Vrydag 04 Mei 2018

INTROSPEKSIE MET DIE AFSKEID VAN 'N MATRIEK-1987-KLASMAAT


ZELDA KRUGER (1969 - 2018 ~)




Ek blaai deur facebook foto's van haar lewe.

Haar glimlag is oral.

Getuienisse oor haar impak word gedeel deur dosyne mense:

"Jy was n ongelooflike mens gewees en het soveel mense se lewens geraak."

"JY was die een wat altyd die wêreld 'n spesiale plek gemaak het Zelda." 

"May your smile and joy light up heaven."

"You were one of the strongest people I knew and your light shone the brightest. You were my mentor and close friend for 15 years."

Zelda het altyd gelag en geborrel van vreugde. Sy het baie lewens aangeraak. 
Sy los n groot legacy."


Kanker?

4 jaar stryd?

Genuine nie geweet nie. Nie 'n woord is gerep op sosiale media nie. Hoe anders sou ek uitvind as dekades en 1 231 km tussen ons lê?

Ek dink terug, 31 jaar gelede, Hoërskool Waterkloof. Ek reis saam met Michael J Fox "Back to the future."







Ons skoolhoof is mnr Pieter Martins, ‘n legend! Die skoolkoerant heet na aanleiding van hom die "Martiens." Ons skoolleuse van 1983 tot 1987 is “ons bou in geloof.”


 
Nelson Mandela is nog in die tronk, en ons word tydens Geestes-Weerbaarheid periodes gebombardeer met “volk en vaderland.” Nou en dan is ons al marsjerende tydens kadette. 

Ek hoor weer die popmusiek van die tagtigs in my ore. (Drie dekades later is my rock 'n roll Matriekseun in 'n band genaamd @kloudink - en hulle dink die eighties-musiek is cool ;-)!)

1987. 
Ons wen die A-Bond atletiek vir die eerste maal.
Ons toneelstuk "Die Pakkie" waarin ek as byspeler 'n kwaai polisieman uitbeeld, wen die Direkteurstrofee.
Ons almal is 17 of 18 jaar jonk.
Verliefdheid hang pers aan Jakaranda-bome.

Dit was die “goeie ou dae” – terugskouend natuurlik ‘n noodtoestand tyd waar ons in die jare daarna saam met die land die geboortepyne van ‘n reënboog-nasie sou meemaak. Gelukkig het ons nie toe geweet van die opstandige tienerjare en beneukte post-mondigwordjare wat sou volg vir ons geliefde land nie. 


Charles Dickens se woorde eggo in elke era: “It was the best of times, it was the worst of times…”


Prediker 7:10 waarsku elkeen wat die verlede ophemel asof dit hemel op aarde was:
"Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie."



En toe word ons skoolverlaters en Universiteit gebeur en skoolvriendskappe word al minder.


Huwelike en beroepe volg, en selfs Universiteits-vriendskappe vervaag.


En jy mis jul 10 jaar Matriek-reünie in 1997 want jul sanggroep het 'n optrede.

Maar die internet konnekteer julle na al die jare via facebook. En jy emigreer Suid-Kaap toe.



Jy mis jul 20 jaar Matriek-reünie in 2007, want dominees hou mos troues op Saterdae. Darem stig jy 'n Matriek 1987 facebook groepie. Jy beloer al die reünie foto’s met heimwee.

En die 30 jaar reünie gebeur in jou afwesigheid, want jy vlieg TEXAS toe om saam met U2 reünie te hou met die 30 jaar herdenking van hul 1987 "plaat" The Joshua Tree.

En nou is baie van ons se kinders self in matriek.

En ons share foto’s op facebook en whatsapp-groepies, byna soos Oupa en Ouma wat spog met kleinkinders!

‘n Klasmaat verlaat ons groepie met die woorde: “Kry ‘n lewe! Hou op spog met jul kinders se matriekafskeid rokke!” Iemand op die 100-plus deelnemer-groepie skerts: "Sy whiskey is op!"



Terug uit my gedagte-vlug lees ek Messenger boodskappe wat ek en Zelda 'n dekade gelede gedeel het. Skielik kry hierdie chats nuwe betekenis. Dit ontroer en inspireer my:



·         "Wat n verrassing om jou te sien op facebook. Jy moet maar verskoon, ek leer nog om die ding te werk. Goed ek praat met jou. Skool reunie in Oktober - weet jy daarvan? Jy het n beautiful familie hoor.”

·         “Ek het kontak met Mariaan Marais. Ek het haar n ruk geken, (ons is albei diabete en sy is die diabetes voorsitster en ek het haar so leer ken) maar nooit besef ons was saam op skool nie. Snaaks genoeg, ons het koffie sit en drink toe jou broer verby kom en sy se toe, sy was saam met een van die Mulder broers in matriek. Ek se toe ek ook en toe ons albei jou naam noem, toe lag ons net.....”

·         “Sjoe, die Here is amazing ne? Wat n wonderlike gevoel om te weet jy is waar jy moet wees en besig om te doen vir wat jy geroepe is!!!!!! Glo jy en jou familie is n blessing daar waar julle is. Jy het my bemoedig met jou woorde. Net wat ek nodig gehad het om te hoor. Ek voel ek het roeping op my lewe om jeug berading te doen. Ek het vir 2 jaar korrespondensie kursus ingeskryf deur moreleta ng kerk. Sal jy vir my bid asb? Sal dit baie waardeer!!!!!STERKTE met jou bediening. Leef jou destiny.”

·         Glo jy is n blessing vir jou gemeente. Ek is n tekenaar vir elektriese en meganies ingenieurs... tot ek begin met dit wat ek werklik moet doen, nl jeugwerk. As jy weet van jeug organisasies wat vrywilligers soek hier in Pta, laat weet maar....”


·         “Jy moet goeie week he - hoop jy raak baie lewens aan.”


·         “Mag dit ‘n stunning jaar vir jou wees en mag jy op nuwe avonture gaan met die Here.”



·         “Hoop dit gaan goed met jou? Jy klink erg besig en altyd aan die gang...hou jou uit die kattekwaad... ”



Zelda se woorde: "Leef jou destiny" bekruip my stadig. Volgende jaar word ek 50! Leef ek my destiny?

Met die bogenoemde malend deur my gedagtes skryf ek hierdie boodskap op ons 87-Klofies-Kletsgroep:



Ai mede-1987-Matrieks: 


Ek onthou nog hoe ek en Zelda gedans het by 'n standerd 7 klaspartytjie (1984). Toe ek haar 'n paar jaar gelede gepols het daaroor, het sy my herinner aan een of ander "Ghostbusters" partytjie en 'n epic ene by Surene (ek onthou ons het 'n horror-movie gekyk - "Tourist trap" 😳😱🤣😇?.) 



In my beroep moet ek gereeld begrafnisse en dankdienste (ek hou meer van die term as roudienste) hou. My eie worstelinge met die lewe en die dood het ek 'n paar jaar gelede verwoord in 'n artikel. Ek post die link vir die van julle wat geïnteresseerd is. 

Mag Zelda se geliefdes vertroos word met hoop. En mag ons 1989 se Dead Poets Society slagspreuk "Carpe Diem" leef! Blessings - Francois Mulder (Blanco, George, Suid-Kaap."