LANK LEWE DIE TAMBOERYNMAN
Totius het
dit in die vorige eeu gedoen met die Psalms.
TT Cloete kon hom dit nadoen
vir ‘n nuwe generasie met die Liedboek van die kerk. Nou doen Koos
van der Merwe dit met Leonard Cohen en Bob Dylan se legendariese woorde en
musiek: hy “omdig” en “hersing” hul psalm-treffers in poëtiese Afrikaans en outentieke
musiekklanke.
Twee jaar
gelede vra ek in Kerkbode; Leonard van der Merwe of Koos Cohen? Met sy nuutste projek, Tamboerynman, is dit
beslis nie Koos Dylan of Bob van der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van
der Merwe wat op ‘n meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk
in aanGRYPende Afrikaans.
Natuurlik
ken jy Dylan se “Mr Tambourine Man,” maar nie met soveel vreugde soos wat dit
hier “Tamboerynman” word nie. In die
tweede vers is die woorde: “Ek wens vir jou betowering.” Dít kry hierdie projek reg – dit betower en
oorrompel jou om óf opnuut óf vir die eerste maal Bob Dylan te waardeer as
digter en profeet.
Die
bekendste treffers van die Dylan-oeuvre neem jou terug na die Sestigerjare van
opstand en protes. Dit dóén iets aan ‘n mens om vanuit “Blowin’ in the wind” in
Afrikaans die dringende vraag te hoor: “Hoeveel keer moet kanonkoeëls nog
vlieg, voor iemand dit vir ewig verban?”
Koos se stem
is ryk, diep en soms teer. Matthys Maree oortref homself met die verwerkings.
Hierdie kombinasie skep opnuut ‘n meesterwerk.
Die
titelsnit en “The times they are a-changin’” is verwerk deur kitaar-ghoeroe
Juan Oosthuizen. Dié destydse “volkslied van verset en verandering” tref hard
en diep 52 jaar na Dylan dit in 1963 vrygestel het.
Die sewentigs en
tagtigs word ook goed verteenwoordig op die cd. Veral van belang vir gelowiges
is die lied “Ek glo in U” wat in 1979 verskyn het op Dylan se “Slow Train
Coming,” kort na sy bekering. “Ek glo in U deur die trane en deur die
blydskap,” bely hy sy geloof.
Die enigste
negentiger lied is “Make you feel my love,” die lied waarmee Elvis Blue
aanvanklik die Idols beoordelaars uitgeboul het. Met die luister na “Dat jy my
liefde voel” besef mens dat Dylan-liefdesliedere in ‘n klas van hul eie is.
Koos se interpretasies en die kommersiële sukses van die Cohen-projek,
inspireer hopelik die industrie om meer diepgaande, kwaliteit skeppinge te
omarm en te bemark.
Waar ek met
die Cohen-produksie gekla het oor die afwesigheid van die lied-tekste, is geen
koste ontsien met Tamboerynman nie. Die kunsvolle bladuitleg en lirieke asook die
talle kunstenaars wat 15 strykers insluit, getuig hiervan. Die verantwoordelikheid
om aan Dylan reg te laat geskied in Afrikaans, is ooglopend met erns en eerbied
aangepak.
Vir die
haters en kritici wat “die hemele behoed ons” gegil het toe die projek
aangekondig is: as Robert Allen Zimmerman, (24 Mei, 1941 - )
Afrikaans kon verstaan, sou hy trots gewees het. Lank lewe die Tamboerynman!
Francois Mulder is predikant in Blanco NG Kerk, George
Antwoord op Riaan Grobler se resensie van Koos van der
Merwe se "Tamboerynman"
59 minute van onafgewaterde
kuns deur Koos van der Merwe
Dis met ‘n gevoel van
ontnugtering wat ek dikwels raaklees hoe
maklik resensente kreatiewe werk kan verguis op grond van hul subjektiewe
voorkeure en vooroordele.
Riaan Grobler se resensie van
Koos van der Merwe se lofgedig aan Bob Dylan getiteld “Tamboerynman”, is ‘n
sprekende voorbeeld hiervan.
Nes Anton Goosen, het hy kategories besluit
“Leonard Cohen en Bob Dylan in Afrikaans” is ontoelaatbaar en heiligskennis. Ek
vermoed Grobler het sy vooroordele reeds omarm voordat hy reggeskuif het om te
luister en daarna te skryf oor hierdie projek. Ek glo hy sou die presiese
artikel kon skryf sonder om die cd te luister en die teks te lees.
As selfaangestelde expert het hy klaar besluit: ”Afrikaans
het helaas nie woorde vir Dylan-psige.”
Ek verskil 100% met Grobler se bogenoemde
stelling! Koos van der Merwe het die “onmoontlike” vermag deur die Dylan-psige
in Afrikaans te ontsluit. Ek beleef sy Cohen- en Dylan-projekte as uiters
geslaagde pogings om hierdie ikone te laat grondvat in Afrikaans. Sy respek vir
Cohen en Dylan is deurgaans duidelik. Die vertalings is
veel eerder poëtiese omdigtings, geen woord-vir-woord dwinglandy nie.
Natuurlik is daar te veel resepmatige Afrikaanse musiek. As Dylan-aanhanger - wat AL SY CD’s besit - is ek
óók moeg vir vertaalde populêre Duitse melodieë wat skaamteloos gekaap word en
nuwe middelmatige skeppings word ter wille van die almagtige Mammon. Juis
daarom salueer ek elke ware Afrikaanse digter en komponis uit die verlede en
hede. Om Koos van der Merwe egter te brandmerk as deel van die
kitskos-musiek-mark, is ‘n totale mistasting! Sy 2009 solo cd ”Ter wille van die opdaag” is deur Koos Kombuis geloof!
Kyk verder na sy katalogus oorspronklike, satiriese, bytende
Afrikaanse skeppinge as deel van die sanggroep Prophet op cd’s soos “Ban Hom
uit die Sinagoge”, “Paradysplagiaat”, “Heilige Koeie”, “Plastiek-kansels” en
“Broos onder die blou son.”
Die kommersiële sukses van die Cohen- en Dylan-projekte, inspireer hopelik die industrie om nog meer diepgaande, kwaliteit
skeppinge te omarm en te bemark.
Oor “Leonard Cohen in Afrikaans” het ek in ‘n
2013 Kerkbode artikel geskryf: “Dis Leonard Cohen wat
kom kuier voor jou kaggel en sing in jou hartstaal: Afri-Kaans!”
Met die aankondiging van die
Dylan-projek, het ek gewonder of Van der Merwe se stem dieselfde impak sou hê
as met die Cohen-projek. Elke
Dylan-aanhanger weet tog dat niemand hom kan namaak nie. Gelukkig is
“Tamboerynman” nie Koos Dylan of Bob van
der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van der Merwe wat op 'n
meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk in aangrypende
Afrikaans.
Dis ‘n briljante produksie wat Bob Dylan
opreg en diepsinnig eer.
In my resensie van hierdie cd in die Kerkbode
van 5 Junie 2015, vergelyk ek Van der Merwe as volg met Totius en TT Cloete:
“Totius het dit in die vorige eeu gedoen met die Psalms.
TT Cloete kon hom dit nadoen met sy psalmberyming vir 'n nuwe generasie in die Liedboek
van die kerk. Nou doen Koos van der Merwe dit met Leonard Cohen en
Bob Dylan se legendariese woorde en musiek: hy "omdig" en
"herdig" hulle psalm-treffers in poëtiese Afrikaans en outentieke
musiekklanke.”
Waar ek met die
Cohen-produksie gekla het oor die afwesigheid van die lied-tekste, is geen
koste ontsien met Tamboerynman nie. Die kunsvolle bladuitleg en lirieke asook die
talle kunstenaars wat 15 strykers insluit, getuig hiervan. Die
verantwoordelikheid om aan Dylan reg te laat geskied in Afrikaans, is ooglopend
met erns en eerbied aangepak. Vir die haters en kritici wat “die hemele behoed
ons” gil: as Robert Allen Zimmerman,
(24 Mei, 1941
- ) Afrikaans kon verstaan, sou hy trots
gewees het op hierdie produk.
Bob Dylan is een van die
grootste kunstenaars ooit. Dankie Koos van der Merwe vir 59 minute van
onafgewaterde kuns wat Dylan aan ‘n nuwe gehoor bekendstel. Dit sal jammer wees as die vooropgestelde vooroordele van sommige keer
dat hierdie fenomenale “liefdeswerk” nog meer harte oorrompel.
Lank lewe die Tamboerynman!
Francois Mulder
0826764275
Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige
Dylan
laat hom nie sommer vertaal nie
Deur
Riaan Grobler Vrydag 17 Julie 2015 04:00
Op 21 Januarie 1968 het Jimi
Hendrix begin om sy weergawe van Bob Dylan se “All Along the Watchtower” in
Londen op te neem. Dit was ’n lang proses wat tot Augustus van daardie jaar
geduur het, hoofsaaklik omdat Hendrix keer op keer ontevrede was met verskeie
aspekte van die opname.
Die resultaat sou uiteindelik ’n
ikoniese cover wees, meer suksesvol as Dylan se eie weergawe op die
trefferlyste.
Dylan self was vol lof vir
Hendrix. “Dit het my oorweldig,” het hy gesê. “Hy het goed in die lied
raakgesien en ontwikkel wat ander mense nie kon raaksien nie.”
Hendrix het reggekry wat min
ander kunstenaars kon: om Dylan se grootsheid te oortref. En wat ’n grootse
kunstenaar is Dylan nie!
Ek was dus skepties toe ek
Tamboerynman, Koos van der Merwe se album met Afrikaanse vertalings van Dylan
se liedjies, kry.
Om Dylan se werk te vertaal en op
te neem, is ’n enorme uitdaging.
Eerstens is Dylan se komplekse,
ontoeganklike lirieke so te sê onvertaalbaar. Dylan se binnerym alleen het ’n
dinamika van sy eie. Sy lirieke is dubbelsinnig. Die perfeksionistiese Dylan
het elke woord met rede gekies. Trouens, vir Dylan is sy lirieke die
belangrikste van alles.
Tweedens moet ’n mens musikaal
reg laat geskied aan iemand soos Dylan. Hendrix kon dit regkry. Daar was ander
kunstenaars ook wat ikoniese weergawes van Dylan se werk kon lewer. Dink maar
aan Guns N’ Roses se unieke “Knockin’ on Heaven’s Door” en Eddie Vedder van
Pearl Jam se meesterlike weergawe van “Masters of War”.
Laastens moet ’n mens ook wonder
oor die sinvolheid van so ’n projek. Is dit nodig om Dylan in Afrikaans te
hoor? Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die gehoor op wie dié projek
gemik is, nié van Dylan weet nie en ook nie sy lirieke in Engels sal verstaan
nie.
Wat ook al Van der Merwe se
beweegrede, dit is met die eerste luister duidelik dat Tamboerynman nie gemaak
is om grense te verskuif nie. Die Dylan-klank (aanvanklik die rou akoestiese
kitaar en bekfluitjie, later die growwe rock-klanke) maak plek vir ligte,
generiese pop. ’n Gevestigde en gewilde klank. ’n Resep wat werk.
Daarom sal Tamboerynman
waarskynlik tot ’n bepaalde gehoor spreek. Maar van ’n Hendrix of Vedder is
daar nie veel sprake nie, al het Van der Merwe virtuose soos die kitaarspeler
Mauritz Lotz tot sy beskikking gehad.
’n Ander uitdaging was sekerlik
die liedkeuses. Met die korpus werk wat Dylan oor dekades heen gelewer het, is
dit haas onmoontlik om te kies!
Van der Merwe het egter goed
gekies en die liedjies op Tamboerynman is taamlik verteenwoordigend van Dylan
se vele fases en metamorfoses: die protesliedjies (“Verlore in die wind”), die
surrealistiese droomliedjies (“Tamboerynman”, “Orals om die wagtoring”) en
selfs Dylan se kortstondige geloofsfase (“Ek glo in U”).
Die grootste vraag is egter of
die vertalings geslaagd is. Want hier gaan dit nie net oor taalkundige aspekte
nie, maar ook (en veral) die emosionele.
Vir geharde Dylan-aanhangers is
sy woorde heilig. Soos gebede kan hulle sy digkuns woord vir woord resiteer.
En hoewel die “makliker”
Dylan-liedjies redelik akkuraat vertaal is (soos “Dat jy my liefde voel” en “Hy
was ’n vriend van my”), is dit by die meer komplekse werke waar dinge lelik
begin skeefloop. “Orals om die wagtoring” en “Skuiling teen die storm” is
voorbeelde hiervan. En dit is nie noodwendig weens taalkundige onbeholpenheid
nie, dis omdat jy dié soort lied net eenvoudig nie kán vertaal nie. Dis deel
van ’n Dylan-woordeskat en -psige waarvoor daar nie woorde in Afrikaans is nie.
En dít is waar Tamboerynman die verste tekort skiet.
Een van die lekkerste stories oor
Dylan is toe hy in die 1960’s sy bekfluitjie en akoestiese kitaar geruil het
vir elektriese instrumente. “Judas!” het ’n konsertganger in Londen hom
toegesnou. “You’re a liar,” het Dylan in die mikrofoon teruggekoggel, omgedraai
en aan die band gesê: “Play it f*cking loud!”
Tamboerynman is egter nie ’n
album wat verdien om kliphard gespeel te word nie omdat Van der Merwe
uiteindelik nie daarin slaag om enigiets uitsonderliks met Dylan se liedere te
doen nie.