oorkantste bed skerts oor die “duurste hotel in Suid-Afrika” toe ek hierdie eenheid doop as “die ICU met die mooiste uitsig in die wêreld”. Ek sing vir oom Jack Psalm 23 op die ou wysie, en doen ’n gebed. Twee van die verpleegkundiges wil my eenkant spreek: “Kom bid asseblief vir ds André – hy is op sy einde.” Ek word ’n plastiekvoorskoot aangetrek en betree die glasvertrek. Masjiene raas ritmies; groen en rooi loer die liggies na my. Ek ontmoet ds André de Villiers in sy laaste koma. Sy oë is met kleefband toegeplak.
Ek sien die dood. Ons knik vir mekaar. Ek haal diep asem en bid vir hierdie onbekende kollega: Dankie, Here vir sy aardse bediening. Kom haal hom asseblief, Here Jesus. En ek sing vir die dood: “Kom kniel by die kruis, want Jesus ontmoet jou daar.” Die verpleegkundiges kon alles hoor; albei is in trane. Net daar bid ek vir hulle: Dankie, Here, vir ICU-engele. Wat u hande van vertroosting en bemoediging is. Ons ruil selfoonnommers uit en groet. Vyf en dertig minute later kry ek die SMS op Santosstrand: “Ds André sopas rustig oorlede. Baie dankie.”

Ten slotte
Deur Jesus Christus is die dood die oopbreek van die papie – tot ’n veelkleurige en vreugdevolle vlinder. Dit vlieg sy nuwe wêreld in. Adam Small sê: “Kô lat ons sing!” Ja, ons sing in ’n koor van gelowiges, sonder ophou, reeds sedert Stefanus se dae, en dié van Petrus en Maria Magdalena. Tot nou toe. Onthou net om die koorgedeelte twéé maal harder te sing: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”


Ds Francois Mulder is predikant in die NG Gemeente Blanco, naby George.

10 Responses to Om vir die dood te sing …

1.     Die artikel is hartroerend, my trane is vlak. So maand gelede het ek heelwat tyd in ICU spandeer saam met n vriendin – hulle dagtertjie is na twee maande van baie siek wees en veg 3 Julie 2013 oorlede op die ouderdom van 2jaar en 5 maande.. In ons gejaagde lewens is daar so min tyd vir mensself wat nog te se van ander mense? Ons is op die aarde geplaas om te dien, as ek daar vir dae moes dien deur net daar te wees met ondersteuning en liefde is dit waar God my wou he. Personeel van die Rooikruiskinderhospitaal was fantasties. Lika ons het vir jou Joh11:4 gebid, maar dit was nie vir jou aardse lewe nie, dit was vir jou ewige lewe. Nou berus ons by Ps139:16 – voor jou geboorte het die Here reeds die verloop van jou lewe beplan… Jyt ons van geloof, hoop en liefde geleer.Geniet die lewe, koester die mense naby aan jou hart, ons tyd op aarde is regtig net geleen.  Maderi van Greunen 15/08/2013 at 18:49

2.     Die een “doodslied” wat my altyd rondom Paastyd aangryp, is Jan de Wet se lied op sy destydse “Via Dolorosa” cd: Dood, waar is jou angel? Jy kon Hom nie oorwin! Jesus Christus lewe weer, sy hartklop het begin…”Francois Mulder 16/08/2013 at 06:44

3.     Ek staan by n broeikas in Bethlehem,OVS met ‘n gesigmasker aan. Kort tevore het twee klein babatjies langs mekaar gele: Francois Mulder+sy tweeling sussie Esperance. Hy ‘n skamele 3lb 6onse en sy 3llb 10 onse. Sy is weg hemel toe en ‘n eensame graffie met die woorde:”EN DAAR SAL GEEN DOOD MEER WEES NIE……en ook LAAT DIE KINDERTJIES NA MY TOE KOM ruk aan my hart. God het hierdie seuntjie gespaar… Aanhaling uit GEBEDSIMFONIE: 23 Verhale van Hoop deur Dr E E Mulder 0833066323 shyries@icon.co.za            elreza mulder  16/08/2013 at 09:59

