64DaeFokus - Habana, Richard Gere en Hillary Swank
1 Augustus 2008
Dit was HEERLIK om laas Sondag fees te vier oor God - in die erediens en daarna met die poedingfees in die kerksaal. Baie dankie ALMAL wat dit so besonders en smullekker gemaak het! Die Here seën ons met julle DIENSWERK.
Asof die opwinding van heerlike poeding nie genoeg was nie, is baie seuntjies (en dogtertjies) "bederf" deur hul rugbyheld, Bryan Habana, te ontmoet na die erediens. Wat 'n snaakse belewenis vir ons almal toe die kindergroepe klaar is en die kinders hul held kom soek het in die erediens. Die nuuskierigheid en opwinding van die seuntjies wat deur die vensters loer en Pa's en Ma's wat met hul oë hul kinders probeer "aanspreek", was kostelik!
Na die diens kon ek kortliks met Bryan en sy meisie Janine gesels. Waaroor ek die BLYSTE is, is die feit dat hierdie 2 jongmense uitverkoop aan Jesus is. Ek is bly daaroor dat ons kinders (en party van ons grootmense) in Bryan 'n held het wat nie skaam is om sy geloof voor ander te bely deur in die openbaar 'n erediens by te woon nie. Volgende keer as hierdie kinders hom sien op TV gaan hulle onthou: 1. Ek het hom ontmoet 2. Hy was by ons kerk en die belangrikste 3 Hy is 'n Christen! Kom ons bid vir Bryan en Janine en ander hoë profiel christene wat in die vergrootglas van die media leef.
Maar kom ons onthou ook dat in God se oë dit nie gaan oor hoe BELANGRIK jy is nie, maar of jy aan Hom BEHOORT!
Lees gerus ook hierdie besondere artikel van Professor Hennie Stander (skrywer van dieBybel@kinders.co.za)
BELANGRIKE STERRE Prof Hennie Stander
Vrydag, 1 Augustus 2008 Richard Gere en Hillary Swank was nou ’n paar dae hier in Johannesburg vir die verfilming van tonele vir die film Amelia. Nuusberigte sê dat “mense wil omval” wanneer hulle hierdie twee sterre sien.
Dit is darem snaaks dat die meeste mense so graag bekende mense wil ontmoet of wil sien. In die amper 7 jaar wat ek Maksiman se redakteur was, het ek nogal die geleentheid gekry om etlike kere by funksies ensovoorts verskeie bekende mense in ons land te kon ontmoet. Almal was heel oulik en gaaf, maar ek moet regtig sê dat hulle ook niks meer oulik is as die ‘gewone’ mense rondom ons nie (en daarmee wil ek geeneen van die bekende mense te na kom nie). Ek het ’n paar jaar lank as stoker op die spoorweë gewerk, en ek was ook 12 jaar in die weermag (nie as kapelaan nie, maar in die gewone eenhede). En ek het ook in hierdie omgewing net sulke interessante mense ontdek wat my lewe ontsaglik verryk het.
Ek het juis netnou so ’n aangrypende en opregte briefie gelees wat ’n dame vir my geskryf het wat in die gevangenisdiens werk. Die egtheid wat uit haar briefie straal, het vir my so baie beteken. Ek kan net sien dit is iemand wat regtig vir Christus liefhet, en wat ’n hartsbegeerte het om ‘n pad met die Here te stap. So ’n briefie laat dikwels ’n ewe groot indruk op my, as wanneer ek met bekende teoloë in die wêreld gesels, en ek kry ook periodiek sulke geleenthede.
Al wat ek vandag wil sê, is die volgende: Ontdek die diamante in die harte van gewone mense rondom jou!! Gesels bietjie met jou huishulp, en laat sy jou vertel van haar lewe, en jy sal agterkom dat sy ’n vrou is nes jy, en ook jou soort drome en frustrasies beleef, en dat sy ook al ’n klomp lewenswaarhede geleer het wat jy ook jou eie kan maak. Gesels met kindertjies. Moenie jou buurman of buurvrou vergeet nie. Beweeg net ’n bietjie nader na hulle toe, en dalk ontdek jy ’n kosbare diamant in daardie persoon. Probeer om die pêrels raak te sien in jou kinders, en in jou lewensmaat, en in jou kollegas.
Ek weet dat gewone mense rondom my my lewe dikwels meer kan verryk as wat Richard Gere en Hillary Swank sou kon doen. Moenie die skatte verwaarloos wat rondom jou is nie. Christus het eenkeer sommer ’n kindjie nader getrek en gesê so ’n kindjie is die heel belangrikste in die koninkryk van God. Kyk vandag met nuwe oë na mense rondom jou, as mense wat jou lewe kan verryk.
http://www.carpediem.co.za/henniestander/
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking