Maandag 11 Augustus 2014

Om vir die dood te sing … Kerkbode 15/08/2013



Om vir die dood te sing …

Geliasieer onder: Aktueel |

’n Lied vir die dood – vír jou, óór jou – jy maak my bang vanaand maar jou wrede eenoog-angel is uit ’n grotgraf kru ontangel

Deur Francois Mulder

Sy was “ 'n meisie soos ’n fee ” – soos wat Koos du Plessis dit destyds vir sy meisiekind, Karla, gesing het. Maar sy was ook anders, spesiaal-anders: ’n Down­sindroom-hemelkind. Saam met familie en vriende neem ons – vir haar aardse lewe – afskeid van die 17-jarige Donné Nitzschke. ’n Hemelkind is ’n besonderse, hemelse geskenk aan die ouers. Natuurlik met heelwat meer uitdagings as die gewone. Só ’n geskenk breek dan ook dikwels huwelike op. Maar die uiteindelike band van liefde tussen ouers en hulle hemelkind is sterker as die dood. In hemelkinders se oë sien ’n mens werklik die hemel. Hulle het onvoorwaardelik lief, sonder bymotiewe en agendas. Donné se gunstelingkleur was “Barney-pers”.

Roerende tonele speel by die graf af toe haar mamma Marinda, pa Antony, en sussies, Jenene en Charné, saam met die familie blomme – maar ook Barney-boekies en -speelgoed – op die kis kom plaas. Ons bemoedig mekaar met die belofte van ’n toekomstige weersiens en gaan leef die lewe verder. Hierdie klein meisietjie word vir baie van ons ’n band  met die ewigheid. Dan sing ons glimlaggend, maar met betraande oë vir die dood: “Jesus roep my vir ’n sonstraal, om elke dag te skyn.”





 Dankdiens
Ek bêre elke begrafnisbrief van die geleenthede waar ek moes voorgaan. My rol is dié van fasiliteerder vir familie en vriende met hulle afskeid van ’n geliefde. Soos die winter oor ons land inrol, só begin die winterseisoen se begrafnisse ook. Veral ons kosbare oupas en oumas loop deur soos daar in hulle bos gekap word. Môre is die derde begrafnis van 2013 se winter.


Wat ’n voorreg om saam met mense te huil en te lag by sulke kosbare en unieke afskeidsgeleenthede … Fasiliteerder is ek, ja, maar ook getuie van die hoop wat in my leef op grond van Jesus se woorde: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook … Glo jy dit?” (Joh 11:25-26.) Roudiens? ’n Begrafnis of ’n verassingsdiens? Vir gelowiges word dit in alle gevalle ’n dankdiens.


Die blou voëltjie
In ’n onlangse rubriek skryf Abel Pienaar oor ’n mitiese blou voëltjie wat met elke sonsopkoms op jou vensterbank kom sit en sing: “Is vandag dalk die dag wat jy gaan sterf?” In antwoord op die blou voëltjie se lied, is syne een van aanvaarding – sonder ’n geloof in die lewe na die dood. Daardie – volgens hom – naïewe geloof is bloot ’n mensgeskepte konstruk. 


En hoe klink Abel se “Doods-lied”? Min of meer só:

Kom ons word vriende, ek en jy 
Ons maak vrede en word bly 
Ons lag saam vir die verspotte grap 
Dat mense dink hul kan uit jou kloue ontsnap
So jammer vir julle wat eintlik hallusineer 
Om te dink ’n lewe na dood kan jul begeer 
Kom vat ’n dop saam met ons en Tomas 
want môre sterf ons en dis nommerpas
Julle kul julself hier en julle kul julself daar 
in plaas van die werklikheid omarm 
ontvlug jul steeds na jul “pie in the sky”

Ek hoor nie die vriendelike blou voëltjie se getjirp in hierdie lirieke nie – eerder ’n swaar, mistroostige dodemars. Daarom sing ek veel eerder Tomas se lied – in sy respons op die opgestane Jesus se uitnodiging dat hy maar namens ons almal aan die wonde in sy polse en deurboorde sy kan vat: “My Here en my God!” Na sy lied vir die dood, gee hy, hierdie Tomas, as sendeling-martelaar sy eie lewe vreesloos prys vir hierdie Jesus en vir die waarheid van sy dood-oorwinnende goeie nuus.

Avbob, Saffas en Doves
Dink ’n bietjie na oor hoe vorige geslagte met die dood saamgeleef het: Oupa en Ouma het gesterf en is vanuit die plaashuis “voorberei” en uiteindelik begrawe. Die dood was sigbaar en naby. So ook met die vroeë kerk.


As Paulus skryf dat ons saam met Christus gesterf het en nou opgewek is, het sy eerste lesers presies verstaan wat hy bedoel, want hulle het die dood daagliks gesien en beleef. Deesdae leef ons egter in ’n samelewing wat die dood so ver moontlik wegskuif. Avbob, Saffas of Doves sal alles vir ons netjies, professioneel en so verteerbaar moontlik hanteer. Só sê die begrafnisondernemer by die tweede winter-slagoffer se graf: “U kan die blomme op die kis kom plaas, maar daarna sal ons wag tot almal vertrek voordat ons die kis toegooi. Dit is nie mooi om dit te sien nie.” Sy opmerking verwoord ons vermyding van die dood se harde werklikheid. Jesus het sy gehoor egter aangepor om die dood vierkantig in die oë te kyk.

Die “tekens van die tye” waarvan Hy gepraat het, konfronteer elke mens met sy eie dood. Daarom gesels Jesus met sy dissipels oor die Galileërs wat deur Pilatus laat doodmaak is toe hulle besig was om offerdiere in die tempel te slag (Luk 13:1-5.) Hý opper die Siloamtoring-tragedie toe dié 18 slagoffers geëis het – met ’n dringende konklusie: “Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit te laat om julle saak met God reg te maak” (Die Boodskap).

Kunstenaars sing oor die dood
Kunstenaars probeer reeds eeue lank om met kwas, potlood en kitaar iets van die dood vas te vang (in ’n futiele poging tot die mak maak daarvan?)

Wanneer ’n 28-jarige sendeling op 8 Januarie 1956 in Ecuador vermoor word (tydens ’n uitreik na die Waodani-volk met die boodskap van Jesus Christus), weerklink die skokgolwe wêreldwyd. Predikers raak liries oor die parallelle met Jesus se woorde in Matteus 10:39: “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” Maar dit is die sanger, Scott Wesley Brown, wat hierdie 28-jarige martelaar, Jim Elliot, se beroemde woorde neem en dit as lied vir die dood sing: “He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose.”

Geweerskote in Waterkloof
Op Guy Fawkes-nag in 1994 kyk ons Forrest Gump op die grootskerm. In die fliek sê Forrest die volgende oor John Lennon: “Some years later that nice young man from England was on his way to see his little boy and was signing autographs – FOR NO PARTICULAR REASON AT ALL – somebody shot him.” Later dié aand bel my pa my met die nuus dat my gunstelingprofessor, Johan Heyns, vermoor is. Ek was finalejaar-tokkelok by Tukkies; hy was my held. Die volgende oggend laat val ek ’n glasbottel aan skerwe in ons studentewoonstel. Daardie selfde aand sing ek oor die telefoon ’n pasgeskryfde lied aan die dood vir my vriend Louis Brittz: 




Lied vir die dood
Die bottel het geval, die skerwe lê verpletter
Die legkaart is banaal, die stukke lê verketter
’n duis’ligheid tref
my hart geklief
dié refrein maal in my               

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel

My woorde dit is al, odes eng geyk
Die trooswoord leeg en koud, die lewensvlag gestryk
’n duis’ligheid tref
my hart geklief
dié refrein skeur in my              

