Maandag 16 April 2018

KUNSTENAARS IN DIENS VAN KUNS ÉN KERK

Enige vorm van kuns kan soos ʼn gelykenis van Jesus wat Woord-waarhede verlig en verstaanbaar maak funksioneer, skryf Francois Mulder. Hy vertel ook van die vorme van kuns wat die NG gemeente Blanco tot dusver in hulle bediening gebruik het. 
27 April 2017, Kerkbode

“The true work of art is but a shadow of the divine perfection.”
Michelangelo

Michelangelo (6 Maart 1475 – 18 Februarie 1564) is gebore agt jaar vóór Martin Luther en leef uiteindelik nog agttien jaar na dié hervormer se dood in 1546. Soos Luther, is sy invloed sigbaar tot vandag, al is dit in ‘n totaal ander sfeer. Een van sy kunswerke het my nog altyd gefassineer: die beroemde fresko “die skepping van Adam” wat pryk op die plafon van die Sistynse Kapel in Rome. Wanneer mens infokus op God en Adam se hande, sien jy dat hul wysvingers net-net nie raak nie. In my gedagtes was dit nog altyd ‘n versinnebeelding van die mens se soeke na God. ‘n Smagting na sy skeppende aanraking te midde van die afstand en skeiding wat sonde bring. 

In Jesus Christus het die Vader opnuut die mens kom aanraak en die skeiding kom deurbreek. Die oomblik wanneer daardie twee vingers mekaar raak, is daar vergifnis en nuwe lewe. 

Kreatiwiteit is vir my die oomblik van aanraking deur die Skepper-Vader. Hy as die kreatiefste wese in die heelal, is die bron van alle kreatiwiteit. Soms vir ‘n oomblik wil dit voorkom asof die vinger van God óók die van sommige kunstenaars aanraak om as profete op te tree deur verskillende kunsvorme.  

Gevolge van hervorming vir kuns

Een van die verstaanbare maar tog hartseer gevolge van die hervorming vyf honderd jaar gelede, was ‘n breuk tussen die protestante en die “Katolieke kunste.” Die beeldhouwerk en muurskilderye in die Roomse katedrale het die hervormers net té veel herinner aan alles wat hulle verwerp het onder leiding van Luther, Zwingli en Calvyn. Die “beeldenstorm” van 1566 in die lae lande is ‘n ekstreme voorbeeld van die vernietiging van Roomse kunswerke en beeldhouwerk. Die gevolge hiervan is deur die eeue gesien in ‘n wantroue van kunstenaars in die algemeen. Protestantse kunswerke het drasties afgeneem en kunstenaars het religieuse temas al hoe meer begin vermy. Dis interessant om enkele protestantse kunswerke uit die hervorming te sien wat Jesus uitbeeld, maar natuurlik sonder die Roomse “stralekrans”. Met die bogenoemde “kuns-breuk” het die kerk geweldig baie verloor: die kind is met die badwater uitgegooi.

Kerse, kruise en kunswerke in kerke is egter nie die uitsluitlike eiendom van die Rooms Katolieke kerk nie. Gelukkig het dit deur die eeue verander met ‘n nuwe omarming van kuns as uitdrukkings van kunstenaars se liefde vir God en tot opbou van die gemeente. Daarom in NG kerkgeboue regoor ons land is daar bewyse van kunstenaars wat hul geloof uitleef deur kunsvorme te beoefen wat deur gemeentes verwelkom word. 

 Fotografie, dans, digkuns, kontemporêre musiek en skilderkuns kan funksioneer soos die gelykenisse van Jesus wat Woord-Waarhede verlig en verstaanbaar maak. 

“A Christian should use these arts to the glory of God, not just as tracts, mind you, but as things of beauty to the praise of God. An art work can be a doxology in itself.”
Só skryf die bekende Amerikaanse teoloog, Francis A Schaeffer (1912 – 1984), in sy boek Art & the Bible.

Grassade in die wind

Stef Kruger: Die liedjieskrywer en kunstenaar Stef Kruger saam met Francois Mulder. Stef hou sy Psalmskildery vas

Tydens Blancogemeente in George se Psalm-kwartaal in 2013 is verskeie kunstenaars vanuit verskillende dissiplines aangewend om die Psalms van die Ou Testament kleur en klank te gee. Louis Brittz het van sy Psalm-toonsettings kom sing terwyl Stef Kruger sy lied Grassade in die wind gesing het tydens ’n erediens as ’n moderne Psalm-weergawe van Psalm 103: 15-16.  


Psalm 103:15-16                                                  Grassade in die wind

Die mens, sy lewensduur is soos dié                  Ons is maar grassade my kind
van gras, soos dié van 'n veldblom                    in die wind verwaai my kind
wat oopgaan: as die woestynwind                     ons is maar grassade my kind  
daaroor waai, is dit weg en sy                            in die wind
plek vir altyd leeg.                                               verwaai.

In antwoord op die lees van Psalm 119:176 se negatiewe “verdwaalde skaap”-metafoor het Stef geantwoord met sy positiewe “verdwaalde siel”-metafoor wanneer die Skepper se skepping hom oorweldig.


Psalm 119:176                                                      Dan verdwaal my siel

Ek het verdwaal soos ’n skaap                           Somtyds as die son sak
wat weggeraak het,                                              somtyds as ek bang raak
U moet my soek,                                                   is dit net die plek vir my.
vir my,                                                                   Kleure spat in skerwe
u dienaar,                                                              as die dag buite sterwe
want ek het nie                                                     maak die lewe sin vir my.
u gebooie vergeet nie.                                          Dan verdwaal my siel…




Tydens die res van die prediking het Stef, omring deur die kinders van die gemeente, ’n impressionistiese kunswerk getiteld “Psalm” geskep, tot groot applous van die gemeente toe hy die finale produk omhoog gehou het. Na die erediens het hy geskerts: “Ek het al baie applous ontvang vir my musiek, maar nog nooit vir ’n skildery nie.”

Dié kwartaal is afgesluit met die Mosselbaaise skilder, Maria Oosthuizen, wat haar getuienis kom gee het met van haar skilderye uitgestal in die liturgiese area. Haar besoek het geboorte gegee aan ’n besondere tradisie wat gevestig is in die gemeente naamlik om skilderkuns te gebruik vir die voorblad van die jaarlikse kerkkalender. 
 Vir die daaropvolgende jaar het Maria toestemming verleen dat ’n besondere kunswerk van haar getiteld “Supernatural favour forgiveness” gebruik mag word vir die 2014-kalender. Dié pragtige, helderkleurige skildery van ’n dansende en uitbundige dogtertjie versinnebeeld vreugde in die teenwoordigheid van die Vader, Seun en Gees. Haar kunswerk vorm deel van ’n reeks getiteld “Beauty for ashes.” 

Vir Maria, wat geen formele kunsopleiding het nie, is haar kuns ’n voltydse beroep, maar veral ’n roeping. Sy het kreatiwiteit as’t ware met moedersmelk ingekry met ’n ma wat ook ’n kunstenaar was. Haar inspirasie is God “omdat Hy die skepper is van alles wat mooi is”. Sy vertel: “Hy het my geroep vir sy doel. Vanuit my gehoorsaamheid aan sy roeping en my liefde vir kuns, verf ek met my totale wese om Hom te aanbid. Daarom bid ek dat elke skildery mense sal aanraak soos wat ek aangeraak is tydens die verf daarvan.” 
 Supernatural: Die kunstenaar, Maria, se kunswerk wat op Blancogemeente 
se 2014-kalender gepryk het.

Gee jouself

 Gee: Verona Cronjé se kunswerk wat in Blancogemeente se voorportaal pryk.

In 2015 het Verona Cronjé, ʼn lidmaat van Blancogemeente, se besondere kunswerk op die voorblad van die gemeente se kalender gepryk. Uiters gepas omdat die jaartema “Gee!” was. Die temalied vir die jaar was Louis Brittz se toonsetting van Romeine 12 getiteld “Gee jouself”. Verona, ’n fisioterapeut van beroep wat skilder vir ’n stokperdjie, het jare gelede dié kunswerk geskilder vir ʼn gemeentefees en daarna aan die gemeente geskenk. 

Vandag hang dit in die ingangsportaal van die kerkgebou. Dié titellose skildery is 2 by 1,5 meter groot en wys twee hande wat ’n stuk brood breek.

Vir sommige gemeentelede is dit die hande van Jesus wat die brood breek by die instelling van die nagmaal. 

Verona self hoop dié skildery is ’n oproep aan gelowiges om tot aksie oor te gaan en hul geloof in Jesus Christus uit te leef en uit te deel. Die kunswerk roep uit: “Géé jouself soos Jesus aan God én mense!”

Oor haar kunstenaarskap vertel sy: “My oortuiging is dat kuns die menslike hunkering na hoop ontsluit. Dat dit, vir die gelowige, ver verby die luuksheid wat normaalweg met kuns assosieer word reik na hoop … wat eintlik nie geskei kan word van skoonheid nie. Die fokus om iets moois te wil produseer verskuif van selfsug of selfbediening na om met ’n dringendheid die wêreld se fokus te skuif met elke kwashaal weg van armoede, siekte, nood en moedeloosheid na hoop. Daarmee saam ons Hoop en die Gewer daarvan. Dit word ’n refleksie van ons geloof.”

Laat die kindertjies kom! 

En wat van die kinders van elke gemeente wat oorborrel met aanvanklike selfvertroue en kreatiwiteit? As jy hulle vra: “Wie van julle kan mooi inkleur?” is elke hand op! Êrens langs die pad verloor hulle ongelukkig daardie spontaniteit en wete dat hulle kreatief geskep is. Om hul kreatiwiteit aan te moedig het die Blanco-gemeente einde 2015 ’n ope uitnodiging gerig aan die kinders van die gemeente om te help skep aan 2016 se kalender met die jaartema: “Huis”. Die uiteindelike kinderkuns-kalender het daardie tema pragtig geïllustreer.

Kyk: Verona Cronjé oorhandig haar kunswerk aan Francois Mulder.

Einde 2016 het die leraarspan van Blanco vir Verona Cronjé gevra om ’n kunswerk te skep vir die 2017-kalender. Sy moes aansluit by die jaartema “Kyk!” asook die vier kwartaaltemas: Kyk na die Vader, Kyk na die Heilige Gees, Kyk na Jesus Christus en Kyk weer (na die Hervorming.) 

Na aanleiding van 'n onlangse besoek aan 'n oogkundige, het een van die leraars die voorstel gemaak van 'n “phoropter” in die ontwerp. 'n Phoropter is 'n instrument wat oogkundiges gebruik om tydens 'n oogtoets individuele lense op elke oog te toets. In haar kunswerk kyk iemand deur so ’n phoropter. 

Behalwe vir die gemeente se naam, jaartema en die jaartal, het sy die woorde “Vader, Seun en Heilige Gees” op kreatiewe wyse ingevoeg te midde van herfskleure en patrone. Met die eerste wys van die skildery op die groot skerm tydens ’n erediens, het ’n tannie van agter in die gemeente kliphard gevra: “Dominee, wat beteken dit?” Ek kon verduidelik dat ons as gemeente in 2017 stip wil kyk na die Vader, Seun en Heilige Gees. 

Maar soos met alle kunswerke is elkeen se kyk en verstaan daarvan uniek. So vertel ’n voormalige koster van die gemeente, die 97-jarige tannie Soes Stander, dat die skildery haar herinner dat God orals kan sien. Iemand anders interpreteer dit weer as ’n herinnering dat ons almal met verskillende brille kyk na die lewe. 

Blancogemeente kalender: Die voorblad van die gemeente se 2017-kalender.

Die Here voorsien aan elke gemeente dit wat nodig is om hulle roeping uit te leef. Daarom glo ek dat Hy ook kunstenaars oprig in gemeentes om deur kwas, pen, kamera, instrument of stem mee te help in die opbou en groei daarvan. 

Kom ons verwelkom en omarm opnuut die kunstenaars in ons kerke as begaafdes wat met hul kunsvorme ons inspireer en bedien met hul Godgegewe kreatiwiteit. En aan die kunstenaars: Kom verstom ons met jul kreatiwiteit as heenwysers na die oorspronklike Groot Kunstenaar. 

Ds Francois Mulder is een van drie leraars van Blanco NG gemeente in George, Suid-Kaap.