In 1994 voltooi ek my BD-studies aan die Universiteit van Pretoria. My finalejaar skripsie is in die Missiologie departement by Prof Piet Meiring met die tema: Rockmusiek en christelike getuienis. 'n Jaar of wat later publiseer Christo Lombaard 'n boek getiteld: "...in die wêreld..." Vyf bydraes tot kontekstuele prediking met preeksketse. Hier is die hoofstuk wat ek geskryf het vir dié boek:
KONTEKSTUELE
PREDIKING MET BEHULP VAN ROCKMUSIEK
Francois
Mulder
1. Inleiding
Op 4 Maart 1966 maak
John Lennon van The Beatles sy
berugte stelling: “We’re more popular than Jesus Christ now. I don’t know which will go first - Rock and
Roll or Christianity” (Sullivan 1987:313).
Drie en dertig jaar later, aan die einde van die twintigste eeu, is
beide Rock-musiek en die
Christendom steeds beduidende rolspelers in die wêreld. Uitsprake soos dié van Lennon het die
afgelope paar dekades bygedra tot ‘n gevoel dat Rock-musiek en die Christendom
feitlik direk teenoor mekaar staan. So
byvoorbeeld beweer Lang (1990:1) dat daar algemeen aanvaar word dat die meeste
Rock-musiek anargie, rebellie en nie-konformerende wêreldbeelde propageer. In aansluiting by Lennon het Miles (in Turner
1988:168) die volgende te sê oor Rock-musiek: “To me, rock ‘n’ roll is the
music of rebellion and sexual liberation ... it’s music which cuts through
hypocrisy and guilt, music which attacks patriarchy and authoritarianism, and
as such constitutes a direct attack on what I think of as traditional Christian
values”.
By die aanhoor van
hierdie stelling sal die titel van hierdie hoofstuk seker vreemd klink op die
ore van menige gelowige. Soos oor Nasaret gevra is, sal met reg gevra kan word
of daar enigiets goeds kan kom uit die wêreld van moderne- of Rockmusiek. Soos
wat daar wél iets goeds uit Nasaret gekom het, is daar ook hoop vir die wêreld
van musiek. In die woorde van die Kanadese Rocksanger Bruce Cockburn:
“Seen a
lot of things in the world outside/ Some bad but some good
stuff too/felt the touch of love in the works of God/and now and then in what
people do/never had a lot of faith in human beings/but sometimes we manage to
shine/like a light on a hill beaming out to space/from somewhere hard to
find...” (Great big love,1991).
Soos Michelangelo se muurskildery waar God en
Adam se vingers net-net nie raak nie, is die moderne mens steeds smagtend na
die oomblik wanneer daardie twee vingers mekaar raak. In sommige Rockmusiek kan die mens se soeke
na die neonboog se punt waarvan Koos du Plessis sing,
steeds gehoor word. Alle kultuuruitinge het
die moontlikheid om hierdie ware menslike emosie uit te beeld en die gehoor
sodoende aan te raak deurdat identifikasie plaasvind. Oor die kunsvorm van
films skryf Ken Gire: “Movies take the common crystal of human experience, cut
it, polish it, and hold it up to the light of a 35 mm projector...For all the
negatives that can be said about the movies, what can be said that is positive
of almost all movies is that they reflect, at a very fundamental level, the
longings of the soul: the longing that good triumph over evil, that the truth
wins out...that in the end there is a happy ending, which is none other than a
dim reflection, I think, of our longing for heaven” (1996:119-20). Soms vir ‘n oomblik wil dit klink asof die
vinger van God wel dié van sommige kunstenaars aanraak om as profete op te tree
deur verskillende kunsvorme as mediums in ‘n wêreld van
“...swerwers sonder
rigting;
van soekers wat nooit vind...
...kinders
van die wind” (Koos du Plessis:1981,3).
In daardie wonderlike
oomblikke wanneer ons die boodskap van God hoor op ‘n verrassend nuwe manier,
kom die profetiese woorde van Dietrich Bonnhoeffer (tereggestel in Duitsland
net voor die einde van die tweede wêreldoorlog) op ons af vanuit sy Letters and papers from prison: “It is
not for us to foretell the day, but the day will come when people will be
called to utter the word of God in such a way that the world is changed and
renewed. There will be a new language, perhaps, quite unreligious, but
liberating and saving, like the language of Jesus, so that people are horrified
at it and yet conquered by its power” (1981:102).
2. Bybelse fundering vir kontekstuele
prediking
Lank reeds word aan
predikante gesê om te preek met die Bybel in die een hand en die koerant in die
ander. Die waarheid van die Woord en die
leefwêreld van die hoorder moet bymekaar uitkom. In die konteks van hierdie
boek sou ons kon sê dat gepreek moet word met die Bybel in die een hand en met
die digbundel, video-kasset, beeld, skildery, koerant of musiek cd in die
ander. Jasper bevestig hierdie
toepassing as hy sê: “The Christian message has always been expressed against a
particular cultural background” (1984:1). Die kultuur van ons dag vra besondere
eise van die prediker. Waar sal mense nog vrywillig kom stilsit om vir ‘n uur
te kom luister na ‘n onverstaanbare toespraak deur ‘n man in ‘n donker pak? Dr.
Howard Hendriks skryf in dié verband: “Whatever you do, don’t bore people with
the Word of God” (1988:7). Die wêreld waarin ons leef dwing die prediker om
aanpassings te maak sodat die boodskap verstaanbaar by die hoorders uitkom.
Beuchner skryf byvoorbeeld die volgende aan die moderne prediker: “Let the
preacher stretch our imagination and strain our credulity and make our jaws
drop because the sad joke of it is that if he does not, then of all people he
is almost the only one left who does not” (1977:97).
Kontekstuele prediking
moet egter altyd as basis die Woord van God hê. Wat leer ons uit die preke of
briewe van iemand soos Paulus oor hierdie saak? Eerstens verklaar Paulus in
Filippense 4:8 dat ons as gelowiges ons gedagtes moet rig op alles wat waar,
edel, reg, mooi en prysenswaardig is.
Vir sommige mense is geen van dié sake te vinde in Rockmusiek nie. Andere sou wou beweer dat dié sake net te
vinde is in die Woord. Interessant
genoeg vind Paulus op ‘n paar plekke in sy briewe hierdie sake vanuit
buite-Bybelse bronne. So byvoorbeeld is
daar in Judas verse 14 en 15 ‘n aanhaling uit die buite-bybelse boek
Henog. In 1 Kor.15:33 haal Paulus
die Griekse digter Menander se woorde
aan: “Slegte geselskap bederf goeie sedes”.
Paulus sou sekerlik dieselfde saak uit Spreuke kon aanhaal, maar dit
blyk vir hom belangrik te wees om ‘n bekende kunstenaar se woorde aan te
haal. Paulus is nie bang om iets wat
waar is aan te haal uit die mond van ‘n nie-christen nie. In Titus 1:10-13 haal Paulus die woorde van
Epimenides van Kreta aan. Hy verwys na
hom as die Kretensers se eie profeet wat in die 6de eeu v.C. ‘geprofeteer’ het
dat die Kretensers “...altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate” is. Weereens sou Paulus vanuit die Ou Testament
‘n geskikte aanhaling kon vind om die sondigheid van die Kretensers te
verwoord, maar uit hul eie geskiedenis vind hy die waar woorde van ‘n
‘profeet’.
Sou dit kon wees dat
daar ook profete en digters in die wêreld van Rockmusiek is waarna geluister
moet word en wie se woorde en musiek deur ‘n 20ste eeuse Paulus aangehaal sou
kon word om ‘n spesifieke boodskap effektief oor te dra? As ons kyk na die voorbeelde hierbo dan moet
die antwoord “ja” wees. In dié verband
verklaar Gaebelein tereg: “Everything true belongs to God. There is truth in
the arts as there is truth in science, history or mathematics” (1986:31). In
soverre sekere gedeeltes van Rock musiek lirieke ooreenstem met Bybelse
waarhede soos skepping, sonde, verlossing, wederkoms en oordeel kan dit uiters
effektief gebruik word in die tradisie van Paulus om dié waarhede te belig uit
die mond van kontemporêre ‘profete’. Die uitdaging van prediking in hierdie
postmoderne wêreld word goed opgesom deur Mouw: “Our concern to communicate the
gospel in culturally sensitive ways must be guided by two commitments: the
first is to communicative effectiveness, and the second to communicate biblical
truth” (1991:31). Beide hierdie sake moet ernstig opgeneem word deur die
prediker.
‘n Goeie voorbeeld van
‘n Bybelse waarheid in die ‘wolfsklere’ van ‘n Rocklied vind ons in ‘n lied van
die bekende Ierse Rockgroep U2. Die afsluiting van hul wêreldwye “POPMART”
toer in Johannesburg (21-03-98) begin met dié woorde: “lookin' for to save my
soul / lookin' in the places where no flowers grow / lookin' for to fill that GOD
shaped hole” (Pop,1997). Hul verwysing na die “God shaped hole” is
natuurlik ‘n teruggryp na die bekende woorde van Augustinus. Dit korreleer ook met ‘n gedeelte soos Psalm 42:2-3
waarin die digter “dors” en “smag” na God. Hierdie dors is die gevolg van ‘n
besef dat ons menswees inderdaad leeg is sonder die inwoning van God se
Gees. In sy toespraak in die Areopagus
in Atene is een van Paulus se argumente aangaande die mens die volgende: “God
het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind”
- Handelinge 17:27. In dieselfde
toespraak verwys Paulus na “sommige van julle digters” as hy die Griekse digter
Aratus (315-240 v.C.) aanhaal. Hierdie
kragtige toespraak van Paulus IN die wêreld van die Grieke loop uit op die
bekering van ‘n paar ontvanklike hoorders - Handelinge 17:34.
Sommige mense sou steeds
‘n probleem hê om te luister na die waar woorde en musiek van nie-Christen
Rockkunstenaars. In dié verband is
Matteus 23 se eerste perikoop baie behulpsaam.
Hier verklaar Jesus die volgende aangaande die skrifgeleerdes en
Fariseërs: “Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê (in
soverre dit ooreenstem met die waarheid van God), maar hulle voorbeeld moet
julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie.” Die beginsel is dat die waarheid van God ook
deur ‘onrein’ en ‘huigelaar’ - lippe kan vloei.
Die opdrag van Paulus is om die waarheid te oordink. God se waarheid kan ons egter enige tyd,
enige plek en deur enige persoon of medium konfronteer indien ons ore het om te
hoor. Soms sal sy waarheid kom uit die
mond van ‘n heilige profeet soos Natan aan Dawid. Vandag nog kom God se waarheid na ons uit die
mond van ‘n moordenaar en egbreker wat om vergifnis pleit in Psalm 51. Soms weer gebruik God ‘n donkie om sy
boodskap oor te dra. In Genesis 20 lees ons van die heiden Koning Abimelek wat
God se boodskap aan Abraham oordra as hy Abraham se oneerlikheid ten opsigte
van sy vrou tipeer as “onbehoorlik”.
Teen die einde van die
twintigste eeu is God se stem nie stil nie.
Vir dié wat nog luister is daar soveel verrassings. Selfs uit die mond, pen en vingers van
Rockkunstenaars kan woorde en musiek kom wat Bybelse waarhede bevestig, toelig
en laat grondvat in die hier en nou van ons daaglikse bestaan. Soos Paulus mag die prediker van die laat
twintigste eeu nie die woorde en musiek van die profete miskyk nie. “The words
of the prophets are written on the subway walls and tenement halls...” herinner Simon
& Garfunkel reeds sedert 1966. Is Paulus se voorbeeld vir ons
genoegsame motivering om met die soektog te begin na dié musiek en
kultuuruitinge wat ‘roep’ om deel te wees van relevante en verstaanbare
prediking? Sommige predikers sal steeds daarop aandring dat die Bybel homself
verklaar, en sodoende hul taak tot kontekstualisering ontduik. Die
verantwoordelikheid wat God op die prediker plaas dwing egter die moeiliker pad
van ontdekking in die kultuur van die hoorders. John Fischer verstaan dit so:
“I used to think it was only necessary to speak the truth and let it go at
that. If people misinterpreted it, that was not my problem. But I think
differently now. The role of the prophet is to stand before truth and cause it
to shine in relation to current situations. Part of that illumination process
is to reinterpret what has been misinterpreted. The old Testament prophets and
Jesus all did this” (1988:36).
3. Rockmusiek in diens van prediking
Heyns praat van die
“...eietydse idioom waarin die kerk sy boodskap moet giet” (1978:371).
Rockmusiek is so ‘n eietydse idioom wat as ‘n eie ‘taal’ deur miljoene mense
‘gelees’ en ‘verstaan’ word. Heyns herinner verder: “Om die grootste moontlike
begrip by die hoorder te skep - al is dit ten diepste natuurlik die werk van
die Gees - sal die godsdienstige waarhede in begrippe en woorde uitgedruk moet
word wat ontleen is aan die diep menslike lewensrealiteite van ons tyd”
(1978:371). In elke kerk in Suid-Afrika sal daar persone wees wat Rockmusiek
beskou as deel van hulle menswees. Vanuit die sendingwetenskap herinner Schrag
die prediker as volg: “Music is an important key to understanding a culture,
not an expendable entity that can be excised and replaced without damaging the
rest of society, or its church” (1989:315). ‘n Noukeurige ondersoek na die
musieksmake van die gehoor van die prediker, sal hom of haar sterk met insig
aangaande die waardes, opinies, wêreldbeeld en menswees van die hoorder. Op
grond van hierdie ondersoek sal die prediker instaat wees om die boodskap
makliker, meer akkuraat en sensitief te kommunikeer. Effektiewe kommunikasie
van die evangelie aan ‘n gehoor met uiteenlopende ouderdomme, musieksmake en
verwagtinge kan uiters moeilik wees. Weereens vanuit die sendingwetenskap stel
Kraft die kommunikasie-probleem as volg: “For if persons speak no common
language and have no culturally defined common agreements concerning the noises
and gestures they use, their ability to communicative interaction will be
virtually nil. An unabridged barrier to communicative interaction exists
between...Such is often the case when Christians attempt to witness to
non-Christians by using such ‘Christian jargon’ as ‘church’, ‘be saved’, ‘sin’,
‘accept Christ’, etc.” (1980:151). Kommunikasie - mure bestaan dikwels tussen
verskillende generasies wat nie mekaar se musiek en leefwêrelde verstaan nie.
Bewus van hierdie feite, wend predikers hulle dikwels tot die
‘haelgeweer-taktiek’, waar almal bereik wil word, maar uiteindelik niemand
‘getref’ word nie in die afwesigheid van ‘n skerpskutter. Juis daarom is
alternatiewe of addisionele dienste of geleenthede vir Hoërskool-, Laerskool-
en Voorskoolse kinders so noodsaaklik. Tydens sulke dienste kan die prediker
preek met behulp van die musiek van elke bepaalde groep. Wanneer Schrag vanuit
die sendingwetenskap uitroep: “Please spare them Western music” (1989:311), is
dit sy waarskuwing aan sendelinge teen kulturele imperialisme. Hierdie
waarskuwing geld ook in ‘n land soos Suid-Afrika waar mense selfs van dieselfde
kultuur en kerkverband radikaal verskil
in terme van voorkeure ten opsigte van musiek en liturgie. Daarom moet die
prediker die hoorder se menswees, unieke kultuur en musiek ken. So ‘n
benadering in die prediking behandel die hoorder met respek en sien die gehoor
nie net as blote objekte nie.
‘n Saak kan altyd vanuit
verskillende hoeke of kante benader word. So byvoorbeeld kan in terme van
Rockmusiek net op die negatiewe elemente binne hierdie medium gekonsentreer
word. In dié proses word kosbare diamante egter misgekyk. Bono van U2 merk op: “...rock ‘n’ roll has its
feet down in the mud and its head up in the clouds” (Turner,1988:7). Soms moet
ook die prediker opkyk om die positiewe geleenthede in ‘n genre soos Rockmusiek
raak te sien. “I think art can be a light at the end of the tunnel, not just a
mirror held up to society” (Turner,1986:167) spekuleer Dave Evans van U2. Heelwat skrywers verwys ook na die
kunste as ‘n spieël op menslike belewenisse.
Rockmusiek is deel van
populêre kultuur wat in een van die invloedrykste magte die afgelope vyftig
jaar ontwikkel het. Reeds in 1986 praat Peters van Rockmusiek as ‘n
“...powerful medium, affecting every segment of society” (1986:50) asook ‘n
“...powerful persuader...which fuels a 4.3-billion-dollar-a-year industry...”
(1986:50).
Vir die ware verstaan,
waardering en gebruik van sommige Rockmusiek is ‘n nuwe bril nodig. Hierdie bril moet ons help om Bybelse
waarhede raak te sien en te hoor in hierdie genre. Met watter bril kyk jy na
die lewe? Oor die Kanadese sanger Bruce Cockburn (uitgespreek Co-burn) skryf
Mark Gornik die volgende: “The glasses through which he peers at the world are
not tinted by pessimism but rather are shaded by a vision of the Kingdom,
enabling him to view and narrate what is going on with vivid poetics of hope,
wonder, and joy undergirded by a rhythm of justice for the oppressed.” (Gornik
1987:41). Gornik konkludeer dat Cockburn
se bril gekleur is met ‘n basiese Bybelse wêreldbeeld. Die bril waarmee Steve Turner kyk na
Rockmusiek is ewe verrassend. In sy boek
Hungry for Heaven: Rock ‘n’ Roll &
the search for Redemption praat hy
so oor Rockmusiek: “I’ve always seen
something else in rock ‘n’ roll. I’ve seen an uncomfortableness with this
world, a vision of something transcendent, towards which we should be aiming.”
(Turner:1988,9). Hy sien in Rockmusiek,
soos die titel van sy boek ook aandui, die soeke na die ware God. Hierdie
soektog bring baie kunstenaars op die syspoor van dwelmmisbruik en velerlei
destruktiewe praktyke. Turner skryf egter hieroor soos volg: “The fact that
narcotics and sexual exploration have often been settled upon as a means of
gaining this transcendence shouldn’t cloud the nature of the impulse.
Permissiveness and drugs are not essential to the spirit of rock ‘n’ roll as,
in recent years, artists like Bruce Springsteen and U2 have illustrated. My belief anyway is that the orgasm and the
heroin rush probably contain intimations of heavenly glory. They both
temporarily put us into a state where nothing seems to matter, where the
individual ego is swallowed up into something greater... I see the hunger for
heaven, the conviction that we are made for a more transcendent world, as being
essential to the spirit of rock ‘n’ roll. Not drugs. Not sex” (Turner:1988,9).
Die bril wat ek wil
voorhou as ‘n sleutel om die genre van Rockmusiek oop te sluit vir die
prediking, is ‘n vierledige Bybelse wêreldbeeld. Met hierdie manier van kyk na
die hele werklikheid, kan alle verskynsels in hierdie lewe soos onder andere
Rockmusiek, ingepas word by een van die vier kategorieë. Waarom dié moeite
doen? Omdat kontekstuele prediking van ons vra om die konteks waarin die
hoorder leef te interpreteer en dan te korrigeer op grond van die Bybel en by
name ‘n Bybelse wêreldbeeld. Die vierledige Bybelse wêreldbeeld ontvou as volg:
God het hierdie wêreld
goed geskep, maar ons as mense het teen God gekies en kies vandag nog saam met
Adam en Eva teen God. Hierdie aksie van elke mens noem ons die val. God het
egter ‘n perfekte plan gemaak. In Jesus Christus het Hy die wêreld met Homself
versoen, omdat elkeen wat Christus aanneem, vergewe word en as nuwe mense en
nou weer vriende van God mag leef. In hierdie lewe leef ons gevolglik uit
dankbaarheid tot eer van God en sien uit na die dag wanneer Hy terugkeer en
daar heerlikheid asook veroordeling wag
op die nasies van die wêreld. Kortweg gestel kan ons dus praat van “Skepping,
val, verlossing en wederkoms”.
3.1 Rockmusiek wat konsentreer op God as
Skepper en die skepping
God is die Skepper wat
die mens die gawe van lewe en kreatiwiteit gee. Hierdie moontlikheid tot
kreatiewe kultuuruitinge vorm deel uit van die kultuuropdrag aan die mens.
Musiek as ‘n unieke kultuuruiting in alle kulture het die wonderlike vermoeë om
te kalmeer, te inspireer, te leer en selfs te irriteer. In die beoefening van
hul kreatiewe Godgegewe musiekgawe, eer musikante en musiekskrywers die Gewer
van hierdie gawe. Sommige kunstenaars eer God wel onwetend, omdat hulle Hom nog
nie as die Kunstenaar van die heelal ontdek het nie. Dink maar aan soveel
klassieke musiek gekomponeer deur beroemde nie-Christen komponiste, wat ons tot
lofprysing van God kan dwing ondanks die geloof of ongeloof van die komponis.