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel

’n sanger hoor ek skree: “dis hoop in smart wat kort!”
die prediker eggo mee, die lewe eind’loos kort
’n duis’ligheid tref
my hart geklief dié refrein maal in my          

’n lied vir die dood – vír jou, óór jou –
 jy maak my bang vanaand
maar jou wrede eenoog-angel
is uit ’n grotgraf kru ontangel
Ja jou wrede eenoog-angel
is deur Jesus wreed vermorsel
– 5 November 1994 (Pretoria)


Mosselbaai: ICU



Ek staan voor oom Jack Theron se bed in die hospitaal se intensiewesorgeenheid, oftewel “ICU”. Na 87 jaar vra sy hart vir vier aar-omleidings. Tannie Tokkie by die oorkantste bed skerts oor die “duurste hotel in Suid-Afrika” toe ek hierdie eenheid doop as “die ICU met die mooiste uitsig in die wêreld”. Ek sing vir oom Jack Psalm 23 op die ou wysie, en doen ’n gebed. Twee van die verpleegkundiges wil my eenkant spreek: “Kom bid asseblief vir ds André – hy is op sy einde.” Ek word ’n plastiekvoorskoot aangetrek en betree die glasvertrek. Masjiene raas ritmies; groen en rooi loer die liggies na my. Ek ontmoet ds André de Villiers in sy laaste koma. Sy oë is met kleefband toegeplak.
Ek sien die dood. Ons knik vir mekaar. Ek haal diep asem en bid vir hierdie onbekende kollega: Dankie, Here vir sy aardse bediening. Kom haal hom asseblief, Here Jesus. En ek sing vir die dood: “Kom kniel by die kruis, want Jesus ontmoet jou daar.” Die verpleegkundiges kon alles hoor; albei is in trane. Net daar bid ek vir hulle: Dankie, Here, vir ICU-engele. Wat u hande van vertroosting en bemoediging is. Ons ruil selfoonnommers uit en groet. Vyf en dertig minute later kry ek die SMS op Santosstrand: “Ds André sopas rustig oorlede. Baie dankie.”

Ten slotte
Deur Jesus Christus is die dood die oopbreek van die papie – tot ’n veelkleurige en vreugdevolle vlinder. Dit vlieg sy nuwe wêreld in. Adam Small sê: “Kô lat ons sing!” Ja, ons sing in ’n koor van gelowiges, sonder ophou, reeds sedert Stefanus se dae, en dié van Petrus en Maria Magdalena. Tot nou toe. Onthou net om die koorgedeelte twéé maal harder te sing: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”


Ds Francois Mulder is predikant in die NG Gemeente Blanco, naby George.

10 Responses to Om vir die dood te sing …

1.     Die artikel is hartroerend, my trane is vlak. So maand gelede het ek heelwat tyd in ICU spandeer saam met n vriendin – hulle dagtertjie is na twee maande van baie siek wees en veg 3 Julie 2013 oorlede op die ouderdom van 2jaar en 5 maande.. In ons gejaagde lewens is daar so min tyd vir mensself wat nog te se van ander mense? Ons is op die aarde geplaas om te dien, as ek daar vir dae moes dien deur net daar te wees met ondersteuning en liefde is dit waar God my wou he. Personeel van die Rooikruiskinderhospitaal was fantasties. Lika ons het vir jou Joh11:4 gebid, maar dit was nie vir jou aardse lewe nie, dit was vir jou ewige lewe. Nou berus ons by Ps139:16 – voor jou geboorte het die Here reeds die verloop van jou lewe beplan… Jyt ons van geloof, hoop en liefde geleer.Geniet die lewe, koester die mense naby aan jou hart, ons tyd op aarde is regtig net geleen.  Maderi van Greunen 15/08/2013 at 18:49

