Donderdag 09 Januarie 2014

U2 KORT ONS VOORBIDDING, NIE AANBIDDING - 21 Maart 1998



U2 KORT ONS VOORBIDDING, NIE AANBIDDING - 21 Maart 1998
francois mulder

Op hierdie derde Saterdag van Maart was dit die Ierse Rockgroep U2 wat 67 000 mense laat saampak het in die Johannesburgse stadion. Was ek die enigste predikant, enigste Christen tussen die massas gesigte? Heel moontlik die enigste predikant uit die platteland, want om my het die walms van nikotien, bier en selfs ‘n verdwaalde daggarokie gehang.



“Waarom is ons hier...hoe’t ons hier gekom...waar’s ons...hoe’t julle hier gekom” sou die hoofsanger van die groep, Bono (Paul Hewson) later die aand vra. Hoe beland ‘n dominee by die grootste Rockvertoning wat Suid-Afrika nog gesien het? Wel, dis ‘n lang storie waarin my jongste broer ‘n groot aandeel het.  In ons jong dae op skool was ek die getroue U2 ondersteuner. Veral in my matriekjaar in 1987, toe U2 die wêreldmusiekbedryf oorrompel het met hul album The Joshua tree, het hulle my ook as voornemende tokkelok ingetrek met diepsinnige lirieke en ‘n unieke en eiesoortige klank. In I still haven’t found what i’m looking for het hulle geloof bely soos volg: “I believe in the Kingdom come/ then all the colours will bleed into one... You broke the bonds and You loosed the chains/ carried the cross and all my shame/ You know I believe that/ but I still haven’t found what i’m looking for”.  Toe ek later moed opgegee het met hierdie Iere in hul eindelose soektog na God wat volgens my nie in die regte rigting verloop het nie, het my broer nie moed verloor nie. Hulle musiek was die klankbaan vir sy lewe.

Toe begin die kulturele isolasie van Suid-Afrika verbrokkel in die nuwe bedeling en tweede rangse en vergete musikante en rockgroepe oorstroom ‘n uitgehongerde musiekpubliek. Reeds toe het ons onsself beloof - daar’s net een konsert vir ons en dis U2. Gevolglik was die kaartjies reeds in Oktober verlede jaar gekoop en het ons saam die dae afgetel.



Half tien die aand het die ‘diens’ begin. Vir heelwat mense is hierdie tipe skouspel kerk, met hul helde die gode wat aanbid word. Dié ‘kerkgangers’ was egter in vir ‘n verrassing, indien hulle die boodskap of preek van die verhoog af ingeneem het. In ‘n onderhoud met Graeme Klopper voor hul konsert het Bono so geantwoord op die vraag of supermarkte die kerk vervang het in mense se lewens: “That’s quite interesting because I feel supermarkets should all have chapels built onto the side as people spend so much time there. Actually, banks were the new churches, but now they’ve been replaced in turn by casinos - luck and chance have replaced faith” (Sunday Times Magazine, 8-03-1998: 13). Die tema van hul konsert was natuurlik Popmart, ‘n verwysing na die kommersialisme van die moderne popkultuur waarin alles te koop aangebied word en popsterre soos hulle teen ‘n prys aanbid kan word. In ‘n lied wat hulle dié aand nie sou doen nie, Wake up dead man, word die geldmakers en veral sommige kerke in hierdie wêreld geblameer vir hierdie toestand.  Die lirieke bely, beskuldig en bid so: “Jesus never let me down you know/ Jesus used to show me the score/ then they put Jesus in show business/ now it's hard to get in the door/ Jesus, Jesus help me/ I'm alone in this world.” Die massiewe verhoog en reusagtige videoskerm met ‘n geel boog (oftewel ‘n halwe McDonalds M), tandestokkie met olyf en indrukwekkende suurlemoen wat ons as toeskouers oorskadu het, het alles gesê - hierdie is ‘n groot supermark waar alles te koop is soos in die Amerikaanse styl. Maar wat ‘n begin vir die skouspel toe Bono se eerste woorde weerklink: “Looking for to save my soul/ looking in the places where no flowers grow/ looking for to fill that GOD shaped hole”. Skielik het ek geweet hier kom ‘n ding vanaand. Laat dié wat ore het om te hoor, luister deur die ritme en klanke na die soeke van hierdie ‘helde’.

Hul huldeblyk aan die menseregte leier Martin Luther King jr., Pride (in the name of love),
het goed gepas op Suid-Afrika se nasionale Menseregtedag. In dié lied word verwys na verraad wat teen mense gepleeg word in die naam van sogenaamde liefde. Onder andere word verwys na Jesus Christus as “One man betrayed with a kiss”. 

Hul kontroversiële lied Sunday bloody Sunday is reeds in 1983 as ‘n kreet vir vrede in Ierland geskryf. Selfs op ‘n Sondag dwing haat mense om mekaar met geweld en haat te vernietig, maar juis op ‘n bloedige Sondag het Jesus die finale oorwinning behaal. Hierdie proteslied vir vrede is pragtig aangevul met ‘n nuwe lied getiteld Please waarin Christene in hierdie konflik geteisterde wêrelddeel gevra word om op te hou met eensydige gebede vir ‘n spesifieke kant en opgeroep word tot daadwerklik vredespogings. Harde woorde teenoor Brittanje val wanneer Bono sing “So you never knew that the heaven you keep you stole”,
maar in Sunday bloody Sunday verwerp hulle die opsie van geweld met die verklaring “I won’t heed the battle call...”. 

Die hoogtepunt van die vertoning was die simboliese dans van Bono met ‘n lid van die gehoor. Hierdie handeling het reeds ‘n ritueel geword by alle U2 konserte as simbool van die eenheid tussen die groep en die gehoor. Dit kommunikeer o.a. ook die belangrikheid van die gehoor vir U2 en hul begeerte om die afstand tussen hulle en die gehoor af te breek. In hierdie ‘uitreik’ na die gehoor het Bono die skare in vier  van die landstale gegroet en Johannesburg begroet as Egoli. Na die dans met die jonge dame uit die gehoor het Bono een van hul treffers uit die tagtigerjare, With or without you, vir haar gesing. Sy het ‘n rooi stert en rooi horinkies op haar kop gedra wat Bono tydens hierdie lied afgehaal het. Toe sy hom die horinkies aanbied om op sy kop te sit, het hy dit simbolies afgewys. Hierdie handeling het uitstekend gepas by die boodskap van die lied wat vertel van die konflik tussen man en vrou as gevolg van die donker of eie-ek in elke mens. Die horings was simbool van die oorsaak van hierdie konflik. Bono se afwysing van die horings was ook ‘n wonderlike uitnodiging aan die jong meisie om haar ‘donkerte’ te bêre.

U2 het hul kragtigste vuishou gebêre vir die laaste paar liedere van die vertoning. Hold me, thrill me, kiss me, kill me vertel die tragiese verhaal van jong mense wat aanbid word as supersterre in die wêreld, maar wat juis deur hierdie aanbidding om die lewe gebring word. Deur die hele lied is op die videoskerm die gesigte van o.a. Kurt Cobain van Nirvana (selfmoord), Michael Hutchence van INXS (selfmoord), Jimmy Hendrix (dwelms), Janis Joplin (dwelms) en Marilyn Monroe (selfmoord, hoewel onseker) vertoon. Die lirieke is ‘n skerp aanklag teen mense wat hul helde vereer en aanbid en uiteindelik daardeur ‘vermoor’: “they want you to be Jesus/they’ll go down on one knee/but they’ll want their money back/ if you’re alive at thirty-three”. Hierdie supersterre voel dikwels vasgevang in die ‘tronk’ van heldeverering waarin hul aanhangers hul toesluit. “You don’t know how you got here/ you just know you want out” sing hulle oor hierdie dilemma. Bono spot met mense wat so laag daal deurdat hulle moderne keiserverering beoefen, as hy sy agterstewe draai na die gehoor wanneer hy die woorde ‘kiss me’ sing. So laag daal mense dat hulle gewone sterflinge aanbid as gode. Die keuse word aan die gehoor oorgelaat. Gaan julle hierdie groep ook aanbid totdat julle ook hulle bloed sal eis?

Die aand is afgesluit met U2 se toonsetting van Psalm 40 wat gekomponeer is in 1983. Die lied kontrasteer met Staring at the sun se pleitende reël wat sê “God is good but will He listen?”  Saam met Dawid sluit hulle egter wel die aand af met hierdie lirieke: “I waited patiently on the Lord/ I cried for Him to hear my cry/ He set me up, my feet upon a rock/ and I will sing a new song/ how long must we sing this song?/ He lift me up out of the pits/ He made my footsteps firm/ many will see, many will see and hear/ ‘cause I will sing, sing a new song/ how long to sing this song.....”. Die koorgedeelte van hierdie lirieke vanuit die Bybel is vir etlike minute na die groep reeds die verhoog verlaat het, steeds deur die gehoor gesing.

Die konsert was verby, die stadion bestrooi met blikkies en gemors. Ja alles kom tot niks.  Is U2 ware Christene? Dis ‘n saak tussen hulle en God. Hul verwysing na die worsteling tussen Jakob en die engel in Bullet the blue sky, bevestig vir my hul voortdurende worsteling met vrae rondom God en geloof.  Hierdie stryd is om te onderskei tussen die leuens van die wêreld en die waarheid van God.  “Looking for baby Jesus under the trash” sing hulle met verwysing na die waarheid wat dikwels verberg word deur die gemors en leuens van hierdie wêreld.  Het U2  ‘n boodskap vir die kerk en die wêreld wat ook Bybelse beginsels inkorporeer? Ongetwyfeld ja! Maar wat kan ons as Christene gee aan hierdie helde van baie? Méér as die R170 vir die kaartjie? Méér as die geld vir hul gewilde cd’s? Méér as maar net luister na hul soeke en vrae? Ja! As Christene wat dié antwoord, Jesus Christus gevind het, is daar vir ons die uitdaging: ons helde kort ons voorbidding, nie aanbidding. U2 - ek en baie ander Christene bid vir julle en ook vir hulle wat nog afgode maak van julle ten spyte van julle boodskap. Voorbidding?  Ja!  Waardering vir ‘n Godgegewe talent?  Ja! Maar aanbidding?  Nét vir die lewende God wat ons voete soos dié van Dawid op ‘n stewige rots sit.