Dit was my belewenis toe ek onlangs een van die bekendste Natuurpsalms, Psalm
104 aan my gemeente voorgehou het. Om te illustreer dat hierdie psalm steeds
‘leef’, het ek die teks gelees met as agtergrondmusiek die harpklanke van die
nie-Christen komponis Andreas Vollenweider. Hierdie moderne mengsel van harp en
natuurgeluide het gehelp om die teks van Psalm 104 tot sy reg te laat kom. Die
reaksie was oorweldigend. By ‘n latere geleentheid is Psalm 107 met sy woestyn,
siekte, duisternis, boeie, oopgebreekte koperdeure, hemelhoë golwe en radelose
matrose ‘versterk’ deur die klankbaan van die film Dances with wolves. Watter Psalm of teksgedeelte verdien die
bekoring van die instrumentale klankbaan van Titanic om haar eeu-oue woorde weer opnuut oop te breek vir ‘n
generasie wat soos Petrus sink in die see van ongeloof?
‘n Lied soos Karla wat Koos du Plessis vir sy dogter
geskryf het is ‘n pragtige voorbeeld van musiek en liriek wat die wonder van ‘n
nuwe lewe besing. Hy sing o.a. “Daar is ‘n meisie, soos ‘n fee...soos ‘n
tinktinkie so fyn is sy, maar om haar pinkie draai sy my...(1981:53). Op 14
Desember 1975 skryf Bruce Cockburn ‘n lied getiteld Little seahorse met die volgende onderskrif : “To Jenny at eight
weeks of foetal life.” Saam met kinderlike akoestiese kitaar- en fluitklanke
sing hy “...I already love you and I don’t even know who you are” (1976). Die eertse snit op hierdie CD
besing God as Skepper en “Lord of the starfields/Ancient of days/Universe
maker...sower of life...Voice of the nova/Smile of the dew...” (1976). Heelwat
‘diamante’ wat God se skeppingswerk wetend of onwetend besing lê en wag vir die
prediker wat die tyd neem om versigtig en doelgerig te ‘myn’ in die genre van
Rockmusiek. So ‘n diamant is die Rockgroep Prophet
se Skeppingspsalm getiteld Statistiek:
“Genade is U
statistiek/modern is U asook antiek/mees onbeperkte Visionêr/gevrees is U, ook
populêr/die wetenskap se grootste brein/U logika maak myne klein/en hier is my
lojaliteit/U Skepper, ek geskapenheid/my agting hier voor U gesag/bewondering
en groot ontsag/U norms is nooit relatief/gerus is U asook aktief/geskiedenis
se hoofmoment/die sin van feit en sentiment/esteties het U my respek/pateties
voor u intellek”
3.2 Rockmusiek wat konsentreer op die
gevallenheid van die mens
Heelwat moderne
Rockmusiek handel oor die sonde van die mens deur die eeue. So-ook leef heelwat
kunstenaars as die Adam’s en Eva’s van die moderne samelewing in
ongehoorsaamheid aan God. Prophet
beskuldig die mens van “Paradysplagiaat”
deurdat die verhaal van die paradys elke dag weer en weer in mense se lewens
afspeel (1995). Peter Gabriel sing oor die tragiese paradysgebeure in sy lied Blood of Eden (1992). Die rockgroep Eleison
sing in 1994 die volgende: “Ons haat mekaar/ hierdie mensgeslag/van oorlog
en veldslag en bom/ons haat mekaar/volke, man en vrou/dis Babel in sy Paradys”
(1994). Die pyn en vloek van die sondeval is duidelik hoorbaar in Koos du
Plessis se lied Spore op die maan:
“...daar is geen nuwe oord om heen te gaan...rommelberge groei omheen/en daar’s
swaelsuur in die reën...ontvlug is onbegonne/selfs droom is onbesonne/want die
wêreld is oorwonne...elke hektaar is verkoop/elke opstal lê gesloop/en die
wêreld wag verwese/in die waan dat ‘n wonder sal gebeur/om sy rusperleërs te
keer/maar, kyk, daar lê reeds spore op die maan” (1981). Sonder verlossing en nuwe lewe is die
Afrikaner in die woorde van Koos Kombuis inderdaad so aan die woord: “Ek’s boer
in beton/soos oom Paul op ou kerkplein/niemand weet van my pyn/want ek is goed
vermom/ek’s ‘n boer in beton”
(1990). Hoe ironies dat soveel kunstenaars, gebrand deur die vloek van die sondeval,
self in hul musiek en liriek erken hulle is “...soekers wat nooit vind...”
(Koos du Plessis:1981). Hierdie verwarde wêreld se toestand word meesterlik
beskryf in Rockliedere soos Beds are
burning (Midnight Oil:1993) en Land of confusion (Genesis:1986). Pink Floyd
se wêreldberoemde CD The Wall(1985)
is ‘n uitstekende uitbeelding in woord en klank van die mens se verwarring en
angs as gevolg van sondemure wat saam ‘n tronk van pyn rondom ons vorm. Sommige
lirieke van Rockmusiek propageer openlik ‘n lewenswyse ongehoorsaam aan die pad
van God. Hierdie ‘openlike’ sondaars mag egter nooit veroorsaak dat ons die
totale medium van Rockmusiek afskryf nie. Soos wat die evangelie en die mooi
van die lewe soms via ander mediums soos TV, film en die gedrukte media kan
fugireer, sonder dat ons die mediums kruisig, behoort ons musiek ook te sien as
‘n medium wat ten goede of ten slegte beoefen en gebruik kan word.
3.3 Rockmusiek wat konsentreer op die verlossing in Jesus
Christus
Die wêreld smag na ware
vrede en verlossing. Hierdie noodkreet
word dikwels in die musiek van die Rockkunstenaars gehoor en verwoord. Wanneer Queen ‘n lied sing met die titel I want to break free, dan sien en hoor
die prediker met ‘n Bybelse ‘bril’ aan ‘n kreet om verlos te word van die boeie
van sonde. Jackson Browne sing soos U2 en andere oor die honger na
verlossing in sy lied Looking East:
“...hunger in the midnight/hunger at the stroke of noon/hunger in the
mansion/hunger in the rented room/hunger on the TV/hunger on the printed
page/and there’s a God sized hunger underneath the laughing and the rage/in the
absence of light...” (1996).
In antwoord op die mensdom se soeke na verlossing sing Prophet oor die Houtkruis
(1995) waaraan Jesus Christus vasgespyker is vir ‘n verlore wêreld. Die
dromslae aan die einde van hierdie kragtige lied bring die hamerslae van
Golgota ongelooflik naby. Hoeveel lewens is al aangeraak deur ‘n mimiek van die
kruisgebeure saam met hierdie lied?
Sommige Rockliedere
spoor die mens aan om verder te soek as die gewone en dikwels destruktiewe
ontvlugtings waarin sovele hul redding soek. Louis Brittz sing ‘n lied na
aanleiding van die lewe van die digter Eugene Marais getiteld Vir Eugene, waarin hy die digter wat
selfmoord gepleeg het aanpor om verder te soek as net die mier as skepsel, maar
om by die Skepper uit te kom. God se perspektief op die geweld in Suid-Afrika
word deur Eleison besing in hul lied Sy hart brand: “Sy hart brand vir die
land om na Hom terug te keer/kan ‘n mens vrede ken sonder Hom in beheer/Sy hart
brand vir die kerk om na Hom terug te keer/kan ‘n mens vrede ken sonder die
Prins, van vrede wat regeer” (1994). Uiteindelik is die humanistiese soeke na
vrede in onsself en in ons medemens ‘n doodloopstraat. Gelukkig is daar Rockkunstenaars
wat in hul soeke na sin en betekenis die ware verlossing ontdek het in Jesus
Christus. Dis hulle wat ons aanspoor om gewapen met die evangelie die armes te
voed, die siekes en weduwees te versorg, die tronkvoëls te besoek en die
profetiese stem vir reg en geregtigheid te laat hoor in ‘n wêreld van pyn,
onreg en haat.
3.4 Rockmusiek wat konsentreer op ons toekomsverwagting en
die wederkoms
Na sy bekering in 1974
sing Bob Dylan oor ‘n dag van afrekening wat oppad is soos ‘n stadige trein in
sy lied Slow train coming (1974). Eleison sing oor die dag wanneer die
Regter van die hart sal terugkeer in hul lied Simbona: “...en die eeue word oud en die osoonlaag vol gate/harte
word koud, bose ballade van dekades/die tyd is swanger met die ewigheid/Simbona
(ons sien Hom)/die Regter van die hart...” (1994). Die bewuswees dat hierdie
lewe sal eindig, kom sterk deur in wyle Koos du Plessis se lied Skadu’s teen die muur: “...in swart of
wit getooi/in ‘n stoet of ‘n konvooi/wonder elkeen hoe lank alles nog sal
duur/en leef holderstebolder/want die kis wag op die solder...en die lewe is ‘n
skadu teen die muur...” (1981). In sy lied As
Hy weer kom sing
Louis Brittz van ‘n dag “...as die wolke
kromtrek van gewig/en die Koning kom vir oulaas terug/om ‘n ring te bring/vir
sy bruid te sing/dis as Hy weer kom...” (1994). Die musiek van soveel
nie-Christene is die draers van die wens en gebed om ‘n beter wêreld. Die
Christen dors ook na ‘n beter wêreld wat sal aanbreek vir kinders van God, as
Hy weer kom...
4. ‘n Artikel oor die Rockgroep U2 vanuit ‘n Bybelse perspektief
U2 KORT ONS VOORBIDDING, NIE AANBIDDING
Op hierdie derde
Saterdag van Maart was dit die Ierse Rockgroep U2 wat 67 000 mense laat saampak het in die Johannesburgse stadion.
Was ek die enigste predikant, enigste Christen tussen die massas gesigte? Heel
moontlik die enigste predikant uit die platteland, want om my het die walms van
nikotien, bier en selfs ‘n verdwaalde daggarokie gehang.
“Waarom is ons
hier...hoe’t ons hier gekom...waar’s ons...hoe’t julle hier gekom” sou die
hoofsanger van die groep, Bono (Paul Hewson) later die aand vra. Hoe beland ‘n
dominee by die grootste Rockvertoning wat Suid-Afrika nog gesien het? Wel, dis
‘n lang storie waarin my jongste broer ‘n groot aandeel het. In ons jong dae op skool was ek die getroue U2 ondersteuner. Veral in my matriekjaar
in 1987, toe U2 die
wêreldmusiekbedryf oorrompel het met hul album The Joshua tree, het hulle my ook as voornemende tokkelok ingetrek
met diepsinnige lirieke en ‘n unieke en eiesoortige klank. In I still haven’t found what i’m looking for het
hulle geloof bely soos volg: “I believe in the Kingdom come/ then all the
colours will bleed into one... You broke the bonds and You loosed the chains/
carried the cross and all my shame/ You know I believe that/ but I still
haven’t found what i’m looking for”. Toe
ek later moed opgegee het met hierdie Iere in hul eindelose soektog na God wat
volgens my nie in die regte rigting verloop het nie, het my broer nie moed
verloor nie. Hulle musiek was die klankbaan vir sy lewe.
Toe begin die kulturele
isolasie van Suid-Afrika verbrokkel in die nuwe bedeling en tweede rangse en
vergete musikante en rockgroepe oorstroom ‘n uitgehongerde musiekpubliek. Reeds
toe het ons onsself beloof - daar’s net een konsert vir ons en dis U2. Gevolglik was die kaartjies reeds in
Oktober verlede jaar gekoop en het ons saam die dae afgetel.
Half tien die aand het
die ‘diens’ begin. Vir heelwat mense is hierdie tipe skouspel kerk, met hul
helde die gode wat aanbid word. Dié ‘kerkgangers’ was egter in vir ‘n
verrassing, indien hulle die boodskap of preek van die verhoog af ingeneem het.
In ‘n onderhoud met Graeme Klopper voor hul konsert het Bono so geantwoord op
die vraag of supermarkte die kerk vervang het in mense se lewens: “That’s quite
interesting because I feel supermarkets should all have chapels built onto the
side as people spend so much time there. Actually, banks were the new churches,
but now they’ve been replaced in turn by casinos - luck and chance have
replaced faith” (Sunday Times Magazine, 8-03-1998: 13). Die tema van hul
konsert was natuurlik Popmart, ‘n
verwysing na die kommersialisme van die moderne popkultuur waarin alles te koop
aangebied word en popsterre soos hulle teen ‘n prys aanbid kan word. In ‘n lied
wat hulle dié aand nie sou doen nie, Wake
up dead man, word die geldmakers en veral sommige kerke in hierdie wêreld
geblameer vir hierdie toestand. Die
lirieke bely, beskuldig en bid so: “Jesus never let me down you know/ Jesus
used to show me the score/ then they put Jesus in show business/ now it's hard
to get in the door/ Jesus, Jesus help me/ I'm alone in this world.” Die
massiewe verhoog en reusagtige videoskerm met ‘n geel boog (oftewel ‘n halwe
McDonalds M), tandestokkie met olyf en indrukwekkende suurlemoen wat ons as
toeskouers oorskadu het, het alles gesê - hierdie is ‘n groot supermark waar
alles te koop is soos in die Amerikaanse styl. Maar wat ‘n begin vir die
skouspel toe Bono se eerste woorde weerklink: “Looking for to save my soul/
looking in the places where no flowers grow/ looking for to fill that GOD
shaped hole”. Skielik het ek geweet hier kom ‘n ding vanaand. Laat dié wat ore
het om te hoor, luister deur die ritme en klanke na die soeke van hierdie
‘helde’.
Hul huldeblyk aan die
menseregte leier Martin Luther King jr., Pride
(in the name of love),
het goed gepas op
Suid-Afrika se nasionale Menseregtedag. In dié lied word verwys na verraad wat
teen mense gepleeg word in die naam van sogenaamde liefde. Onder andere word
verwys na Jesus Christus as “One man betrayed with a kiss”.
Hul kontroversiële lied Sunday bloody Sunday is reeds in 1983 as
‘n kreet vir vrede in Ierland geskryf. Selfs op ‘n Sondag dwing haat mense om
mekaar met geweld en haat te vernietig, maar juis op ‘n bloedige Sondag het
Jesus die finale oorwinning behaal. Hierdie proteslied vir vrede is pragtig
aangevul met ‘n nuwe lied getiteld Please
waarin Christene in hierdie konflik geteisterde wêrelddeel gevra word om op
te hou met eensydige gebede vir ‘n spesifieke kant en opgeroep word tot
daadwerklik vredespogings. Harde woorde teenoor Brittanje val wanneer Bono sing
“So you never knew that the heaven you keep you stole”,
maar in Sunday bloody Sunday verwerp hulle die
opsie van geweld met die verklaring “I won’t heed the battle call...”.
Die hoogtepunt van die
vertoning was die simboliese dans van Bono met ‘n lid van die gehoor. Hierdie
handeling het reeds ‘n ritueel geword by alle U2 konserte as simbool van die eenheid tussen die groep en die
gehoor. Dit kommunikeer o.a. ook die belangrikheid van die gehoor vir U2 en hul begeerte om die afstand tussen
hulle en die gehoor af te breek. In hierdie ‘uitreik’ na die gehoor het Bono
die skare in vier van die landstale
gegroet en Johannesburg begroet as Egoli.
Na die dans met die jonge dame uit die gehoor het Bono een van hul treffers uit
die tagtigerjare, With or without you,
vir haar gesing. Sy het ‘n rooi stert en rooi horinkies op haar kop gedra wat
Bono tydens hierdie lied afgehaal het. Toe sy hom die horinkies aanbied om op
sy kop te sit, het hy dit simbolies afgewys. Hierdie handeling het uitstekend
gepas by die boodskap van die lied wat vertel van die konflik tussen man en
vrou as gevolg van die donker of eie-ek in elke mens. Die horings was simbool
van die oorsaak van hierdie konflik. Bono se afwysing van die horings was ook
‘n wonderlike uitnodiging aan die jong meisie om haar ‘donkerte’ te bêre.
U2 het hul
kragtigste vuishou gebêre vir die laaste paar liedere van die vertoning. Hold me, thrill me, kiss me, kill me vertel
die tragiese verhaal van jong mense wat aanbid word as supersterre in die
wêreld, maar wat juis deur hierdie aanbidding om die lewe gebring word. Deur
die hele lied is op die videoskerm die gesigte van o.a. Kurt Cobain van Nirvana (selfmoord), Michael Hutchence
van INXS (selfmoord), Jimmy Hendrix
(dwelms), Janis Joplin (dwelms) en Marilyn Monroe (selfmoord, hoewel onseker)
vertoon. Die lirieke is ‘n skerp aanklag teen mense wat hul helde vereer en
aanbid en uiteindelik daardeur ‘vermoor’: “they want you to be Jesus/they’ll go
down on one knee/but they’ll want their money back/ if you’re alive at thirty-three”.
Hierdie supersterre voel dikwels vasgevang in die ‘tronk’ van heldeverering
waarin hul aanhangers hul toesluit. “You don’t know how you got here/ you just
know you want out” sing hulle oor hierdie dilemma. Bono spot met mense wat so
laag daal deurdat hulle moderne keiserverering beoefen, as hy sy agterstewe
draai na die gehoor wanneer hy die woorde ‘kiss me’ sing. So laag daal mense
dat hulle gewone sterflinge aanbid as gode. Die keuse word aan die gehoor
oorgelaat. Gaan julle hierdie groep ook aanbid totdat julle ook hulle bloed sal
eis?
Die aand is afgesluit
met U2 se toonsetting van Psalm 40
wat gekomponeer is in 1983. Die lied kontrasteer met Staring at the sun se pleitende reël wat sê “God is good but will
He listen?” Saam met Dawid sluit hulle egter
wel die aand af met hierdie lirieke: “I waited patiently on the Lord/ I cried
for Him to hear my cry/ He set me up, my feet upon a rock/ and I will sing a
new song/ how long must we sing this song?/ He lift me up out of the pits/ He
made my footsteps firm/ many will see, many will see and hear/ ‘cause I will
sing, sing a new song/ how long to sing this song.....”. Die koorgedeelte van
hierdie lirieke vanuit die Bybel is vir etlike minute na die groep reeds die
verhoog verlaat het, steeds deur die gehoor gesing.
Die konsert was verby,
die stadion bestrooi met blikkies en gemors. Ja alles kom tot niks. Is U2 ware
Christene? Dis ‘n saak tussen hulle en God. Hul verwysing na die worsteling
tussen Jakob en die engel in Bullet the
blue sky, bevestig vir my hul voortdurende worsteling met vrae rondom God
en geloof. Hierdie stryd is om te
onderskei tussen die leuens van die wêreld en die waarheid van God. “Looking for baby Jesus under the trash” sing
hulle met verwysing na die waarheid wat dikwels verberg word deur die gemors en
leuens van hierdie wêreld. Het U2 ‘n boodskap vir die kerk en die wêreld wat ook
Bybelse beginsels inkorporeer? Ongetwyfeld ja! Maar wat kan ons as Christene
gee aan hierdie helde van baie? Méér as die R170 vir die kaartjie? Méér as die
geld vir hul gewilde cd’s? Méér as maar net luister na hul soeke en vrae? Ja!
As Christene wat dié antwoord, Jesus Christus gevind het, is daar vir ons die
uitdaging: ons helde kort ons voorbidding, nie aanbidding. U2 - ek en baie ander Christene bid vir julle en ook vir hulle wat
nog afgode maak van julle ten spyte van julle boodskap. Voorbidding? Ja!
Waardering vir ‘n Godgegewe talent?
Ja! Maar aanbidding? Nét vir die
lewende God wat ons voete soos dié van Dawid op ‘n stewige rots sit.
5. ‘n Volledige kontekstuele preek met
behulp van Rockmusiek
Tema:
BELYDENISAFLEGGING 1998
Skriflesing: 1 Petrus 3 : 15
Nuwe Vertaling: “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te
gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle
lewe.”
Die Boodskap: ”As iemand julle uitvra oor die
dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel
hulle daarvan. Doen dit
mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig
te wees. Sorg dat
julle altyd doen wat julle weet reg
is.”
Inleiding: (die lied Woorde deur Koos du Plessis word gespeel met die lirieke gedruk in
elke kerkganger se hand of op ‘n skerm of elekroniese bord vertoon)
Woorde
“Goeiemore,
goeiemiddag, goeienaand!
Baie
dankie vir ‘n wonderlike aand.
Veels
geluk en bly te kenne, vat die hand.
Simpatie,
want ek voel saam met jou vanaand.
Dis
alles woorde -
net
leë woorde -
op
vals akkoorde;
en
almal sing dit, almal sing, ja, almal sing dit saam
Alle
sterkte en, onthou, daar’s krag na kruis.
Kom
weer kuier en sê groete by die huis.
Ons
hou almal duim vas. Kom veilig tuis.
Doen
jou plig en eendag sal jy almal wys.
Dis
alles woorde -
net
leë woorde -
op
vals akkoorde;
en
almal sing dit, almal sing, ja, almal sing dit saam.
Vaarwel.
Net
leë woorde,
op
vals akkoorde -
vaarwel.”
(1981).
Ons leef in ‘n tyd van
baie woorde - baie praat en min doen.
Elke dag kom derduisende boodskappe op ons af vanaf die TV, radio,
internet en ons kontak met mense. Meeste van die tyd is die woorde van mense
hol en leë beloftes. Vanaand is daar ‘n groep jongmense wat elkeen persoonlik
deur woorde voor hierdie gemeente hulle geloof in Jesus Christus gaan bely. In
die ou dae het party mense gespot en gesê dis ‘boerematriek’ en dat hulle
vanaand hulle dranklisensie kry. Vir party jongmense was dit seker al wat gebeur
het daardie dag met hulle belydenis van geloof. Hulle sal vandag terugkyk en sê
- dit was leë woorde wat ek gesê het as gevolg van groepsdruk.
Die wêreld soek vandag
mense wat hulle beloftes nakom. Dink maar aan die leë beloftes van politici
regoor die aardbol. In Amerika is daar ‘n gesegde wat sê: “Walk the talk”. In
ons eie land was daar die advertensie wat uitdaag : “Put your money where your
mouth is”. Te veel toesprake, te min dade wat die praat ondersteun. Te veel
preke, te min predikers wat leef en doen wat hulle verkondig. Te veel pa’s en
ma’s wat sê: “Moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê”. Paulus het gepraat
én gedoen. Hy skryf immers “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van
Christus volg”. (1 Korintiërs 11:1)
Vanaand is daar mense
regoor die wêreld wat hulle geloof in iets bely deur woorde en dade. Sommige
bely ongeloof in alles behalwe hulleself soos John Lennon in 1970 met sy lied
getiteld God. Hy sing: “God is a concept by
which we measure our pain/I don't believe in magic/I don't believe in Bible...I
don't believe in Jesus...I don't believe in Buddha/I don't believe in
Mantra...I don't believe in Elvis...I don't believe in Beatles/I just believe
in me/Yoko and me and that's reality” (1979).
Daar’s ander persone wat
die kerk die skuld gee vir hulle wankelende geloof in Jesus. U2 sing in hulle lied If God will send His angels so: “Jesus never let me down
you know/Jesus used to show me the score/then they put Jesus in show
business/now it’s hard to get in the door.” Hulle bely hulle geloof byna soos
die beroemde leier van Indië, Ghandi dit gedoen het toe hy gesê het dat hy lief
is vir Jesus, maar nie vir die Christene nie. Wat baie mense afsit om werklik
hulle geloof in Jesus te bely en Christene te word, is Christene en kerke wat
een ding sê en ‘n ander ding doen. Jesus praat van sulke mense as skynheiliges
en witgepleisterde grafte wat nie werklik sy kinders is nie.
Toe Bob Dylan tot
bekering gekom het in 1974 het hy sy geloof openlik bely voor duisende van sy
aanhangers. Sy boodskap was: “You gonna have to serve somebody....it may be the
devil, or it may be the Lord, but you still gonna have to serve somebody” (Slow train coming:1974). Wat hy eintlik
sê is dat elke mens iemand dien met hulle dade - of vir God, of vir onsself of
vir die duiwel. Die probleem is mense met leë woorde as ‘n geloofsbelydenis en
dade wat nie ooreenstem met hierdie belydenis nie. Mens sien dit so baie dat
dit byna die normale geword het.
Die uitsonderings op die
reël van leë woorde in hierdie wêreld is wonderlik om te sien. Dink aan iemand
soos Cliff Richard of Amy Grant wat as popsangers én Christene getrou hulle
Christenskap uitleef. Dink aan sportmanne en -vroue wat nie net getuig in
tydskrifte nie, maar ook waar hulle speel en leef. Dis presies wat Petrus elke
Christen aanmoedig om te doen in ons teksvers. In vers 14b skryf hy dat ons nie
vir mense moet bang wees of ons laat afskrik nie. Sommige Christene word
geheime agente vir Jesus deurdat hulle so bang is vir wat mense dink, dat
niemand weet hulle is Christene nie. Nie hulle woorde of dade is ‘n getuienis
van die hoop wat in hulle lewe nie.
Petrus kom eis van elke
mens wat sê dat hy of sy ‘n Christen is, om ‘n geloofsbelydenis te gee aan
elkeen wat daarvoor vra. Mense sal net daarvoor vra as hulle die hoop van Jesus
in ‘n wêreld sonder hoop sien in jou lewe.
Die nuustydskrif Time is tans besig met die uitsoek van
die honderd invloedrykste mense die afgelope dekade. Artikels, onderhoude en
besprekings van elke persoon word gepubliseer soos wat hulle lys van honderd
name vorder. As jy een van hierdie honderd name was, wat sou Time oor jou geskryf het. Sou hulle soos
oor John Lennon kon skryf dat jy net in jouself geglo het. Sou hulle soos oor U2 kon skryf dat jy die foute en sonde
van die kerk en sommige Christene blameer het vir jou eie twyfelende
geloof? Sou hulle soos oor Bob Dylan kon
sê dat jy entoesiasties jou geloof bely het, maar later al hoe stiller geword
het omdat jy geloof as ‘n persoonlike saak beskou het? Of sou hulle kon sê dat
jy getrou aan God se Woord die hoop in Jesus Christus gedeel het met almal wat
daarvoor gevra het, soos ‘n Billy Graham?
Vanaand gee julle ‘n
antwoord vir elkeen in hierdie kerkgebou wat meer wil weet oor die hoop in
Jesus Christus. Julle lewe én woorde sal egter in die toekoms wys of julle soos
Paulus sê in Romeine 1:16, nie skaam is vir die evangelie van Jesus Christus
nie.
In die Lubeck Katedraal
in Duitsland is die volgende inskripsie (eie vertaling):
“Julle noem my Meester,
maar gehoorsaam my nie;
die Lig, maar sien my nie;
die Weg, maar volg my nie;
die Alwyse, maar hoor my nie;
Ryk, maar vra my nie;
die Ewige, maar soek my nie;
Vriend, maar vertrou my nie;
Here, maar dien my nie;
die Almagtige, maar eer my nie;
die Regverdige, maar het nie ontsag vir my
nie;
As Ek julle veroordeel, blameer my nie.”
Amen.
6. Slot
In hulle antwoord op
John Lennon se lied God, sing U2 in God part 2 anders as Lennon, dat hulle glo in liefde met ‘n
hoofletter L. Dan onverwags uit die monde van hierdie mees suksesvolle
Rockgroep van die afgelope twee dekades vloei die volgende woorde: “I don’t
believe rock ‘n’ roll can really change the world/as it spins in revolution
spirals and turns/I...I believe in Love” (1987). Die verlossing van die wêreld
en die herlewing van die prediking sal nooit deur iets uit die mens geskied
nie. Verlossing, vernuwing en herlewing is ‘n geskenk uit die hand van God.
Prediking met behulp van allerlei eietydse kultuuruitinge soos Rockmusiek? Ja!
Is dit die oplossing vir leë kerke? Nee! Is relevante en kontekstuele prediking
noodsaaklik? Ongetwyfeld ja! Is dit die wondermiddel wat ons kerke weer sal
laat oorstroom van mense? Nee! Herlewing begin in my hart wanneer ek voor God
kniel en eers uitroep - wees my sondaar genadig - en dan - hier is ek, stuur my
as burger van U koninkryk in hierdie wêreld in met U boodskap op my lippe in
die taal van die hoorders. God praat en wil gehoor én verstaan word. Sal die
klippe en die donkies dit verstaanbaar vir die laat 20ste vroeë 21ste eeu moet
uitroep, of sal daar kunstenaars en predikers wees wat gewillige kanale sal
wees vir die radikale en relevante boodskap van vergifnis, verlossing en nuwe
lewe? Hierdie gewillige manne en vroue van God sal IN die wêreld leef as
burgers van die Koninkryk. Daarom sal hulle saam met Myers tot die volgende
konklusie kom: “It is not in the interest of spreading the gospel that God’s
people be a sequestered group any longer. The great message of the gospel is
intended to go to the ends of the earth. To accomplish that, the people of God
must be found in all cultures, eating and drinking, enjoying music and art, and
making tools with those who do not yet know the gospel” (1989,49).
7. Bibliografie
7.1 Geraadpleegde boeke
Beuchner, F. 1977. Telling the truth - the Gospel as tragedy,
comedy & fairy tale. New York:
HarperCollins.
Bonnhoeffer, D. 1981. Letters and papers from prison............................................................
Du Plessis, K. 1981. Kinders van die wind...............................................
Ellsworth, D.P. 1979. Christian music in contemporary witness:
historical antecedents and contemporary practises. Grand Rapids: Baker Book House.
Fischer, J. 1988. Real Christians (don’t) dance. Minneapolis: Bethany House Publishers.
Fischer, J. 1996. What on earth are we doing - finding our
place as Christians in the world.
Ann Arbor: Servant Publications.
Gaebelein, F.E.
1985. The Christian, the arts and truth: regaining the vision of greatness. Portland: Multnomah Press.
Gire, K.
1996. Windows of the Soul - experiencing God in new ways. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.
Hendriks, H.G.
1988. The 7 Laws of the Teacher.
Atlanta: Walk thru the Bible Ministries.
Heyns, J.A.
1978. Dogmatiek. Pretoria:
N.G.Kerkboekhandel Transvaal.
Jasper, T.
1984. Jesus and the Christian in a pop culture. London: Robert Royce.
Kraft, C.H.
1979. Christianity in Culture. New
York: Orbis Books.
Myers, K.A.
1989. All God’s Children and Blue Suede Shoes. Wheaton: Crossway.
Peters, D & Peters, S. 1986. What about Christian Rock? Minneapolis: Bethany House Publishers.
Turner, S. 1995. Hungry for Heaven: Rock and Roll and the
search for Redemption. London:
Virgin & Kingsway Publications Ltd.
7.2 Tydskrifartikels
Gornik, M. 1987.
Liberating rhythms, Sojourners,
16 (12), 41-43.
Klopper, G. 1998.
The pop Gospel, Sunday Times
Magazine, 8 March, 11-13.
Lang, B. 1990.
Expect diversity and maturity from Gospel in the ‘90s, The CCM update, 4 (8), 1-2.
Mouw, R. 1991.
Preaching Christ or packaging Christ?, Christianity Today, 11 February: 29-32.
Schrag, B.E. 1989.
Becoming bi-musical: the importance and possibilities of missionary
involvement in music, Missiology: An
international review, XVII (3), 311-319.
Sullivan, M. 1987.
‘More popular than Jesus’: The Beatles and the religious far right, Popular Music, 6 (3), 310-326.
7.3 Aanbevole boeke
Celek, T & Zander,
D. 1996.
Inside the soul of a new
generation. Grand Rapids: Zondervan
Publishing House.
Dunphy, E. 1988. Unforgettable
Fire: The story of U2. London:
Penguin Books.
Fischer, J. 1988. True
Believers (don’t) ask why. Minneapolis:
Bethany House Publishers.
Schaeffer, F. 1982. Addicted to mediocrity: 20th Century
Christians and the Arts.
Westchester: Crossway Books.
Short, R.L. 1965. The Gospel according to Peanuts. Richmond: John Knox Press.
Strobel, L. 1993. Inside
the Mind of Unchurched Harry & Mary - How to reach friends and family who
avoid God and the Church . Grand
Rapids: Zondervan Publishing House.
Strobel, L. 1994. What Jesus Would Say - to Rush Limbaugh,
Madonna, Bill Clinton, Michael Jordan, Bart Simpson, Donald Trump, Murphy
Brown, Madalyn Murray O’Hair, Mother Teresa, David Letterman & You. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.
Rock-musiek word hier gebruik as ‘n generiese
term vir alle moderne musiek. Beginsels
wat bespreek sal word in hierdie hoofstuk sal ook toegepas kan word op moderne
klassieke musiek soos filmklankbane, en moderne popmusiek.
Bykans ‘n derde van die wêreld word op die een
of ander wyse met die Christendom in verband gebring, terwyl die moderne
musiekbedryf saam met ander populêre kultuuruitinge een van die grootste
bedrywe in die wêreld is.
Cockburn, B. 1991. “Great big love”, Golden
Mountain Music Corp. Nothing but a burning light. Columbia.
U2.
1997. “Mofo”, Polygram International Music Publishing. Pop. Island Records.
Simon
& Garfunkel. 1989. “The sound of silence”, Gallo Music. Sounds of silence. Gallo GRC.
Cockburn, B. 1976. “Little Seahorse”&”Lord
of the starfields”, Bugle Songs. In
the falling dark. True
North Records
Van der Merwe, K & Geyser, T.
1998. “Statistiek”, MAR Gospel Music Publishers. Proploos.
Maranatha Record Company.
Die CD heet Paradysplagiaat (Maranatha Platemaatskappy 1995).
Die CD heet Us (RealWorld 1992).
Alle liedere deur Eleison is vanaf die Maranatha Platemaatskappy CD Eleison - 1994.
Kombuis,K. 1990. “Boer in beton”, Elke boemelaar se droom.
Browne, J. 1996. “Looking East”, Swallow Turn
Music. Looking East. Elektra.
Vanaf die CD ‘n Handvol vars genade (Brettian 1994).
Vanaf die CD Outeur van die Lewe (Brettian 1995).
Voorheen gepubliseer in ons klyntji: laat-herfs 1998, 9-15)
Vir ‘n uitstekende bespreking van dié
teksgedeelte asook die verhouding tussen die Christen en die wêreld en kultuur,
sien John Fischer se boek What on earth
are we doing - finding our place as Christians in the World. Hy skryf o.a.
dat vers 15 ‘n dialoog veronderstel waarin die Christen eers na die vraag moet
luister. Om ‘n antwoord te kan gee “...we need to be carrying on a constant
dialogue with our faith and culture” (1996).
Lennon, J. 1970. “God”, Northern Songs Ltd. Plastic Ono Band. EMI Records Ltd.
U2.
1997. “If God will send His angels”, PolyGram International Publishing. Pop. Island.