2.     Die een “doodslied” wat my altyd rondom Paastyd aangryp, is Jan de Wet se lied op sy destydse “Via Dolorosa” cd: Dood, waar is jou angel? Jy kon Hom nie oorwin! Jesus Christus lewe weer, sy hartklop het begin…”Francois Mulder 16/08/2013 at 06:44

3.     Ek staan by n broeikas in Bethlehem,OVS met ‘n gesigmasker aan. Kort tevore het twee klein babatjies langs mekaar gele: Francois Mulder+sy tweeling sussie Esperance. Hy ‘n skamele 3lb 6onse en sy 3llb 10 onse. Sy is weg hemel toe en ‘n eensame graffie met die woorde:”EN DAAR SAL GEEN DOOD MEER WEES NIE……en ook LAAT DIE KINDERTJIES NA MY TOE KOM ruk aan my hart. God het hierdie seuntjie gespaar… Aanhaling uit GEBEDSIMFONIE: 23 Verhale van Hoop deur Dr E E Mulder 0833066323 shyries@icon.co.za            elreza mulder  16/08/2013 at 09:59

4.     Dankie vir jou mooi woorde Maderi! Jy was vir daardie gesin die Hande van Jesus! Francois Mulder 16/08/2013 at 10:18

5.     Uitstekend verwoord, Francois.. Ek het nie woorde om te beskryf hoe uitstekend nie, want dit is te goed geskryf. Dis besonders. Nog meer kan ek nie se nie… Daar is nog lewe in die NG-kerk, en jy is deel daarvan.. Somerset (Sommie) Morkel
16/08/2013 at 10:33

6.     Ag, ek is al tot satwordens toe moeg vir Abel Pienaar, Osbloed van Niekerk en Piet Croucamp se se getjank. Aan die een kant wil hulle hê mens moet ook ruimte maak vir hulle sienigs en dit respekteer (m.a.w. moontlikheidsgesag of -warde daaraan toeken)maar aan die ander kant laat hulle geen geleentheid verbygaan om standpunte wat van hulle verskil, vernederend as snert af te maak nie. Wat my van hulle opval is dat hulle goed kan kritiseer, maar geen alternatief aanbied nie. Hulle skep as’t ware dus net n geestelike vakuum, klop hulleself op die skouer omdat hulle nog ‘n gelowige verneder het, bak in die warmte van hulle volgelinge se heldeverering en stap weg, sonder om vir ‘n oomblik enige seeempie van simpatie teenoor die smartebdes te tiib,
Die waarheid is dat ons almal smart beleef en dat die meeste van ons verkies om dit op ‘n ander manier te hanteer as om dit net te misken en te sê “daar’sniks”, of deur te sê “die ewige lewe is net ‘n fabel.”
As iemand gebore word, is almal bly, behalwe die een wat gebore word, want dit huil. Maar as ‘n gelowige sterf, soos ‘n hemelkind wat ook kan glo en gered kan wees, dan is almal hartseer, behalwe een. En dit is die een wat huistoe gaan. Vir my is die troos dat ons hulle weer eendag sal sien, want al is ons nou gebroke (2 Kor. 4,5), dan sal ons ‘n verheerlikte liggaam hê (1 Kor. 15) En ons sal op ‘n plek wees waar daar geen meer siekte of gebrek of pyn of smart of swaarky sak wees nie, want Jesus self sal daar wees (Opng. 22)
Mens moet maar net self die keuse maak – of die dinge wat mense self uitdink in ‘n poging om mense se hoop weg te neem en ‘n geestelike vakuum te skep (want dit staan verseker nie in die Bybel nie)of mens kies vir wat in die Bybel staan omdat dit meer gesagvol as mense is. Onthou ook dat menslike filosofie voortdurend verander maar dit was nog nooit nodig om die bybel te verander nie.  Yf Veldhuizen 18/08/2013 at 20:51

7.     Sopas weer aangeraak deur ‘n sterfbed moment met ‘n “caregiver” wat saam met familie huil oor die kosbare oom se stryd … Wees die troos-hande van Jesus vir hulle wat treur.  Francois Mulder 19/08/2013 at 10:08

8.     Dankie vir hierdie pragtige, belewingsboodskap van Jesus se oorwinning oor die dood. Ek beveel graag die boek van dr Jan Bothma aan wat ook hierdie roemtaal oor die dood so treffend stel “Waar is my geliefde wat gesterf het?” (LuxVerbi.BM)Chris Botha
20/08/2013 at 09:05

9.     Ds Andre de Villiers…Dit klink of dit my pa moes wees. Hy is op die 13de Julie 2013 weeggeneem van ons. Was in die ICU in mosselbaai. Ons mis hom baie…hy het baie vir baie mense in sy lewe beteken. Ons mis hom baie, maar dit voel of sy “happiness” ons nalatenskap is.Die verpleegsters was baie goed vir hom en ons familie. Mens onthou sulke dinge en waardeer dit baie. Baie dankie!! En Ds Francois Mulder , as dit my pa was, dankie ook vir jou gebed vir hom. Ons waardeer dit baie. EN my pa sou ook. Dankie !! Marilize De Villiers 07/09/2013 at 21:41


Donderdag 09 Januarie 2014

U2 KORT ONS VOORBIDDING, NIE AANBIDDING - 21 Maart 1998



U2 KORT ONS VOORBIDDING, NIE AANBIDDING - 21 Maart 1998
francois mulder

Op hierdie derde Saterdag van Maart was dit die Ierse Rockgroep U2 wat 67 000 mense laat saampak het in die Johannesburgse stadion. Was ek die enigste predikant, enigste Christen tussen die massas gesigte? Heel moontlik die enigste predikant uit die platteland, want om my het die walms van nikotien, bier en selfs ‘n verdwaalde daggarokie gehang.



“Waarom is ons hier...hoe’t ons hier gekom...waar’s ons...hoe’t julle hier gekom” sou die hoofsanger van die groep, Bono (Paul Hewson) later die aand vra. Hoe beland ‘n dominee by die grootste Rockvertoning wat Suid-Afrika nog gesien het? Wel, dis ‘n lang storie waarin my jongste broer ‘n groot aandeel het.  In ons jong dae op skool was ek die getroue U2 ondersteuner. Veral in my matriekjaar in 1987, toe U2 die wêreldmusiekbedryf oorrompel het met hul album The Joshua tree, het hulle my ook as voornemende tokkelok ingetrek met diepsinnige lirieke en ‘n unieke en eiesoortige klank. In I still haven’t found what i’m looking for het hulle geloof bely soos volg: “I believe in the Kingdom come/ then all the colours will bleed into one... You broke the bonds and You loosed the chains/ carried the cross and all my shame/ You know I believe that/ but I still haven’t found what i’m looking for”.  Toe ek later moed opgegee het met hierdie Iere in hul eindelose soektog na God wat volgens my nie in die regte rigting verloop het nie, het my broer nie moed verloor nie. Hulle musiek was die klankbaan vir sy lewe.

Toe begin die kulturele isolasie van Suid-Afrika verbrokkel in die nuwe bedeling en tweede rangse en vergete musikante en rockgroepe oorstroom ‘n uitgehongerde musiekpubliek. Reeds toe het ons onsself beloof - daar’s net een konsert vir ons en dis U2. Gevolglik was die kaartjies reeds in Oktober verlede jaar gekoop en het ons saam die dae afgetel.



Half tien die aand het die ‘diens’ begin. Vir heelwat mense is hierdie tipe skouspel kerk, met hul helde die gode wat aanbid word. Dié ‘kerkgangers’ was egter in vir ‘n verrassing, indien hulle die boodskap of preek van die verhoog af ingeneem het. In ‘n onderhoud met Graeme Klopper voor hul konsert het Bono so geantwoord op die vraag of supermarkte die kerk vervang het in mense se lewens: “That’s quite interesting because I feel supermarkets should all have chapels built onto the side as people spend so much time there. Actually, banks were the new churches, but now they’ve been replaced in turn by casinos - luck and chance have replaced faith” (Sunday Times Magazine, 8-03-1998: 13). Die tema van hul konsert was natuurlik Popmart, ‘n verwysing na die kommersialisme van die moderne popkultuur waarin alles te koop aangebied word en popsterre soos hulle teen ‘n prys aanbid kan word. In ‘n lied wat hulle dié aand nie sou doen nie, Wake up dead man, word die geldmakers en veral sommige kerke in hierdie wêreld geblameer vir hierdie toestand.  Die lirieke bely, beskuldig en bid so: “Jesus never let me down you know/ Jesus used to show me the score/ then they put Jesus in show business/ now it's hard to get in the door/ Jesus, Jesus help me/ I'm alone in this world.” Die massiewe verhoog en reusagtige videoskerm met ‘n geel boog (oftewel ‘n halwe McDonalds M), tandestokkie met olyf en indrukwekkende suurlemoen wat ons as toeskouers oorskadu het, het alles gesê - hierdie is ‘n groot supermark waar alles te koop is soos in die Amerikaanse styl. Maar wat ‘n begin vir die skouspel toe Bono se eerste woorde weerklink: “Looking for to save my soul/ looking in the places where no flowers grow/ looking for to fill that GOD shaped hole”. Skielik het ek geweet hier kom ‘n ding vanaand. Laat dié wat ore het om te hoor, luister deur die ritme en klanke na die soeke van hierdie ‘helde’.

Hul huldeblyk aan die menseregte leier Martin Luther King jr., Pride (in the name of love),
het goed gepas op Suid-Afrika se nasionale Menseregtedag. In dié lied word verwys na verraad wat teen mense gepleeg word in die naam van sogenaamde liefde. Onder andere word verwys na Jesus Christus as “One man betrayed with a kiss”. 

Hul kontroversiële lied Sunday bloody Sunday is reeds in 1983 as ‘n kreet vir vrede in Ierland geskryf. Selfs op ‘n Sondag dwing haat mense om mekaar met geweld en haat te vernietig, maar juis op ‘n bloedige Sondag het Jesus die finale oorwinning behaal. Hierdie proteslied vir vrede is pragtig aangevul met ‘n nuwe lied getiteld Please waarin Christene in hierdie konflik geteisterde wêrelddeel gevra word om op te hou met eensydige gebede vir ‘n spesifieke kant en opgeroep word tot daadwerklik vredespogings. Harde woorde teenoor Brittanje val wanneer Bono sing “So you never knew that the heaven you keep you stole”,
maar in Sunday bloody Sunday verwerp hulle die opsie van geweld met die verklaring “I won’t heed the battle call...”. 

Die hoogtepunt van die vertoning was die simboliese dans van Bono met ‘n lid van die gehoor. Hierdie handeling het reeds ‘n ritueel geword by alle U2 konserte as simbool van die eenheid tussen die groep en die gehoor. Dit kommunikeer o.a. ook die belangrikheid van die gehoor vir U2 en hul begeerte om die afstand tussen hulle en die gehoor af te breek. In hierdie ‘uitreik’ na die gehoor het Bono die skare in vier  van die landstale gegroet en Johannesburg begroet as Egoli. Na die dans met die jonge dame uit die gehoor het Bono een van hul treffers uit die tagtigerjare, With or without you, vir haar gesing. Sy het ‘n rooi stert en rooi horinkies op haar kop gedra wat Bono tydens hierdie lied afgehaal het. Toe sy hom die horinkies aanbied om op sy kop te sit, het hy dit simbolies afgewys. Hierdie handeling het uitstekend gepas by die boodskap van die lied wat vertel van die konflik tussen man en vrou as gevolg van die donker of eie-ek in elke mens. Die horings was simbool van die oorsaak van hierdie konflik. Bono se afwysing van die horings was ook ‘n wonderlike uitnodiging aan die jong meisie om haar ‘donkerte’ te bêre.