4.     Dankie vir jou mooi woorde Maderi! Jy was vir daardie gesin die Hande van Jesus! Francois Mulder 16/08/2013 at 10:18

5.     Uitstekend verwoord, Francois.. Ek het nie woorde om te beskryf hoe uitstekend nie, want dit is te goed geskryf. Dis besonders. Nog meer kan ek nie se nie… Daar is nog lewe in die NG-kerk, en jy is deel daarvan.. Somerset (Sommie) Morkel
16/08/2013 at 10:33

6.     Ag, ek is al tot satwordens toe moeg vir Abel Pienaar, Osbloed van Niekerk en Piet Croucamp se se getjank. Aan die een kant wil hulle hê mens moet ook ruimte maak vir hulle sienigs en dit respekteer (m.a.w. moontlikheidsgesag of -warde daaraan toeken)maar aan die ander kant laat hulle geen geleentheid verbygaan om standpunte wat van hulle verskil, vernederend as snert af te maak nie. Wat my van hulle opval is dat hulle goed kan kritiseer, maar geen alternatief aanbied nie. Hulle skep as’t ware dus net n geestelike vakuum, klop hulleself op die skouer omdat hulle nog ‘n gelowige verneder het, bak in die warmte van hulle volgelinge se heldeverering en stap weg, sonder om vir ‘n oomblik enige seeempie van simpatie teenoor die smartebdes te tiib,
Die waarheid is dat ons almal smart beleef en dat die meeste van ons verkies om dit op ‘n ander manier te hanteer as om dit net te misken en te sê “daar’sniks”, of deur te sê “die ewige lewe is net ‘n fabel.”
As iemand gebore word, is almal bly, behalwe die een wat gebore word, want dit huil. Maar as ‘n gelowige sterf, soos ‘n hemelkind wat ook kan glo en gered kan wees, dan is almal hartseer, behalwe een. En dit is die een wat huistoe gaan. Vir my is die troos dat ons hulle weer eendag sal sien, want al is ons nou gebroke (2 Kor. 4,5), dan sal ons ‘n verheerlikte liggaam hê (1 Kor. 15) En ons sal op ‘n plek wees waar daar geen meer siekte of gebrek of pyn of smart of swaarky sak wees nie, want Jesus self sal daar wees (Opng. 22)
Mens moet maar net self die keuse maak – of die dinge wat mense self uitdink in ‘n poging om mense se hoop weg te neem en ‘n geestelike vakuum te skep (want dit staan verseker nie in die Bybel nie)of mens kies vir wat in die Bybel staan omdat dit meer gesagvol as mense is. Onthou ook dat menslike filosofie voortdurend verander maar dit was nog nooit nodig om die bybel te verander nie.  Yf Veldhuizen 18/08/2013 at 20:51

7.     Sopas weer aangeraak deur ‘n sterfbed moment met ‘n “caregiver” wat saam met familie huil oor die kosbare oom se stryd … Wees die troos-hande van Jesus vir hulle wat treur.  Francois Mulder 19/08/2013 at 10:08

8.     Dankie vir hierdie pragtige, belewingsboodskap van Jesus se oorwinning oor die dood. Ek beveel graag die boek van dr Jan Bothma aan wat ook hierdie roemtaal oor die dood so treffend stel “Waar is my geliefde wat gesterf het?” (LuxVerbi.BM)Chris Botha
20/08/2013 at 09:05

9.     Ds Andre de Villiers…Dit klink of dit my pa moes wees. Hy is op die 13de Julie 2013 weeggeneem van ons. Was in die ICU in mosselbaai. Ons mis hom baie…hy het baie vir baie mense in sy lewe beteken. Ons mis hom baie, maar dit voel of sy “happiness” ons nalatenskap is.Die verpleegsters was baie goed vir hom en ons familie. Mens onthou sulke dinge en waardeer dit baie. Baie dankie!! En Ds Francois Mulder , as dit my pa was, dankie ook vir jou gebed vir hom. Ons waardeer dit baie. EN my pa sou ook. Dankie !! Marilize De Villiers 07/09/2013 at 21:41


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking