Blancogemeente het op Pinkster-Sondag 23 Mei 2010 die geboorte van die Nuwe Testament Kerk 1983 jaar gelede gevier. Op daardie Sondag in ongeveer 27 na Christus, is die volgelinge van Jesus Christus gevul en getransformeer deur die Heilige Gees. Bang en wegkruipende dissipels het verander in passievolle getuies met Gees-vertroue (anders as self-vertroue)!
Dit was ook die afsluiting van die tweede Pinksterreeks wat ek ooit gelei het. En soos my dominee-Oupa altyd erken het: "Ek preek meeste van die tyd eintlik maar vir myself eerste, en daarna vir die gemeente." Dit was 'n wonderlike ervaring om vir langer is 'n week feitlik net met preek voorbereiding en lewering besig te wees. Interessant ook was die twee identiese eredienste per dag - eerste 10am en daarna 7pm. Die dienste het elke keer egter ietwat verskil - soms 'n ander voorbeeld of bespreking. Hierdie verskille kan te wyte wees aan verskeie moontlikhede: die werking van die Gees; die verskil in atmosfeer in die oggend versus die aand; die energievlakke van die prediker ens. Die grootste groep in die oggende was van die senior lidmate - die mees getroue "erediens-bywoners" in ons gemeente. Wat 'n voorreg om aan die voete te sit van seniors wat die Here voluit dien en die jongeres dra en ondersteun met raad en gebede.
Dis nou 'n paar dae na Pinkster 2010 en ek kyk terug met dankbaarheid oor wat die Here in my gedoen het. Die boek Handelinge is absoluut AMAZING! Die "agter en voor die skerms werk" van die Heilige Gees is so besonders. 'n Paar maal het my binneste uitgeroep: "Here, doen dit tog weer ook in ONS tyd!"
OPSOMMING PINKSTER 2010
Op Sondag 16 Mei 2010 het die Pinkster eredienste begin. Ons het almal met verwondering onthou waar hierdie tradisie in die NG Kerk vandaan kom: die 1860 herlewing wat in Montagu begin het en daarna via Worcester, Paarl en Wellington die res van Suid-Afrika bereik het. Gaan lees gerus die volledige verhaal hier: http://www.jwipn.com/pdf/1860%20Herlewing-Afrikaans.pdf.
Boodskap 1:
Johannes 4 - Jesus en die Samaritaanse vrou. Soveel grense wat Jesus oorsteek! Soveel geduld aan Sy kant! Die Senior Bybelstudie wat ek lei elke Woensdag oggend, het die Bybelstudie "Die vrou by die put - stap saam met Jesus oor grense" hierdie kwartaal gebruik. Daarin kon elkeen in heelwat meer diepte die besondere gebeure ondersoek en bestudeer. My konklusie is dat Jesus met soveel geduld oor die grens uitreik na 'n stukkende, parmantige, beswadderde en soekende vrou. Hy baklei nie met haar nie, maar help haar om al haar verdedigings-lae een vir een uit te trek, totdat sy broos en smagtend na die EWIGE WATER drink uit God se fontein. En sommer die HELE dorp ook bring na Jesus toe!
“At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. “She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” Ephraem, die Siriese kommentator
More kyk ek terug na die week se preke.
KYRIE ELEISON ... SOLI DEO GLORIA
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking