FILM-EVANGELIE
In ‘n wêreld
waar kersliggies en kersmusiek in Berlyn, romantiese strandwandelinge in die
suide van Frankryk en jeugdige musiekfeeste in die liefdesstad Parys met
moordlustige jaagtogte en duiwelse geweerskote wreed verwring word tot
tragedies, SMAG ek na Goeie Nuus. In filmtaal verlang ek na ‘n fliek met ‘n
gelukkige einde.
Jesus se
film-evangelie wys egter dat jy eers deur Goeie Vrydag se “16V-beperkte” dodemars-riller
moet sit voordat jy kom by die Goeie Nuus van Paassondag se “Geen
ouderdomsbeperkte” Halleluja-koor drama. Vrydag is dit The Passion of the Christ
saam met Mel Gibson en Sondag The Sound of Music met Julie Andrews.
Albei is nodig.
Die lewe ís
gereeld ‘n skop-skiet-aksie-belaaide en ongenaakbare vuishou-film. Daarom dat
ek soms ontvlug met springmielies in my hand opsoek na ‘n grootskerm belewenis
van romanse, musiek en drome wat waar word. As jy ook soms sulke ontvlugting en
ontspanning benodig, is jou dokters-voorskrif as volg: gaan kyk La La
Land saam met jou geliefde en laat jouself toe om oorrompel en betower
te word deur dié goedvoel-film van die jaar. Maar moenie nét maanskyn en rose
verwag nie – dié Musiekprent is geskryf en gekomponeer met ‘n goeie dosis harde
realiteit.
“La-la
land” verwys natuurlik na die bekende konsep van iemand wat in ‘n droomwêreld
leef, êrens op sy eie “planeet.” In die VSA word die term óók gebruik as ‘n bynaam vir Los Angeles (LA) in Californië, die
tuiste van Hollywood, die Amerikaanse droom en aspirant droomsoekers. En watter
droom vir enige filmmaker is soeter as Oscar glorie?
OSCAR
DROME VERVUL?
Met 14 Oscar nominasies - ‘n rekord wat
die film voortaan hou saam met 1997 se Titanic en 1950 se All
about Eve – weet jy dat elke aspek van hierdie film 5-ster is. Indien La La
Land die topprys as beste film verower, sal dit die eerste maal wees
wat ‘n oorspronklike Musiekprent dié prestasie behaal. In die 88 jaar sedert
die eerste Oscar toekennings gehou is in 1928, het nog net 10 Musiekprente gewen,
almal gebaseer op Broadway produksies of ander bronmateriaal. Elke melodie wat
jy dus beleef in La La Land is kraakvars uit die pen van Justin Hurwitz.
Filmregisseur en skrywer Damien
Chazelle is aan Suid-Afrikaanse filmgangers bekend vir sy fenomenale film Whiplash
wat aan akteur J.K. Simmons sy eerste Oscar as beste manlike byspeler besorg
het in 2015.
Op die ouderdom van 32 jaar ry hierdie Amerikaanse filmmaker na
slegs sy derde vollengte film die kruin van Hollywood-sukses. Maar as iemand
wat die binnewerkinge van die industrie reeds ken, skemer daar tog ‘n
interessante pessimisme deur in La La Land.
BITTERSOET?
Sebastian,
gespeel deur Ryan Gosling, is ‘n sukkelende Jazz-puris klavierspeler wat suiwer
jazz wil bewaar deur ‘n Jazz-klub te begin. Mia, gespeel deur Emma Stone, is ‘n
aspirant aktrise wat teleurstelling op teleurstelling beleef. Hierdie twee
dromers se wêrelde ontmoet met musiek en dans en ‘n transformerende vennootskap
en liefdesverhaal ontvou. Hulle word mekaar se inspireerders tot droom-navolging.
Teleurstelling en kompromie loer egter om elke hoek en draai, gerééd om dromers
uit hul la-la land af te bring aarde toe.
BLOOD, SWEAT
& TEARS
Die
evangelie van La La Land verkondig:
drome word soms waar, maar daar’s altyd ‘n prys om te betaal. Is jy bereid om
die prys te betaal vir “elke aardse droom van rykdom en roem?” Is jy seker jou
drome is nie “net ‘n skadu teen die muur,” soos Koos du Plessis en die Prediker
waarsku?
Ek wonder wat sou
Sebastian en Mia se opinie wees oor die atleet Eric Liddle wat na sy Olimpiese
Spele triomf, soos vertel in die Oscar-bekroonde Chariots of Fire, sy rug
keer op beroemdheid en sendingwerk gaan doen in China?
La La Land het
passie, uitbundigheid, realisme, fantasie en jazz. Dit vermeng die nostalgie
van outydse Musiekprente op ‘n kreatiewe wyse met die uitdagings waarvoor die
hedendaagse kunstenaar staan. Dis ‘n staande ovasie werd met diepdink oomblikke
lank na die laaste note in die leë teater weerklink het. Dit los mens met talle
vrae:
* Is
dit die moeite werd om jou drome ten alle koste na te jaag al is dit ten koste van verhoudinge?
* Is
beroemdheid sukses?
* Wat
is die gevolge van my keuses?
* Het
ek al van my eie drome laat vaar as gevolg van teleurstelling?
Bono van die
Ierse rockgroep U2 het eenmaal gesê: “Rock ‘n’ Roll has its feet down in the
mud and its head up in the clouds.” La La Land se kop sing in die wolke
met voete dansend in die modderige realiteit.
My gradering 5/5***** Francois Mulder
is leraar in Blanco, George
VINNIGE
FEITE:
Regisseur & Skrywer: Damien Chazelle
Hoofrolle: Ryan Gosling, Emma Stone
Tydsduur: 128 minute
Begroting: $30 miljoen
Ouderdomsbeperking: 7–9PG