U2 het hul kragtigste vuishou gebêre vir die laaste paar liedere van die vertoning. Hold me, thrill me, kiss me, kill me vertel die tragiese verhaal van jong mense wat aanbid word as supersterre in die wêreld, maar wat juis deur hierdie aanbidding om die lewe gebring word. Deur die hele lied is op die videoskerm die gesigte van o.a. Kurt Cobain van Nirvana (selfmoord), Michael Hutchence van INXS (selfmoord), Jimmy Hendrix (dwelms), Janis Joplin (dwelms) en Marilyn Monroe (selfmoord, hoewel onseker) vertoon. Die lirieke is ‘n skerp aanklag teen mense wat hul helde vereer en aanbid en uiteindelik daardeur ‘vermoor’: “they want you to be Jesus/they’ll go down on one knee/but they’ll want their money back/ if you’re alive at thirty-three”. Hierdie supersterre voel dikwels vasgevang in die ‘tronk’ van heldeverering waarin hul aanhangers hul toesluit. “You don’t know how you got here/ you just know you want out” sing hulle oor hierdie dilemma. Bono spot met mense wat so laag daal deurdat hulle moderne keiserverering beoefen, as hy sy agterstewe draai na die gehoor wanneer hy die woorde ‘kiss me’ sing. So laag daal mense dat hulle gewone sterflinge aanbid as gode. Die keuse word aan die gehoor oorgelaat. Gaan julle hierdie groep ook aanbid totdat julle ook hulle bloed sal eis?

Die aand is afgesluit met U2 se toonsetting van Psalm 40 wat gekomponeer is in 1983. Die lied kontrasteer met Staring at the sun se pleitende reël wat sê “God is good but will He listen?”  Saam met Dawid sluit hulle egter wel die aand af met hierdie lirieke: “I waited patiently on the Lord/ I cried for Him to hear my cry/ He set me up, my feet upon a rock/ and I will sing a new song/ how long must we sing this song?/ He lift me up out of the pits/ He made my footsteps firm/ many will see, many will see and hear/ ‘cause I will sing, sing a new song/ how long to sing this song.....”. Die koorgedeelte van hierdie lirieke vanuit die Bybel is vir etlike minute na die groep reeds die verhoog verlaat het, steeds deur die gehoor gesing.

Die konsert was verby, die stadion bestrooi met blikkies en gemors. Ja alles kom tot niks.  Is U2 ware Christene? Dis ‘n saak tussen hulle en God. Hul verwysing na die worsteling tussen Jakob en die engel in Bullet the blue sky, bevestig vir my hul voortdurende worsteling met vrae rondom God en geloof.  Hierdie stryd is om te onderskei tussen die leuens van die wêreld en die waarheid van God.  “Looking for baby Jesus under the trash” sing hulle met verwysing na die waarheid wat dikwels verberg word deur die gemors en leuens van hierdie wêreld.  Het U2  ‘n boodskap vir die kerk en die wêreld wat ook Bybelse beginsels inkorporeer? Ongetwyfeld ja! Maar wat kan ons as Christene gee aan hierdie helde van baie? Méér as die R170 vir die kaartjie? Méér as die geld vir hul gewilde cd’s? Méér as maar net luister na hul soeke en vrae? Ja! As Christene wat dié antwoord, Jesus Christus gevind het, is daar vir ons die uitdaging: ons helde kort ons voorbidding, nie aanbidding. U2 - ek en baie ander Christene bid vir julle en ook vir hulle wat nog afgode maak van julle ten spyte van julle boodskap. Voorbidding?  Ja!  Waardering vir ‘n Godgegewe talent?  Ja! Maar aanbidding?  Nét vir die lewende God wat ons voete soos dié van Dawid op ‘n stewige rots sit.